Afrikadag-lesing: Kan skole ’n inklusiewe Afrika-identiteit bou?

  • 2

Wilken Calitz, Devonecia Swarts, Nico Koopman, Pumla Gobodo-Madikizela, Wim de Villiers en Jonathan Jansen. Foto: Verskaf.

Die US se eerste Afrikadag-lesing deur Professor Jonathan Jansen

"Kan skole ’n inklusiewe Afrika-identiteit bou? Op die spoor van veranderings in die rassedemografie van skole sedert 1994."

Jonathan Jansen het meer universiteitsgrade as wat mens op twee hande kan tel, tog vertel hy stories op ’n manier dat jy eintlik voel of jy langs ’n kampvuur moet sit met ’n dop in jou hand. Maar sý smeulende hardekool is ’n podium en net sodra jy begin ontspan, gooi hy vet op die vuur met feite oor die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

Twee dae voor Jansen se lesing kry ek ’n oproep van die effens gespanne organiseerder van die aangeleentheid en hy vra of ek nie "asseblief, asseblief!" musiek kan maak by ’n funksie nie. Jonathan Jansen gaan praat oor iets en daar is baie “smart” akademici en sorrie dis so laat kennisgewing maar bring jou kitaar en ons oefen môre en by the way, prof Jansen gaan iets op die klavier speel saam met julle ná die tyd.

Sure, sê ek. Die cameo-optrede van die professor was sekerlik ’n grap.

Tien minute voor die lesing begin, oefen ek en die sangeres gou vir ’n laaste keer en neem ons sitplekke in. Die gehoor, meestal akademici, drentel die saal binne. Dié spesie loop stadiger as “gewone” mense. Al pratende en dinkende en hande wat verduidelik wat sy/haar opinie is oor dit en dat. Maar vergeef mens hul oudmodiese kleredrag en jy spits jou ore, is jy verseker van doepa vir jou grysstof.

Na ’n staaltjie of twee gooi hy die eerste stuk vet tussen die vlamme. Die probleem met die verdeeldheid wat tans in skole en universiteite heers, sê hy, is nie die studente en kinders se skuld nie.

"The problem is you guys, the parents. 83% of you are sitting next to someone who looks like you." Ek sit gelukkig langs die klankman. Sy hare is gekam en sy hemp is gestryk. Veilig. "I am sure you are going to tell me that you are not a racist. You reflect, even unconsciously, choices by race. So how the hell must your kids suddenly become these wonderful non-racial, inter-racial citizens. It doesn't work like that."

As rektor van die Universiteit van die Vrystaat het hy dit eerstehands ervaar. Studente was nooit seker hoe om hom aan te spreek nie, spesifiek diegene wat van plase af kom en swart mense net as plaaswerkers ken – hul enigste verwysingsraamwerk. “Meneer” is moeilik vir hulle; “oom” is dalk makliker; “professor” is ondenkbaar. Een van die studente laat waai toe met "oom Professor". Maar dit is juis die probleem, sê hy. Navorsing oor die redes waarom tradisioneel swart en wit skole nie integreer nie, is tweevoudig. Eerstens is die geografiese ligging van skole en gemeenskappe, bepaal deur apartheidswette, bepalend vir waarheen jy jou kind stuur. Wit kinders in die suidelike voorstede van Kaapstad gaan na Westerford of Sacs toe. Swart kinders word na nabye skole gestuur weens koste en veiligheidsrisiko's wat openbare vervoer inhou. Die navorsing van oa Servaas van der Bergh, verbonde aan die US, dui verder op die kognitiewe agterstand van kinders in skole van mindergegoede gebiede. Wit skole bly wit weens die beskikbaarheid van regshulp en geld.

Statistieke oor skole waar daar wel integrasie plaasvind, som die stand van sake op: sodra die 30%-kerf oorgesteek word van swart kinders in ’n voormalige model-C skool, begin die uittog van wit kinders. Op hierdie manier wissel die skoolgebou bloot hande van een kultuurgroep na ’n ander.

Oplossings vir hierdie probleem lê nie noodwendig altyd by die skole nie. Daar is geweldig baie druk op skole in Suid-Afrika weens die onstabiele en negatiewe politieke atmosfeer in die land. "The moment Julius Malema stirs racial hatred with land reform – and we need land reform; don't get me wrong – but when the terms of such a debate get everybody's racial nerves disturbed, then you have that tension in the classroom." Die Ashwin Willemse-sage tel ook vir hierdie spanning.

Jansen is nie optimisties oor ’n oplossing nie. "The government doesn't care about the education of poor people." Wit skole bly wit en swart skole bly swart. Geld en mag is die groot rede. "Micro-aggressions" is steeds deel van ons samelewing en die idee dat integrasie slegs deur gedwonge "social contact" in skole kan plaasvind, is ’n afgrond wat vermy moet word.

Die lesing kom tot ’n einde, en terwyl ek my kitaar stem om die sangeres te begelei vir “Pata, pata” en “Battle hymn of the Republic”, onthou ek skielik van die dag toe ek die woord “rassis” vir die eerste keer gehoor het. Twee en twintig jaar gelede sit ek langs ’n swart ou (altviolis) in ’n bus op pad Zimbabwe toe vir ’n paar konserte saam met die skoolorkes. Hy sê hy moet soggens halfses ’n taxi vang om betyds te wees vir skool. Hoekom het hulle nie ’n kar nie en hoekom bly hulle in Soweto, wou ek weet. Voor hy kon antwoord, pluk ’n wit ou (tromboonspeler) my aan die kraag en sleep my na die agterkant van die bus. Die eerste vuishou tref my in die maag en die tweede een teen my ken. "That was racist, bru," is al wat hy sê.

Die gehoor se handegeklap ruk my uit die skoolbus uit en prof Jansen neem stelling voor die klavier in. Sonder ’n woord begin hy “Somewhere over the rainbow” speel. Ek en die sangeres val in.

Ons het nog nooit saam gespeel nie, maar op een of ander manier vind ons mekaar tussen vreemde jazz-akkoorde in skewe ritmes. Vir daardie oomblik is daar tussen ons suiwer harmonie.

  • 2

Kommentaar

  • ... en so kan ons almal net bid vir 'n "rainbow" en God se genade oor hierdie pragtige land van ons!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top