Afrikaanse universiteit is haalbaar, sê Solidariteit

  • 2

Die Solidariteit Beweging se planne om ’n volwaardige Afrikaanse universiteit op die been te bring, lok wye reaksie uit. Sommige beskou Akademia wat vernoem is na die eerste universiteit in antieke Griekeland as ’n pypdroom. Die uitvoerende hoof van Solidariteit, Flip Buys, sê egter hy werk met werklikhede, nie met wense nie. Jean Oosthuizen het met hom gesels oor sy langtermyndroom vir ’n Afrikaanse “Harvard”. Die argitekte van dié nuwe universiteit sê dit het niks te doen met neo-apartheid nie. Dit is toeganklik vir mense van alle rasse wat in Afrikaans wil studeer en daarom is hulle nie bekommerd oor dreigemente dat die regering dit nie sal toelaat nie.

Sedert Solidariteit Akademia as 'n nuwe Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit bekend gestel het, gons dit landwyd oor dié nuwe instelling. Waar kom die gedagte vandaan? en vertel ons meer van julle planne.

Die Solidariteit Beweging sien homself as ’n moderne Helpmekaar-beweging van Afrikaanse gemeenskapsorganisasies. Ons is ’n federasie van Afrikaanse werknemer-, maatskaplike, taal- en kultuur-, burgerregte-, media- en opleidingsinstellings wat glo dat ’n gemeenskap verantwoordelikheid vir homself moet aanvaar en nie net staatsafhanklik kan wees of vir die toekoms moet sit en wag nie.

Ons het reeds in 2002 onder meer ’n langtermynsiening ontwikkel dat Afrikaans en toegang vir Afrikaanssprekendes tot universiteitsopleiding algaande meer beperk gaan word. In Suid-Afrika vertel die statistieke die storie. Van die meer as 500 000 matrikulante wat jaarliks vir die finale skooleksamen inskryf, slaag ongeveer 350 000 en kwalifiseer dus om verder te gaan studeer.

Flip Buys
Jean Oosthuizen

Voldoen die bestaande instellings dan nie aan die behoefte vir diegene wat verder wil studeer nie?

Die bestaande openbare hoëronderwysinstellings kan slegs ongeveer 150 000 nuwe studente jaarliks akkommodeer. Dit beteken dat daar bykans 200 000 skoolverlaters is wat jaarliks nie toegang tot hoër onderwys kry nie, maar wel daarvoor kwalifiseer en moontlik die verwagting koester om toegang te kry.

Die staat is in ’n stryd gewikkel om so vinnig moontlik kapasiteit te skep om meer studente te kan akkommodeer. Die effek hiervan is dat daar baie druk op voormalige Afrikaanse instellings is om Engels as voertaal aan te neem en die Afrikaanse hoëronderwysaanbod het gedurende die afgelope 15 jaar drasties gekrimp. Daarom het ons op ’n tweebeenstrategie besluit.

Eerstens wil ons help om die bestaande ruimtes vir Afrikaans en toegang vir Afrikaanssprekende studente by die openbare universiteite te bevorder. Tweedens het ons met ondersoeke na privaat universiteitsopleiding begin. In Suid-Afrika mag privaat hoëronderwysinstellings tans nie die term “universiteit” gebruik nie. In 2004 het ons aandele in ’n privaat instelling gekoop om die bedryf te leer ken, en in 2010 is ’n voltydse kernspan getaak om Akademia te begin – vernoem na die eerste universiteit in antieke Griekeland.

Ná ’n uitgebreide ondersoek plaaslik en in die buiteland, is op ’n telematiese videokonferensiemodel besluit, aangevul met begeleide en e-leerstelsels. Akademia is deur die Hoëronderwys-kwaliteitskomitee van die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer. Dit is die statutêre akkreditasieliggaam wat alle hoëronderwysprogramme en -instellings in Suid-Afrika akkrediteer. Die eerste studente is in 2012 ingeneem, en ná drie jaar het ons in 2014 die jaar met 160 studente en sewe landswye studiesentrums afgesluit. Hierdie sentrums waar studente klasloop, is in Somerset-Wes, Bellville, Pretoria, Centurion, aan die Oos-Rand en aan die Wes-Rand en in die Vaaldriehoek.

Watter vakrigtings bied Akademia tans aan en wat is die toekomsplanne?

Benewens die bestaande BCom-graad in ondernemingsbestuur gaan Akademia in 2015 ook ’n BCom-graad in bestuursrekenkunde aanbied. Die instelling gaan voort om verskeie diplomas en hoër sertifikate aan te bied. Daar word tans gewerk aan die aanbod van verskeie ander kwalifikasies asook nagraadse diplomas. Die graadkursusse sluit in ’n graad in verpleegkunde en ’n BCom-graad in regte. Ons mikpunt is om in 2015 400 studente te hê.

Ons is tans besig om ’n nuwe geboukompleks vir Akademia aan te koop. Voorts beplan ons om volgende jaar met navorsing vir en die ontwikkeling van nog grade te begin en om ondersoek in te stel na die opening van bykomende studiesentrums. Dan beplan ons ook om met bestaande universiteite saam te werk en ons gaan ook met buitelandse skakeling begin. Daarbenewens het ons aangebied om, waar daar so ’n behoefte bestaan, te help met die vestiging van instellings waar die onderrig in van die ander inheemse tale plaasvind.

Praat ons net van afstandsonderrig of voorsien julle dat Akademia later ook ’n residensiële universiteit kan word?

’n Span kundiges ondersoek reeds die moontlikheid om binne enkele jare ook aan ’n residensiële behoefte te voorsien.

Dit lyk of die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, ’n stokkie voor julle planne wil steek. Hoe bekommerd is jy oor sy uitlatings dat ’n enkelmedium Afrikaanse universiteit onaanvaarbaar is omdat dit volgens hom te eksklusief is en sekere studente uitsluit?

Ons is nie bekommerd oor die minister se stellings nie omdat ons oop is vir almal wat in Afrikaans wil studeer. Akademia se taalbeleid voldoen aan alle tersaaklike grondwetlike en departementele vereistes en ons jaarlikse verslae word by die departement ingedien en aanvaar. Daar is geen ondersoek na Akademia of ’n proses om ons registrasie terug te trek nie. Ons handhaaf goeie betrekkinge met die departement en voorsien geen probleme op die pad vorentoe nie. Ons het ons huiswerk vooraf gedoen en senior regslui soos onder andere prof Marinus Wiechers is dit met ons eens dat ope Afrikaanse instellings nie eksklusief is nie – daar is immers baie enkelmedium- Engelse instellings.

Blade Nzimande

Die politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), Theo Venter, het volgens mediaberigte gesê as jy slim is, sal jy nie met Nzimande ’n geveg aanknoop nie. Is julle nie bekommerd dat julle dalk meer afbyt as wat julle kan kou nie?

Ons het nie ’n “geveg” met die minister aangeknoop nie; hy het bloot skerp gereageer op ’n vraag van ’n joernalis oor wat sy beleid sou wees as Akademia mense sou uitsluit. Ons gaan uit ons pad om te sorg dat ons aan alle vereistes voldoen en om ’n goeie werksverhouding met alle rolspelers te hê. Ons sal ons egter nie laat boelie nie, en indien nodig, sal ons ons grondwetlike regte verdedig. Ek glo egter nie dat dit nodig sal wees nie omdat daar geen gronde daarvoor bestaan nie.

Die koste van hoër onderwys is enorm, veral wanneer dit kom by die opleiding van dokters en ingenieurs. Hoe haalbaar is dit regtig om van ’n Afrikaanse “Harvard” te droom, gegewe die praktiese realiteite?

Dit is so dat koste ’n probleem is omdat universiteitsopleiding duur is. Die finansiële hoof van ons beweging het al gespot dat ons ’n soort Afrikaanse staatsdiens word sonder die gepaardgaande belastinginkomste! Daar is ongelukkig nie ’n alternatief nie; privatisering is die toekoms, net soos in die geval van privaat mediese dienste en hospitale.

Die droom van ’n Afrikaanse “Harvard” is ’n langtermynvisie – ek besef dit verg dekades om ’n wêreldklasinstelling te bou. Daarom het ons kort-, medium- en langtermynplanne, en het ons ook in die buiteland gaan kers opsteek om te sien hoe privaat instellings gefinansier en bedryf word. Ons weet ons kan nie alleen die verantwoordelikheid neem vir so ’n groot projek nie – dit is immers tot voordeel van die hele Afrikaanse gemeenskap.

Ons het dit net begin omdat dit nodig is en niemand anders daarvoor kans gesien het nie. Ons begin egter wesenlike ondersteuning kry van verskeie professionele groepe wat betrokke wil raak en dit sluit sakelui, akademici, medici en ingenieurs in. Hoewel dit nog ’n ruk gaan neem om hierdie steun in werkbare modelle te omskep, is dit bemoedigend om te sien hoeveel energie besig is om los te kom. Onthou, niks word groot gebore nie; almal begin klein.

Waar sal die geld vandaan kom, want dit is hoog onwaarskynlik dat julle enige hulp van die staat sal kry?

Die Solidariteit Beweging belê jaarliks miljoene in Akademia omdat dit nodig is vir die toekoms van Afrikaans, vir die volgende geslag Afrikaanssprekendes en vir die land.

Ons doen dit met dieselfde “helpmekaar”-resep as waarmee ons voorouers universiteite opgerig het. Ons het daardie resepte bloot gemoderniseer. Ons strategie is eerstens om van “kleingeld” “groot geld” te maak deur 15% van elke lid se ledegeld van sowat R100 per maand vir opleiding te gebruik.

Tweedens mobiliseer ons Afrikaanse koopkrag deur byvoorbeeld groepskemas vir korttermynversekering, wat ná tien jaar se opbou al wesenlike bedrae oplewer. Die Virseker-korttermynskema van Auto & General skenk deur die Virseker Trust ook reeds etlike miljoene vir Afrikaanse opleiding.

Derdens werf ons fondse by ondersteuners van Afrikaanse opleiding en ons is dankbaar dat ons reeds ’n hele aantal groot skenkings en testamentêre bemakings ontvang het.

Vierdens dra ons beweging se sakebeen ook ruimskoots tot die projek by.

Vyfdens is daar professionele mense en sakelui wat vennootskappe met ons wil aangaan om gegradueerdes vir hul betrokke beroepsrigtings op te lei en wat self tot die koste bydra.

Laastens voorsien ons dat Akademia binnekort ’n wins gaan begin toon, wat ons weer gaan terugploeg. Onthou dat ons model op die voorpunt van tegnologie staan en goedkoper as die tradisionele modelle is.

Sal dit nie maar net die rykes wees wat kan bekostig om daar te studeer nie en is die meeste van hulle nie in elk geval gemaklik daarmee om aan bestaande universiteite te studeer nie?

Akademia se studiekoste is wesenlik goedkoper as dié van ander universiteite, juis om dit meer toeganklik te maak.

Daarbenewens bied Solidariteit Helpende Hand jaarliks studiehulp in die vorm van rentevrye lenings en beurse aan ’n duisend studente. Hierdie skemas word tans drasties uitgebrei sodat ons binne vier jaar 4 000 studente per jaar sal kan help.

Dit word moontlik gemaak danksy donateurs, bemakings, maandelikse bydraes deur elke Solidariteit-lid en duisende ondersteuners wat maandeliks gereelde skenkings maak. Dit is ’n enorme helpmekaar-projek-in-aksie!

Ons droom is: Almal wat wil, moet kan studeer. En ons gaan dit regkry. Namate Akademia groei en die toegang vir Afrikaanssprekendes elders weens transformasiekwotas al minder word, sal ons al vinniger groei.

Dit was seker te wagte om kritiek van mense soos Blade Nzimande te hoor. Daar is egter ook negatiewe geluide uit sommige konserwatiewe Afrikanergeledere. Jy het jou frustrasie hieroor op die sosiale media uitgespreek en gesê jy het nie meer tyd om verregse of goedgelowige drome te lees nie. Na wie het jy verwys en watter praktiese raad het jy aan Afrikaanse mense in die land wat ’n verskil wil maak?

Ons is gewoond aan kritiek vanaf albei uiterstes van die politieke spektrum. Die een groep wil eerder hê ons moet die ou histories Afrikaanse universiteite op die een of ander manier “terugvat”, en die ander groep glo ewe naïef dat daar altyd plek vir Afrikaanse studente by die bestaande universiteite sal wees – al is dit moontlik nie meer in Afrikaans nie.

Taal en toegang loop egter saam. Sommige voorstanders van transformasie wil nie net minder Afrikaans op kampus hoor nie, hulle wil veral minder Afrikaners op kampus sien! Hiermee verwys ek na die rasseteikens volgens die bevolkingsyfers wat nou die “nasionale norm” word. Dieselfde mense wat ons nou aanval, het ons ook aangeval toe ons jare gelede al gesê het die halsoorkop-transformasie by Eskom gaan nog tot groot probleme lei.

Ek werk met werklikhede, nie met wense nie. Dit is bloot irriterend dat ons grootste kritici self niks doen nie maar ons luidkeels kritiseer as ons iets doen. My raad is: doen wat jy kan met dit wat jy het waar jy is. Ons beweging het nou reeds in totaal 270 000 lede wat saamspan om ’n verskil te maak.

Akademia is ’n Afrikaanse instelling vir enige persoon wat hoër opleiding van gehalte in Afrikaans wil doen. Kan jy met oortuiging sê bruin en swart studente wat in Afrikaans wil studeer, is welkom en dat dit nie maar net ’n poging is om neo-apartheid te bevorder nie?

Ja. Ons het reeds in die Wes-Kaap twee sentrums om makliker toegang vir meer bruin studente te gee en bied ook beurse vir hulle aan. Ons wil ook graag sentrums in die Noord-Kaap open sodra ons oor die vermoë beskik om dit te doen.

Wat sal gebeur as ’n Engelssprekende student toegang tot die universiteit wil hê?

Dieselfde as ’n Afrikaanssprekende student wat aan ’n Engelssprekende universiteit wil studeer – die student sal toelating kry as hy of sy ons taalbeleid aanvaar. Ons doel is nie om nie-Afrikaanse studente van hoër onderwys uit te sluit nie, maar om seker te maak Afrikaanse studente word ook ingesluit.

Theo Venter

Theo Venter sê Solidariteit noem Nzimande se beleid ’n ras-ideologie, terwyl Solidariteit volgens hom self ’n taal-ideologie volg. Is Akademia nie dalk meer geskoei op ideologie as op werklikheid nie?

Die debat oor moedertaalonderwys is verby. Suid-Afrika is die nuutste bewys van wat die gevolge van tweedetaalonderrig is. Die uitkoms van die beleid van rassetransformasie vir toegang tot hoër onderwys vir Afrikaanssprekendes is ook reeds duidelik.

Die rede hoekom die helfte van die studente op die Potchefstroomkampus van buite die provinsie kom, is juis omdat hulle daar nog toegang tot Afrikaanse opleiding het en ’n Afrikaanse studentelewe kan geniet. In die hele Gauteng, waar die helfte van Afrikaansprekendes met universiteitstoelating bly, is daar nie meer ’n universiteit met Afrikaans as voertaal nie.

Mnr Venter se vooroordeel teen Akademia spruit waarskynlik daaruit dat hy in Potchefstroom tot dusver nog verskans was teen die gevolge van die transformasiebeleid wat hy nou voorstaan. Die beste voorbeeld van die uiteinde van die beleid van rasse-“verteenwoordigendheid” is die afname van wit studente van sowat 70% tot 5% binne ’n dekade by beide die voormalige tegniese kolleges en tegniese universiteite.

Min of meer dieselfde het met die oorskakeling van RAU na UJ gebeur. Taal, transformasie en toegang gaan hand aan hand. Nog nie een universiteit het Afrikaans amptelik afgeskaf nie. Nadat rassetransformasie deurgevoer is, is Afrikaans net nie meer prakties nie, en uiteindelik is Afrikaanse studente se toegang ook aan bande gelê. Daarmee gepaardgaande sal die transformasie van die akademiese personeel ook ’n dramatiese impak op die loopbaangeleenthede van Afrikaanse dosente hê.

Behalwe talle enkelmedium (spesifiek Afrikaanse) private oftewel onafhanklike skole, bestaan daar benewens Akademia reeds vir geruime tyd ook enkelmedium Afrikaanse hoër onderwysinstellings. Waarom is daar soveel teenkanting teen ’n enkeltalige Afrikaanse universiteit?

Waarskynlik vanweë ideologiese eerder as opvoedkundige redes. Hou egter ook maar die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Pierre Vanderberghe, se stelling in gedagte: “As jy so gelukkig is dat jou kieserskorps ’n demografiese meerderheid is, kan rassisme maklik gekamoefleer word as demokrasie.”

Julle het ook ’n tegniese kollege, Sol-Tech. Watter soort kursusse word daar aangebied en hoe gaan dit met die instelling?

Sol-Tech is al ’n goed gevestigde tegniese kollege wat reeds agt jaar lank bestaan. Sol-Tech is gebou met die R10-bydraes van ons lede – omtrent R40 miljoen rand se tienrande! Daar is sowat ’n duisend studente, wat ons nie net die enigste Afrikaanse kollege in die land maak nie maar ook een van die grootste kolleges in die land. Ons slaagsyfer is goed bo 90%, en ons bied kursusse in sewe ambagte aan, wat wissel vanaf opleiding van instrumentmakers, elektrisiëns tot dieselwerktuigkundiges en passers-en-draaiers. Ons aanbod sluit ook kursusse in megatronika in. Ons studente is uiters gesog in die mark en kry vinnig werk. Baie mense was eens skepties, maar Sol-Tech word vandag as een van die topkolleges in die land gesien.

Die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur het oor die jare so verweef geraak dat dit problematies is vir baie Afrikaanssprekende bruin mense. Het Afrikaans nie reeds te veel van ’n ideologiese smaak gekry nie en hoe raak mens daarvan ontslae?

Jy klink nou soos Churchill wat gesê het: “Britain and the United States are two great nations, divided by one common language!” Afrikaans is een taal met baie kulture, en ons probeer onderlinge erkenning en respek bevorder. Dít waaroor ons verskil, hoef ons nie te verdeel nie. Ons moet eerder fokus op dít waaroor ons saamstem; ons moet uitreik en mekaar help waar ons kan. So byvoorbeeld staan ons bruin werknemers by in hul hofsaak teen die departement van korrektiewe dienste.

Hoe optimisties is jy regtig oor die toekoms van die land en Afrikaans as jy so na die huidige stand van sake kyk? Is ons nie maar besig om net die dekstoele op die Titanic rond te skuif wat Afrikaans betref nie?

Gemeet aan aanwysers soos persoonlike veiligheid, infrastruktuur (byvoorbeeld elektrisiteit), die doeltreffendheid van die staatsdiens en die gehalte van regering, is Suid-Afrika ’n verswakkende staat. Ons is egter nog ver van staatsverval af. Ons het nog ’n sterk privaat sektor, onafhanklike media, ’n onafhanklike regbank en ’n lewendige burgerlike samelewing.

Mense moet net leer om minder afhanklik van die staat te wees en meer selfstandig te raak deur die gemeenskapsektor te versterk en so self verantwoordelikheid te neem. Dan hoef jy nie moedeloos te sit en wag vir die toekoms nie. Die toekoms word bepaal deur wat ons vandag doen. Kies die toekoms wat jy wil hê en werk saam met ander om dit te verwerklik.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top