Afrikaanse Taalraad vergader oor inklusiewe, diverse pad vorentoe

  • 1

David Jantjies (bestuurder van die ATR en SAOOT se Moedertaalprojek), Ezra Plaatjies (KSUT-student en deeltydse ATR-jeugfasiliteerder) en Samuel Minnaar (US-student en deeltydse ATR-jeugfasiliteerder) het die ATR se jaarvergadering bygewoon (foto: Izak de Vries).

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) se algemene jaarvergadering, wat op Saterdag 25 Augustus in die Paarl gehou is, is een van die gebeurtenisse wat dié organisasie se eerste dekade oormerk. In hierdie eerste tien jaar het die ATR toenemend klem geplaas op inklusiwiteit en relevansie, en die nodigheid van voortgesette optrede rakende hierdie twee kerndoelwitte is gedurende die jaarvergadering herbeklemtoon.

“Die ATR het die afgelope tien jaar sterk voorbrand vir Afrikaans oor alle (en verbeelde) grense heen gemaak en ’n reputasie gevestig as ’n organisasie wat doelgerig uitreik na al die sprekers van die taal, en die variëteit wat hulle praat,” sê Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR. “Die groeiende mate van samehorigheid van die sprekers het dit vir die ATR moontlik gemaak om aktief by taalbeleid betrokke te raak en om Afrikaans effektief in ’n meertalige verband te bevorder.”

Japie Gouws, voorsitter van die ATR, en Astrid de Vos, uitvoerende hoof van die Dagbreektrust (foto: Anne-Marie Beukes)

Japie Gouws, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, beskou die ATR as die mees verteenwoordigende Afrikaanse taalorganisasie in terme van ras, geslag, geografie en die variëteite van die taal. “Maar ons wil nog beter doen en sal ons diversiteit en die uiteenlopende spektrum van idees wat reeds in die ATR uitgebou word in die loop van die jaar aansienlik uitbrei,” sê hy.

Astrid de Vos (Dagbreek Trust), Dirk Brandt (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans/SBA), Michael le Cordeur (SBA) en Niel le Roux (SBA) gesels by die ATR se jaarvergadering. Agter hulle staan Willie Liebenberg (Rapportryersbeweging) en Priscilla Evert, waarnemende sekretaris van die ATR (foto: Izak de Vries)

Die ATR loods dus ’n werwingsveldtog wat veral kunstefeeste en gemeenskapsorganisasies se betrokkenheid by die organisasie wil verhoog. “Ons het selfs ’n meganisme geskep waarvolgens veral gemeenskapsorganisasies wat om finansiële redes sukkel om deel te neem, gehelp kan word,” sê Gouws.

“Dis belangrik dat baie meer stemme van voetsoolvlak af in debatte oor taal gehoor word, veral dié van die jeug,” sê Fatima Allie, ondervoorsitter van die ATR. “Sonder die jeug het ons taal nie ’n toekoms nie. Die taal moet tussen generasies oorgedra word.”

Sinki Mlambo (ATR-direksielid), Morné Janson van die SAOU en Karien Brits (ATKV en nuwe ATR-direksielid) in gesellige luim by die ATR se algemene jaarvergadering. (Foto: Izak de Vries)

“Die Afrikaanse Taalraad sal dus voortgaan om moedertaalonderrig op gemeenskapsvlak te bevorder, om die ATR se suksesvolle jeugberade uit te brei en om studenteorganisasies by universiteite en kolleges te ondersteun,” sê Ria Olivier, programbestuurder van die ATR. Die organisasie sal veral aandag gee aan ’n inisiatief om meertaligheid en moedertaalonderrig in vennootskap met die ander inheemse tale van die land te bevorder. “Afrikaanse moedertaalonderrig kan nie in isolasie bevorder word nie, maar moet saam met die ander inheemse tale uitgebou word.”

Anne-Marie Beukes van die Universiteit van Johannesburg se taalkundedepartement (en ’n ATR-direksielid) en Jeremy Vearey, genooide spreker en skrywer (foto: Anne-Marie Beukes)

Steenkamp sê dat die waarde van moedertaalonderrig vir mense in veral arm en gemarginaliseerde gemeenskappe onderskat word en onvoldoende erkenning ontvang. “’n Mens kry soms die gevoel dat die Afrikaansdebat by sommige instellings beperk word tot middelklasbelange, tot mense wat Engels goed magtig is en vir wie dit soms min kan skeel of ’n instansie verengels of nie. Pleks daarvan dat Afrikaans en die ander inheemse tale van die land as struikelblokke beskou word, moet hulle aktief bevorder word as hulpbronne vir die ontwikkeling van arm en gemarginaliseerde gemeenskappe. Dis hulle belange wat in ag geneem moet word wanneer op die taalbeleid van instellings besluit word.”

Ná ’n dekade van harde werk en die bevordering van taal as ’n hulpbron, werk die ATR steeds aan versoening tussen die sprekers van Afrikaans. Baie is vermag deur erkenning te gee aan die uiteenlopende gesigte en klanke van Afrikaans en ’n sterk basis is gelê vir gesamentlike gesprekke oor taal en taalbeleid. “Nietemin moet ’n mens telkens terugkeer na gesprekke oor versoening. Dalk sal ons kleinkinders dit nie meer nodig hê nie, maar tot dan beur ons voort,” sê Olivier. “Dieselfde geld vir die bou van ’n vertrouensverhouding met die ander inheemse tale van die land.”

 

  • 1

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    Vearey is van huis uit 'n Kaapsspreker, maar het 'n Engelsonderwyser geword. In sy boek skryf hy: "Ek het die wêreld buite Elsiesrivier in suiwer Engels asook in Elsies-spreektaal verken" (Kindle 290). Albei sinne dui daarop dat hy voorkeur aan Engels bo Afrikaans gee, of ten minste meer respek vir Engels as Afrikaans het. Behoort die ATR nie eerder sprekers te nooi wat onmiskenbaar lojaal jeens Afrikaans is nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top