Afrikaanse Taalraad op pad in Suid-Afrika

  • 0

As deel van sy program Ontmoet gemeenskappe rondom Afrikaans lê ’n afvaardiging van die Afrikaanse Taalraad (ATR) eerskomende Woensdag (18 Julie) besoek af aan Atlantis.  Die afvaardiging staan onder leiding van die voorsitter, dr Michael le Cordeur.  Die besoekprogram sluit besoeke in aan vier skole in Atlantis, ’n opleidingsprogram in voorskoolse onderrig; ’n lesing oor moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig en ’n voorligtingsessie vir prinsipale en lede van skoolbeheerliggame.  ’n Ontmoeting met die ouergemeenskap is ook deel van die program.

Lede-organisasies van die ATR wat by die aksie betrokke is, is die Vriende van Afrikaans, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans en FEDSAS.  Die program skop Woensdagoggend om 8 uur af by die Parkview Primêre Skool waar die hoof, mnr. Waldy Kastoor, die ATR sal verwekom. Mnr Kastoor is eweneens ’n direksielid van die ATR.

Die ATR het verlede jaar met sy ontmoetingsprogramme begin en onder meer Genadendal en George besoek.  Die George-aksie het gelei tot ’n multikulturele kunsfees op klein skaal wat vanjaar op 15 Augustus op inisiatief van die ATR-direksie herhaal word.  Vroeër vanjaar was ATR-direksielede op ’n dagbesoek in Port Elizabeth waar onderwys in Afrikaans en moedertaalonderrig eweneens aan die orde was.  Die ATR het vanjaar op groot skaal pamflette oor moedertaalonderrig deur middel van sy lede-organisasies versprei. 

Verdere besoeke word nog beplan aan gemeenskappe in en rondom Kimberley en Upington.  Die ATR se jaarvergadering in Pretoria (26 en 27 Oktober) sal onder meer gewy word aan die nasionale taal- en onderwysproblematiek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top