Afrikaanse Taalraad in gesprek met buitelandse LP’s

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) word vermeld in die artikel van Leopold Scholtz (21 Januarie 2012) in Beeld en Die Burger.  Die titel van die artikel in Beeld is “Taalfrustrasie in die Lae Lande”.  In die artikel skryf Scholtz as volg:

“Die verteenwoordigers van die Afrikaanse Taalraad en Solidariteit, word verneem, gaan spoedig ook met gesprekke met Nederlandse en Belgies/Vlaamse LP’s begin om hulle in te lig oor die druk wat ANC op Afrikaans plaas.  Hulle het juis vandeesweek ’n memorandum daaroor en oor plaasmoorde aan LP’s gestuur.”

Die ATR-bestuur het die Scholtz-artikel by sy vergadering van 23 Januarie 2012 bespreek en konstateer onomwonde dat so ’n gesprek met Nederlandse en Belgies/Vlaamse LP’s nie beplan word nie.  Die ATR het geen memorandum oor enige druk wat die ANC op Afrikaans sou plaas, opgestel of uitgestuur nie.  Die ATR het ook nie ’n memorandum oor plaasmoorde opgestel nie.  Verwysings hierna in Scholtz se artikel is nie korrek nie.

Die ATR en ander van sy lede-organisasies kon met oorgawe deelneem aan die onlangse Talewetsontwerpgesprekke voor die Portefeuljekomitee Kuns en Kultuur in die nasionale parlement in Kaapstad.  Die welwillendheid teenoor Afrikaans was opmerklik en die interaksie was besonder positief.  Die verwysing van die Nederlands, Belgies/Vlaamse en Europese parlementariërs na die “ANC se aktiewe verwaarlosing van Afrikaans” is vir die ATR nie op feite gegrond nie.  Die ATR, soos talle Afrikaanse organisasies, voer openlik gesprek met die ANC oor Afrikaans en kon in 2011 die ANC in Luthuli-huis besoek in verband met die kwessies oor Afrikaans wat van kernbelang is vir die ATR.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top