Afrikaanse taalontwikkeling

  • 0

Ek betrag die gesprekke en redekawelry en bêkgevegte en skêlkompetisies al vir ’n hele paar jaar en ek merk heeltyd ’n ding op wat sekerlik ’n naam moet hê.

Die ding wat ek sien is soos ’n oorlog waar die "vegters" eintlik veilig is, hulle kan oppak en loop wanneer hulle wil. Hulle kan later terugkom ook, gewoonlik nadat hulle eers ’n paar vars beledigings loop uitdink het.

Die gesprekke begin nogal gereeld met ’n bespreekbare onderwerp, maar sommer gou-gou word dit ’n uitruil van beledigings. Die enigste rede hoekom die "gesprekke" aangaan is ego’s. En die enigste teikens in die oorloggie is die swemvlerkies van die ander ou se ego.

Die eigenaardigheid is dat die skrywer-krygers nie een weet wanneer hy gewen of verloor het nie. Die verloorder weet dit nie so hy hou nie op nie. Die wenner kan dan nie op oorwinning aanspraak maak nie en dus nie sy ego blinkvryf nie. En al sou iemand oorwinning aankondig, kom die ander ou maar net weer met dieselfde storie terug en daar gaan hulle maar weer.

Nou die Ingelse het ’n tipe woord daarvoor, iets soos "logomachy". Wat sal die Afrikaanse woord daarvoor wees? Kakpraat is dalk nie heeltemal voldoende nie. As ek kyk na die woord "logo" kan ek dink aan logomanie. Soos in "praat-jou-kop-se-kak". Daarin kan ek die groot beledigers sien as "logomacho". En die wat aaneen en aaneen en aaneen praat as "logomaties" of logojunkies.

Weet iemand of daar ’n woord vir die ding is?

Cheers
Duitswester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top