Afrikaanse strokiesprente en 'n huldiging aan Wim Bosman

  • 1
  • Alle grafika onderaan die artikel is met die nodige bronverwysings deur Francois Verster verskaf.

Met die heengaan van Willem Renier (Wim) Bosman, skepper van onder andere Louis, die Laeveld-leeu, op 28 November 2019, het ’n paar publikasies my gevra om huldeblyke aan hom te skryf. Duidelik was Bosman ’n geliefde en gerespekteerde kunstenaar – hy was ook ’n operasanger, skilder en argitek – hoewel die meeste Afrikaanse koerant- en tydskriflesers hom as strokieskunstenaar ken.

Bosman (gebore op 7 Desember 1936) se strokies het sedert 1974 (eerste in die koerantjie Die Laevelder) verskyn, en het dus vir ’n tydperk van 45 jaar menige leser met sy spitsvondighede vermaak en sodoende as’t ware deel van ons volkskultuur geword. Hoe dit ook al sy, ’n era is verby, en dit het my laat dink oor die begin van Afrikaanse strokies en waar dié genre nou staan. Ek verwys hier spesifiek na strokies.

In 2003 het ek my doktorale proefskrif, “’n Kultuurhistoriese ontleding van pikturale humor, met besondere verwysing na die werk van TO Honiball” (Universiteit Stellenbosch) voltooi, waarin ek nie net ’n stuk oor Bosman en in besonder sy aanwending van bobbejane as karakters (teenoor Honiball se Adoonse) geskryf het nie, maar ook ’n diepgaande studie van strokies, spotprente en karikature gemaak het – beide globaal en in die Suid-Afrikaanse konteks. Ek wou onder andere kyk na die ontstaangeskiedenis van Afrikaanse strokies en probeer vasstel waarom strokies (Nederlands: strippe, Engels: comic strips) insluitend grafiese novelles (graphic novels – hoofsaaklik met volwassenes as mark) plaaslik so dun gesaai is.

Daar word beweer dat rotstekeninge die eerste strokies was – die handelinge van karikature wat in serie geteken is. Dié mense en diere is gestileerd, nes die hiërogliewe wat in Egipte en Suid-Amerika voorkom, en is dus nie bedoel om realistiese afbeeldings te wees nie, maar is in ’n spesifieke styl uitgevoer. Die uitbeelding van aksies in opeenvolgende prente is dus ’n baie ou idee, maar die moderne konsep van strokiesprente het eers ontwikkel sedert papier as medium vir nuus of vermaak gebruik is.

In Brittanje weet ons van politieke spotprente wat in die 1700’s op sogenaamde broadsheets uitgedruk en een-een aan die publiek verkoop is, en in Suid-Afrika het Fredrick I’Ons (1802–1887) in 1831 ’n saamgestelde prent bekend as die “Stockenström cartoons” in die Grahamstown Journal gepubliseer. Hoewel hierdie uitbeeldings ’n politieke tema het, kan dit as ons eerste strokiesprent beskou word, omdat verskillende persone wat verskillende handelinge uitvoer daarin voorkom. Daar is dus sprake van opeenvolgende aktiwiteite, wat die verskil tussen strokies en spotprente is, soos ’n strook filmraampies teenoor ’n alleenstaande foto.

Maar strokies en spotprente is ’n ou Britse tradisie. Wat van pikturale humor (lees: versamelnaam vir karikature, spotprente en strokies) in Afrikaans? Dit het vir my ’n missie geword om die eerste een te identifiseer, en in 1998 het ek begin om die SA Nasionale Biblioteek in Kaapstad te fynkam. In 1999 het ek die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein vir die eerste maal besoek in ’n poging om geen steen onaangeroer te laat nie. Ek was vasbeslote en ek was gelukkig om sukses te behaal. Ek haal uit my proefskrif aan: “Die eerste Afrikaanse strokiesreeks het in 1937 verskyn. Dit was Jan Rap deur Johannes Hendrik Jacobus Rabe of ‘Ebar’ (gebore 1907) en is gevolg deur [die reeks] Ontwikkeling in 1938.” Jan Rap, die hoofkarakter in die gelyknamige reeks, was soos Honiball se hoofkarakter in sy reeks Oom Kaspaas, ’n grootprater met ’n welige haredos en stokkiesbaard.

Honiball se reeks het in 1939 in Die Burger verskyn nadat Die Huisgenoot dit nie wou publiseer nie. Hulle sou hom wel in 1948 vra om vir hulle ’n strokiesreeks te skep, wat toe Adoons-hulle was. Sy reeks Jakkals en Wolf het van 1942 tot 1969 in Die Jongspan verskyn. Rabe se loopbaan was heelwat korter as Honiball s’n – sy strokies is gedurende 1938 en 1939 in Die Brandwag en Jeugland gepubliseer en daarna was daar reekse in Jeugland, naamlik Piet Pote, Daan Donsies en Kiewiet die Klong. Hy het ook twee (ietwat primitiewe) grafiese novelles oor die lewens van President Steyn en President Kruger geskep, en was dus die ware vader van Afrikaanse strokieskuns, hoewel Honiball dikwels daardie mantel gedra het. Honiball was by verre die Afrikaanse strokieskunstenaar met die grootste oeuvre. Sy werk is ook in talle tydskrifte en koerante gepubliseer, hoofsaaklik Die Burger, Die Huisgenoot en Die Landbouweekblad, terwyl hy ook duisende spotprente en boekillustrasies geskep het.

’n Ander vroeë strokieskunstenaar in Afrikaans was Andries Petrus du Toit (gebore 1913) wat gedurende die 1930’s ’n strokiesreeks vir Die Jongspan geskep het, naamlik Knapsak en Klonkie, wat ook in Jeugland verskyn het. Laasgenoemde reeks het in die veertigerjare ook in boekvorm verskyn terwyl hy ook ’n strokiesboek, Ons Vriendjie, geskryf het.

In 1937 het Eben Leibbrandt (gebore 1915) grafiese werk vir Die Brandwag behartig, wat twee strokiesreekse, Troue vriende en Sonkie en Sampie, ingesluit het. In 1948 het hy ook Krato die Oermens geteken. Nog ’n strokiespionier wat in 1934 die reeks April en Johannes vir Die Volksblad geskep het, was Jacobus Joachim Christoffel Esterhuyse (gebore 1920).

In 1941 verskyn daar toe ’n strokie uit die pen van ’n Russiese immigrant, Victor Ivanoff, naamlik Prof. de Snor en Dr. van der Ploet in Die Brandwag. In 1942 het nog ’n reeks gevolg, naamlik Ken u taal, en in 1943 en 1945 het Jors in die oorlog en Kallie die kuiken onderskeidelik gevolg.

Hierna het nog ’n handvol kunstenaars bydraes gelewer, waarvan geeneen egter die indruk van ’n Honiball of Bosman gelaat het nie. Onder hulle verdien Paul Lessing (gebore 1930), Frans Abraham Nicolaas Esterhuyse (gebore 1941), Leonard Simon Sak (gebore 1931), Len Lindeque (gebore 1936), Johan Roos (gebore 1943) , Johan Louwrens Stapelberg (gebore 1948), Roland Wentzel (gebore 1907), Mynderd Jacobs Vosloo (gebore 1955), Jan van Tonder (gebore 1938), Johan Martin van Niekerk (gebore 1939) en Ivor van Rensburg (gebore 1932) melding, asook die enigste man-en-vrou span, naamlik Keith (gebore 1934) en Lorna Stevens (gebore 1936), wat veral bekendheid verwerf het met hulle reeks Ben, Babsie en familie, wat in 1955 eers in Die Brandwag verskyn het en later ook in Rapport.

Die meeste van die vermelde strokiesreekse was inderwaarheid oppervlakkige vermaak en daarom was hulle bloot as kinderstorietjies beskou, terwyl daar uit opvoedkundige kringe onwrikbare teenstand ondervind is. Die kuns- en literatuurkenner FA van Jaarsveld het in 1959 reeds in die boek Die Afrikaner en sy geskiedenis (Nasionale Pers, 1959) beweer dat die Nasionale Party “geskiedenis as skoolvak gebruik het om volkstrots, patriotisme en nasionalisme te bevorder”. Strokiesboeke, wat hoofsaaklik ingevoerde kommoditeite was, is as vreemde en korrupterende invloede bestempel. Veral opvoedkundiges het teen sodanige publikasies te velde getrek.

Die reekse wat ’n mate van satire bevat het, soos Honiball se Adoons-hulle, wat ook deur volwassenes gelees en geniet is, het langer leeftye gehad. Adoons-hulle is van 1948 tot in die laat 70’s (hy is in 1990 oorlede) gereeld gepubliseer, terwyl Bosman se reekse – benewens Louis, ook Werfbobbejaan, Kekkel en Kloek en Bosveldbure – soos genoem vir byna ’n halfeeu in Die Burger, Landbouweekblad, Sarie, ens gepubliseer is, terwyl ’n aantal versamelings in boekvorm gepubliseer is, soos Kekkel en Kloek (Human & Rousseau, 1996) en Louis, die Laeveld-leeu & trawante (LAPA, 2001). Honiball se vernaamste reekse is ook in meer as 40 bundels gepubliseer en mense noem dit vandag nog vir my dat daar “iewers in die garage van hulle gebêre is”.

Strokies se oënskynlike eenvoud, veral die minimalistiese tekeninge, veroorsaak dat oningeligtes (strokies moet as’t ware geïnterpreteer en verstaan word) afwysend daaroor optree, maar diegene wat die genre ken, weet dat jy allermins alle strokies oor een kam kan skeer. Weens die klein plaaslike mark sal Afrikaanse strokies waarskynlik nooit ’n groot impak maak nie – uitgewers sal eerder internasionale treffers soos Asterix en Tintin (Kuifie) in Afrikaans vertaal, of reekse in koerante soos Garfield (Stoffel) en Hägar die Verskriklike, hoofsaaklik omdat die groot volume van verspreiding dit goedkoper maak.

Wanneer ’n mens deur lande soos Japan, Engeland of België reis, staan jy verbyster oor hoeveel winkels strokiesboeke verkoop, hoeveel strokiesboeke daar is en hoe lank sommige van hulle al bestaan. Sekere strokies word selfs in hardeband uitgegee, soos die Heer Bommel-boeke van Nederland (deur Marten Toonder), en ook in die VSA, waar dit sedert die 1930’s baie gewild is. Koerante in New York het besef dat immigrante wat nie Engels magtig was nie, die taal aangeleer het deur strokies te lees. Gevolglik het sulke nuusblaaie twee of drie blaaie met strokies in volkleur bevat. Volwassenes het dus ook strokies gelees, terwyl kindertydskrifte hoofsaaklik die “draers” van strokies in Suid-Afrika was – Jeugland, Die Jongspan, Patrys en Vonk.

Koerante en tydskrifte vir Afrikaanse volwassenes het wel enkele strokiesreekse bevat, waaronder meestal ingevoerde strokies getel het, maar Honiball se genoemde reekse, asook ’n paar minder bekendes soos sy Charlie, Malie en Kalie (1951–1952) en Caltex-kaskenades (1954) in Die Burger, het darem destyds ook tipies Suid-Afrikaanse temas aangeroer.

Dit staan egter soos ’n paal bo water dat ná Honiball, dit Wim Bosman was wat die Afrikaanse strokiesvaandel hoog gehou het. En nou is ook dié era verby.

Tyd sal leer of daar weer ’n skepper van strokies soos Honiball of Bosman in Afrikaans sal wees.

Pikturale humor:

Karikatuur: ’n Verwronge of oordrewe uitbeelding van ’n persoon, dier of aksie.

Spotprent: ’n Satiriese tekening as uitdrukking van kritiek teen persone, instellinge of gebeurtenisse.

Strokie: ’n Verhaal in getekende prentjies, meestal in serie en meestal met byskrifte.

Bron: FP Verster. 2003. ’n Kultuurhistoriese ontleding van pikturale humor, met besondere verwysing na die werk van TO Honiball. DPhil-proefskrif, Kultuurgeskiedenis, Universiteit Stellenbosch.

Selfportret deur Wim Bosman (Bron: https://africacartoons.com/self-portrait/))

Fred Mouton bring hulde aan Wim Bosman (Bron: Die Burger, 4 Desember 2019)

Een van TO Honiball se minder bekende strokies (Bron: Die Burger, 4 Augustus 1951)

Ek het hierdie skets van Bosman en sy bobbejaan aan hom gestuur nadat ek in 1999 ’n onderhoud met hom gevoer het. Hy het nie daarop gereageer nie ...

Selfportret deur T.O. Honiball (Bron: Die groot drie, Penguin Random House, 2016)

Hans Dons deur JH Rabe (Bron: Jeugland, 26 Junie 1937)

Spotprente deur Fred Mouton in serie geplaas om ’n strokie te vorm (Bron: Heilige koeie en ander onheilighede, Tafelberg, 2001)

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Sjaka S. Septembir

    Het daar nie nog 'n era begin blom met Bitterkomix in die 90's nie? Hulle het ander geïnspireer soos Brein Komix en hul styl leef voort in ander kunstenaars soos Susan Opperman en haar Gifpit. Daar is Tinus Horn se Hemel op Aarde. Die Trantraal-broers wat huidiglik sterk Suid-Afrikaanse werk doen en wie se strips ook gepubliseer is in die Rapport. Willem Sameuls (Antjie Krog se seun) doen 'n outobiografiese reeks genaamd Mengelmoes. Strokiesprente in Afrikaans waarmee ek 'n noue verbinding het is Bal-Oog en Brommel se eerste grafiese roman wat in die begin 2000's uitgekom het en wat opgevolg is deur 'n volkleur grafiese roman in 2017. Daar is ook Robbie die Rowwe Rot deur Isabelle Grobler wat in 2018 verskyn het. Daar was ook 'n Jack Parow grafiese roman en ek is seker as ons die oppervlak begin krap sal vele meer voorbeelde voorendag kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top