Afrikaanse jeugboek ’n finalis in internasionale kompetisie

  • 0

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur 11 gedeel kan word
Jaco Jacobs
ISBN:
 9780799362404
Prys: R110

Martin Retief se hele lewe verander toe sy pa een middag stilhou om aandete te koop. Maar dan ontmoet Martin vir Drikus. Drikus wat aan ’n siekte ly en sy eie zombiefliek wil maak. Wat volg is ’n avontuur vol skouhoenders, skelms, mooi meisies, wiskunde, kammabloed en zombies.

Dié teks is een van Jaco Jacobs se donkerste boeke nog, maar dan ook een van die beste. Oud en jonk sal die genotvolle boek met die geweldige lang titel kan geniet.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur 11 gedeel kan word nou van Kalahari.com!

Jaco Jacobs se jeugboek Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word (LAPA Uitgewers) ding tans teen ’n indrukwekkende lys internasionale skrywers in verskeie tale mee om die nuut gestigte Found In Translation-toekenning.

Die toonaangewende Britse literêre agentskap Rights People, wat kinderboeke wêreldwyd verteenwoordig, het dié kompetisie geloods met die oog daarop om belowende internasionale fiksie vir kinders te vind wat nie oorspronklik in Engels verskyn het nie, en dit deur vertaling en internasionale verteenwoordiging aan ’n breër gehoor bekend te stel.

Jacobs se boek verskyn op die langlys van finaliste saam met boeke in onder meer Kroasies, Deens, Nederlands, Fins, Frans, Duits, Italiaans, Koreaans, Romeens, Sweeds, Taiwannees en Turks.

’n Paneel bestaande uit kenners in die kinderboekbedryf sal nou die geleentheid kry om die titels op die langlys te beoordeel. Professionele voorbeeldvertalings van die wentitels sal aanstaande jaar ingesluit word in die Found In Translation-bloemlesing, en die wentitels sal ’n aanbod van internasionale verteenwoordiging van Rights People ontvang.

Die wenners word in Maart 2015 by die Bologna-kinderboekfees in Italië bekend gemaak, en die bloemlesing sal in e-boekformaat aan Engelstalige uitgewers regoor die wêreld versprei word.

Die paneel wat die titels op die langlys beoordeel, bestaan uit Anthea Bell (bekroonde vertaler), Barry Cunningham (uitgewer by die uitgewery Chicken House), Adam Freudenheim (uitgewer by Pushkin Press), Laura Godwin (visepresident en uitgewer by Henry Holt) en Beverly Horowitz (visepresident en uitgewer by Delacorte Press).

Vir meer inligting en die volledige lys benoemdes, besoek www.foundintranslation.org.uk.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top