Afrikaans

  • 0

Angelina en Lizz,

Ek word net so vies vir Afrikaners wat hul kinders Engels grootmaak, omdat hulle kwansuis só gaan sukkel in ‘n Engelse wêreld. Ek, my man en al my kinders was in Afrikaanse skole, op Afrikaanse universiteite en vandag wonder mense of ons Afrikaans is, want ons hele klomp praat uitstekend Engels en het by tye selfs ‘n beter woordeskat as party Ingelse. Dis nie omdat ons slim is nie. Ons het uitstekende onderrig op skool gekry en staan vir geen Engelssprekende agteruit nie. Bygesê, ons is almal mal oor ons taal en praat en skryf dit so veel as moontlik.

Dit klink dalk nou vreemd, maar om Afrikaans en al ons ander inheemse tale aan te help, moet die basiese onderrig van Engels as tweede taal, hoogste prioriteit geniet. Goeie onderrig van kleinsaf sal maak dat almal gemaklik in Engels kan kommunikeer, maar nog steeds hul moedertaal as eerste en belangrikste taal ag. Ons hoor daagliks die vrot Engels wat ons mede landgenote praat. As hulle van kleinsaf moedertaalonderrig gekry het met die klem op HOOGSTE GEHALTE tweedetaalonderrig, sou baie meer van hierdie kinders beter gevaar het op skool. Dink net hoe verwarrend moet dit wees vir ‘n sewejarige Zoeloekind om skielik in Engels skool te moet gaan.

My suster hou skool vir kinders met leerprobleme. Sy staan die meeste van die tyd met haar hande in die hare oor die kinders wat in Engels moet leer en nié die taal magtig is nie. Die ouers dring ook daarop aan. Leerprobleme plus Engels as onderrigtaal (as jy Sotho is) is gelyk aan ‘n flop!

Ek is van mening dat baie intelligente kinders deur die krake geval het as gevolg van taalverwarring. Die algemene vrot matriekuitslae is eerstens die skuld van powere onderrig en tweedens die geforseerde onderrig in leerders (wat het geword van die goeie ou woordjie "leerling"?) se tweede taal.

Ek sien nie werklik ‘n oplossing vir die probleem nie. Die hoër funksies van Afrikaans is op ‘n slinkse manier afgeskaal en net tyd en ‘n tweede Langenhoven se wysheid sal ons hierdeur kry.

Intussen geniet ek my gate uit hier op die werf. Ek sal nooit ‘n skrywer word nie, maar ek kan na hartelus in my eie taal skribbel en skrabbel en daar is wraggies ‘n klomp esels wat dit lees!

Groetnis,

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top