Afrikaans virrie volgende generasie – Taalpodium vannie Afrikaanse Taalraad (September 2025)

  • 0

Ek’s soe happy om te sêrat “succession” die main discussion topic was byrie Afrikaanse Taalraad (ATR) se Taalpodium: Stand van Afrikaans-program by Dawn Mountains in Paarl op World Koesister Day, Saterdag 6 September 2025. Ongelukkig was daa nie koesisters oppie kostafel virrie dag’ie! Maarie dag se discussions het omtrent ’n mashallah gevoel in ôs gelos – dit was productive, collaborative, integrative ennit was ’n Saturday well spent! 

In Suid-Afrika is succession virrie meeste pa’d net ’n topic of dialogue tydens Jeugmaand. As ’n 34-jarige millennial is ek baie moeg van hoe mense net Hector Pieterson se naam left, right en centre mention wanner’t hulle pas, maa’ran virrie res vannie jaa issie jeug marginalised en hulle wôd as ’n twiede priority behandel – of no priority at all! Moenie ee’s mention die feit dat ôse land se president stokoud is nie. Cyril Ramaphosa is 72 jaa oud, en Donald Trump is 79 jaa oud! Dan wee, watter legacy rerag het Trump met ôs te deel – well, maa ja no then fine. Die stand vannie saak is djy kannie’rie toekoms van ’n land bestuur as djy nie innie toekoms van daai land rerag gaan leef nie!

Waa Afrikaans betrokke is, is succession die mees belangrike topic, en al is geskiedenis vannie taal oek hoe belangrik, ôs moettie confused raak en nou net oorie verlede debate’ie sonner om ’n futuristic point of view te maintain. Nie ammal wat stêk oo Afrikaans voel, is trained om solutions virrie toekoms te initiate nie, om ’n futurist te wies – daai sê ek met ’n see ha’t, want dis crucial dat ôs vorentoe met solutions beweeg.  

Die ATR-conference was organised in ’n refreshing way om hierrie vrae te facilitate. Upon arrival was daa ’n orientation session, en dan was daa verskillende tafels vi domeingroepe – media en tegnologie, kuns, onderwys, taalhoudings, geloof – ommie succession van Afrikaans onner ’n microscope te sit, cultural practices te evaluate, die belange van verskillinde ouderdomsgroepe en wat moet ve’anner in hierrie geval soerat Afrikaans niege lewens kan hê, net soes ’n kat. Insha’Allah!

Byrie kunstafel, gelei deur ATR-hoof Conrad Steenkamp, is baie key issues onner’ie spotlight geplaas: hoe Afrikaanse kunstefeeste die taal van Afrikaans vorentoe beweeg, commercial en cultural feeste, die aanvaarding van Afrikaanse taaldiversiteit, hoe lyk Afrikaans innie context van multilingualism in Suid-Afrika, wie die kaartjie-kopende gehoo vannie feeste is en of hulle jong mense is wat Afrikaans praat of in Afrikaans belangstel, ennie langlewe van feeste waar Afrikaans betrokke is, ve’al vi jongere generations. Mense wat innie conversations deelgeniem het, was stakeholders in en rondom die kunstebedryf. Wat uittie discussions gekommit, wassie feit dat mee official kuns-programs virrie development van jeug wat stories wil ve’tel in Afrikaans, soes’ie NATi Jong Sterre by Suidoosterfees in collaboration mettie Jakes Gerwel Stigting en Artscape (Kunstekaap), moet promoted wees as pa’d van Afrikaanse community partnerships. Of course acknowledge ôs dat daa baie druk is op feeste om “een vi ammal” te wies in hierrie geval, maa oek’ie feit dat feeste kan help ommie succession van Afrikaans te continue mettie regte approach to communities everywhere.

Skoolkinners het oek opgekô – kontak met hierrie jong mense as feesgangers vannie toekoms.  

As ’n skoolonnie weet ek al klaa’rat unless’ie Department of Education oep sal wies om changes innie curriculum te maak om hierrie futuristic kuns-discussions te accommodate, sal ekkie my asem ophou nie om real changes dee skole te ve’waggie. Net soes feeste moet ha’d wek om innovative te bly van jaa tot jaa, sal skole oek moet ha’d wêk ommie belangstelling van skoolkinners te maintain as hulle hirrie workshop feedback gebruik en implement. Skole beweeg oek nowadays soes besighede en dis nettie prominent skole wattie capacity het om hierrie tipe solutions wat uittie ATR-workshop kô te facilitate.

Na middagete hettie gelooftafel, deur aanbieder Elirea Bornman en fasiliteerder Braam Hanekom, oek baie interessante dinge gedeel. Wee was daa baie baby boomers byrie tafel present ennie baie millennials of Gen Z’s nie, wat gelei het tottie idee dat tegnologie, kuns en vermaak gebruik moet wôd om jong mense se belangstelling in Afrikaans te inspire, oek met topics wat relevant is vi hulle generation. Braam Hanekom was reg oppie geld wanner hyrie topic van globalisation opbring innie sense dat jong mense stel belang mee om pa’t vannie global village te wees dee technology of innie wêreld letterlik te bly. (Ek kan oek vi hierrie een instaan!)

Of course bly ôs in ’n transmedia age en waa technology involved is, is traditional mediums, soes’ie preekstoel in geloof en ’n ve’hoog met ’n sittende gehoo, nie eintlik die regte medium om met jong mense te praat oo Afrikaans nie. Innie ha’t van succession is of course intergenerational conversation en hoe om hierrie dinge te facilitate issie maklik’ie, ve’al as djy ’n generation van jong mense het wattie eintlik, soes Braam gesêrrit, interested is om in Suid-Afrika te bly of an enige traditional cultural practices deel te neem nie. Soes Fatima Allie sê, is ek maa ’n “old soul”. Alhoewel represent ek my generation from time to time, is ekkie ’n stereotypical millennial nie, en ’n groter survey van jeug is nodig om hierrie data te ontvang. Soe haal ek my hoed af virrie ATR, want hulle het ’n groot stap gevat om hierrie moeilike conversation te host, een wat boo’t gie aan solutions, een wat try om oplossings narie tafel te bring. Dankie en baie tramakassie aan’ie ATR virrie uitnodiging, en oek virrie halaal etes virrie dag en die plek, gekies soerat ôs ôse Thuhr salaah (middaggebede) kon rustig maak. Alhamdulilah!   

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top