Afrikaans se gideonsbende: die oud- en huidige Taalkommissielede se seminaar op 3 Augustus 2017 – persoonlike waarnemings

  • 15

Ek’s van Brackenfell, een van die noordelike voorstede van Kaapstad en diep agter die spreekwoordelike boereworsgordyn wat die hoofsaaklik Afrikaanse Noorde van die oorwegend Engelse Suide skei. Tog is dit ook ’n plek waar Engelse woorde so gemaklik met Afrikaans vermeng word soos die brannas en Coke wat mildelik om die braaivleisvure vloei. Dis my dialek daai en ek is allermins een van die AAA (Afrikaanse Akademiese Adelstand). Maar die huis van die Taalkommissie het vele kamers en dit is eintlik maar jou vermoë om die standaardvariëteit in skryfwerk te gebruik, die werk wat jy in en vir die taal doen en jou ander relevante vaardighede (soos woordeboekmaakkundigheid) wat jou teenwoordigheid en rol op die Taalkommissie bepaal. En die Taalkommissie behou juis ook ’n gesonde balans tussen akademici (hoewel nie die stowwerige ivoortoringtipes nie) en taalpraktisyns soos ek.

Hoewel die verskyning van die spiksplinternuwe 11de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) op Donderdagaand 3 Augustus behoorlik met woord, klank en vele lekkernye op Naspers se dak in Kaapstad gevier is, was daar vroeër in die dag ’n meer bedeesde maar ook ’n uiters betekenisvolle geleentheid ’n paar vloere laer in die gebou. Oud- en huidige Taalkommissielede van heinde en verre het byeengekom om die nuwe AWS te vier en te bespreek, ja, maar ook om oor die Taalkommissie self (onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) se verlede, hede en toekoms te besin. En dit was juis by hierdie geleentheid waar die diversiteit en uiteenlopende kundigheid van die sowat 67 lede (teenwoordig, in absentia, of afgestorwe) wat al op die Taalkommissie gedien het en die dinamiese wisselwerking tussen teorie en praktyk wat in hierdie boek vergestalting vind so opvallend was.

Christo van Rensburg
Foto: Frikkie Lombard

Eers het ek met ’n effense knop in die keel geluister na Christo van Rensburg se uitstekende uitleg van die geskiedenis van die AWS en die rol van groot geeste soos Langenhoven, Totius, Malherbe en die vele ander minder besonge taalhelde op die verskeie Taalkommissies wat ons voorafgegaan het. (Ek weet dis al ’n effens geykte uitdrukking, maar dit voel werklik of ek en my kollegas op die skouers van reuse staan.) Buiten taal en woordeboeke, is my ander groot passie in die lewe die onderwys – seker daarom dat ek meestal aan skoolwoordeboeke by Oxford University Press werk. Daarom was dit vir my besonder relevant om herinner te word dat die publikasie van die eerste AWS 100 jaar gelede in 1917 eintlik aangevuur is deur Langenhoven se onblusbare wil en verbete pogings sedert 1914 om Afrikaans as volhoubare onderrigtaal te vestig. Net die dag voor die seminaar het ek en my Taalkommissiekollegas die AWS se eerste “rokuitskud” (soos kollega Sophia Kapp dit genoem het) by ’n skool in Kuilsrivier meegemaak, waar NB-Uitgewers boeke aan onderwysers vanoor die hele Skiereiland geskenk het. Die geesdrif van die onderwysers (van wie baie onder uiters moeilike omstandighede skoolhou) het my selfs ’n groter knop in die keel besorg en my herinner dat hulle die hande en monde is wat eintlik die taal se toekoms moet verseker. Min het dus eintlik sedert 1917 in die kernrol van die AWS as riglynbieder vir opvoeders verander, hoewel dit nou ook die standaardbron vir taalpraktisyns en ander taalwerskaffers is.

Gerhard van Huyssteen
Foto: Frikkie Lombard

Tog het baie uiteraard in die publikasie self verander, selfs tussen die 10de uitgawe en hierdie 11de eeufeesuitgawe. Ons voorsitter, Gerhard van Huyssteen, was ná Van Rensburg aan die woord om die verskille uit te wys. Daar is baie nuwe reëls (meestal omdat daar twee nuwe hoofstukke, een oor leestekens en een oor trappe van vergelyking, bygevoeg is) en ook heelwat reëls wat verander het (byvoorbeeld oor die afstandskoppelteken). Dan het ons ook sowat 700 ou woorde geskrap en amper 2 000 nuwes bygevoeg. Die skrappings is byvoorbeeld woorde/terme waarvan die verwysingsraamwerk nie meer geldig is nie (soos st 6-klas) of woorde wat heeltemal ongebruiklik is (byvoorbeeld dartelheid, wat ons in geen ander bron kon opspoor nie).  Nuwe woorde kan in ’n paar verskillende kategorieë geplaas word: 1) woorde uit die gebruiksvariëteite van Afrikaans (veral unieke benoemers) wat in die standaardtaal gevestig is, soos antie en poenankies; 2) woorde wat tegnologiese ontwikkelinge weerspieël, soos hommeltuig, meem en selfie; 3) woorde wat nuwe ontwikkelinge in die samelewing weerspieël, soos bewarea, hidrobreking en kleptokrasie; 4) leenwoorde wat in die standaardtaal gevestig is, soos venue en muffin; en 5) nuutskeppings wat in die standaardtaal gevestig is, soos nurk (die geluid wat seekoeie maak). Iets interessants waarop Van Huyssteen gewys het, is dat die woord auntie in die heel eerste AWS (1917-uitgawe) en ’n paar daarna was, toe verdwyn het en nou weer as antie ’n triomfantelike terugkeer in die 2017-uitgawe maak. Laastens is daar ook agter in die boek nuwe tekste, soos oor Oosterse geografiese eiename en elemente in die periodieke tabel. Dis regtig ’n volledig herbewerkte uitgawe.

Wannie Carstens, Ernst Kotzé, Tom McLachlan, Rufus Gouws en Frank Hendricks
Foto: Frikkie Lombard

Laaste op die seminaar se program was ’n paneelbespreking oor “Die rol van standaardtaal hedendaags” met Frank Hendricks, Tom McLachlan, Ernst Kotzé en Rufus Gouws as lede, en Wannie Carstens as die fasiliteerder. En dis juis in hierdie bespreking dat die spanning wat aan elke Taalkommissie kou, naamlik tussen behoudendheid (taalkundig gesproke, nie polities nie) en verruiming, so duidelik deurgeskemer het. Die Taalkommissie se mandaat is die beskrywing van die geskrewe vorm van die variëteit van Afrikaans (Standaardafrikaans) wat meestal in formele kontekste as hoëfunksiekommunikasiemiddel gebruik word (parafrase uit die voorwoord van AWS 11). Maar hierdie variëteit self is dinamies eerder as staties en word voortdurend gevoed deur die baie ander variëteite van Afrikaans. Die Taalkommissie (immers tog, soos ’n woordeboek, ’n produk van ’n bepaalde tyd en tydsgees) moet dus tred hou met enige veranderings, sonder om op ideologiese of ander grondslag verlei te word deur die aantrekkingskrag van nuwe woorde. In hierdie verband is die huidige en onlangse Taalkommissies aansienlik beter daaraan toe as baie van die vroeëres, weens die tegnologiese vooruitgang wat groot databasisse van geskrewe Afrikaans (koerante, tydskrifte, boeke, ens) elektronies aan ons beskikbaar stel as tekskorpora. Eerder as om te raai of persoonlike oordeel te gebruik, kan ons dus nuwe moontlike insluitings objektief beoordeel en aan die hand daarvan ons aanbevelings maak. En ons besef die verantwoordelikheid wat saamgaan daarmee om as hekwagters beskou te word – uit die seminaar en paneelbespreking blyk die ontsag waarmee elke oud- en huidige Taalkommissielid dié plig en dié voorreg aanvaar het duidelik.

Ek het op ’n persoonlike noot begin en wil ook só afsluit. My liewe seuntjie is outisties – selfs sy moedertaal is vir hom ’n vreemde taal wat met groot moeite, repetisie en dappere uithouvermoë verwerf word. Een van die gewaarwordinge wat my deur sy hortende proses bybly, is dat ons (as individue en taalgemeenskap) te maklik ons taal en uitdrukkingsvermoë as vanselfsprekend aanvaar. Elke woord wat geskep of vasgelê word, elke poëtiese of prosaïese uiting en sekerlik elke hoëre funksie wat deur die bloedsweet van vele taalstryders verwerf is, is ’n gawe en voorreg. Dit moet gekoester en beskerm word, ja, maar die voorregte moet ook ruimhartig gedeel word. Die oes is groot en die arbeiders min – daar is nie tyd of plek vir dwarstrekkery, laertrekkery of siniese uitbuiting deur mense wat eintlik maar deur roem, mag of geld (of ’n kombinasie van die drie) regeer word nie. Mag al die eerlike taalwerkers (onderwysers ingeslote) ryklik geseën word – elke Taalkommissielid dra julle belange op die hart.

Hans du Plessis, Christo van Rensburg, Sophia Kapp en Jacques van der Elst
Foto: Frikkie Lombard

Hermien McLachlan, Tom McLachlan, Gerhard van Huyssteen en Suléne Pilon
Foto: Frikkie Lombard

Sophia Kapp, Suléne Pilon, Marné Pienaar en Jana Luther
Foto: Frikkie Lombard

 

  • 15

Kommentaar

  • As leek is dit verblydend om te verneem dat die Kommissie wel 'n oorkoepelende funksie vervul met die beregting van Standaardafrikaans. Is my afleiding korrek dat die AWS, WAT en HAT onder die wakende oog van die Kommissie val? In my, Johan Tromp en Tom McClanahan se briewewisseling in die Burger se brieweblad was dit nie duidelik of dit so is nie.
    Charl Adams

  • Dankie Riana en Charl! Charl, die Taalkommissie se mandaat sluit nie die HAT en WAT in nie, maar slegs die AWS. Die HAT word uitgegee deur Pearson ('n kommersiële uitgewer) en fokus wel merendeels op die beskrywing van die standaardvariëteit (soos ook Pharos se VAW). Die WAT word uitgegee deur die Buro van die WAT (een van die 11 Nasionale Leksikografie-eenhede) en is 'n perd van 'n ander kleur. Dit is 'n omvattende woordeboek waarin meer as net die standaardvariëteit 'n tuiste moet vind. Die HAT-redakteur en die WAT-eindredakteur dien egter tans wel op die Taalkommissie en steur hulle uiteraard aan die reëls en aanbevelings bevat in die AWS.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Phillip, iemand dien in 'n kommissie, komitee, ens. Op RSG word alewig dieselfde fout begaan. Ek kry dit nie reg om met teksboodskappe RSG se herhaalde taalfoute reg te maak nie. Ek het gevolglik onlangs besluit om nie verdere tyd en geld op teksboodskappe aan RSG te mors nie.

      • Jammer, maar ek stem nie saam nie. Gaan kyk in die WAT na "op" se eerste homoniem, betekenisonderskeiding 10 a. Myns insiens is dit lankal nie meer 'n "taalfout" nie.

        • Avatar
          Johannes Comestor

          Phillip, daarteenoor kan ek verwys na PJ Taljaard en WK Smit se Voorsetselwoordeboek (Pretoria: De Jager-HAUM, 1987, p 142). In hierdie konteks is die gebruik van "in" meer sinvol as "op", maar dan kom diegene wat nie skerm teen Engelsbeïnvloeding nie met die argument dat taal nie altyd logies is nie. Gegewe die situasie waarin Afrikaans verkeer, is dit myns insiens van deurslaggewende belang dat Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskei moet word. 'n Aktuele afkeurenswaardige voorbeeld, soos ons deurgaans op RSG moet aanhoor, is "staande komitee" pleks van "vaste komitee". Die komiteelede sit. 'n Heeltemal ander betekenis as in Engels word in Afrikaans opgedring.

          • Ek verstaan jou uitgangspunt, maar stem nie daarmee saam nie. Taalverandering is natuurlik en vind in alle tale plaas (ook Engels). En dit word dikwels veroorsaak deur die invloed van taalkontak in 'n meertalige omgewing. As leksikograaf sien ek die proses as 'n glyskaal, met blatante taalfoute (tans beskou ek nog "huidiglik" as een) aan die een kant en gevalle waar die "verkeerde" vorm die oorspronklike een reeds verdring het (Gerhard verwys dikwels na "vaatdoek" wat "vadoek" geword het in Nederlands) aan die ander. En hoe gevalle soos"in"/"op" op hierdie glyskaal beweeg is nie noodwendig voorspelbaar nie en definitief nie reguleerbaar nie. 'n Punt word bloot bereik waar beide vorme aanvaarbaar is en as ons oor 15 jaar weer hierdie gesprek het, gebruik niemand dalk meer "in" nie ...

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Phillip, ek aanvaar dat taalverandering plaasvind. Maar met die oog op oorlewing moet Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskeibaar bly. Dit kan bevorder word as Afrikaansinstansies en -taalkundiges (bv die lede van die Taalkommissie) taalsuiwerheid aanmoedig en geradbraakte Afrikaans, soos dit op groot skaal in bv Kaaps voorkom, ondubbelsinning afkeur. Ek wag steeds daarop dat een of verkieslik meer van daardie instansies en taalkundiges taal- bo politieke oorwegings stel en groter taalsuiwerheid bepleit. Deur bv Kaaps ongekwalifiseerd te koester, word 'n soort Afrikaans aangemoedig wat nie sonder kennis van Engels verstaanbaar is nie. Om bloot gelate te aanvaar dat taalverandering plaasvind, los nie hierdie wesenlike probleem op nie.

    • Ek dink darem die huidige TK is gebalanseerd genoeg om nie sommer maklik onverantwoordelike (of onverantwoordbare) besluite te neem nie, en natuurlik help die toegang tot empiriese bewyse dmv korpora ons daarmee. Maar rakende taalsuiwerheid: ek het by OUP nogal gereelde kontak met taalpuriste (bv Engelssprekendes wat oor Afrikaanse of Afrikataalleenwoorde in ons woordeboeke kla, Zoeloesprekers wat oor Engelse invloed kla, ens.). Ek tree graag in gesprek met hulle, want gewoonlik is hulle motiewe suiwer taalkundig. Waar die debat oor Afrikaans my ongemaklik laat, is dat baie van die taalpuriste wat daaraan deelneem eintlik slegs bekommerd is oor Engelse invloed (nie ook leenwoorde uit Frans, Duits, die Afrikatale, ens. nie) - myns insiens dus juis oneerlik, inkonsekwent en polities gedrewe eerder as taalkundig. Daar is egter 'n tweede, veel groter probleem - Engelse taal-invloed word gelykgestel aan verengelsing. Dis nie wat in Suid-Afrika aan die gebeur is nie. Verengelsing bedreig al ons tale en word aangevuur deur politici (meesal mense wie se moedertaal nie Engels is nie) wat verengelsing op institusionele vlak as 'n maklike opsie sien om die staatskoffers aan te vul, maak nie saak wat die langtermyngevolge daarvan gaan wees nie. En kom ons wees eerlik - die mense wat die meeste ly as gevolg van hierdie kortsigtigheid is arm mense wat nie maklike toegang tot goeie Engelse onderrig het nie en dus ekonomies agterweë gelaat word. Ek glo vas dat sinvolle meertaligheid 'n veel beter alternatief as verengelsing is en dat ons strewe moet wees om meertaligheid in Suid-Afrika, veral in die onderwys, te laat gedy. Dit bekommer my egter dat Afrikaanssprekendes soos Don Quixote op die windmeul van Engelse taal-invloed afstorm, eerder as om hulle energie, tyd en hulpbronne teen die veel groter gevaar van sistemiese verengelsing in te span.

      • Avatar
        Johannes Comestor

        Phillip, dankie dat jy telkens saaklik op my kommentaar reageer. Ek is 'n taalpuris in die sin dat onnodige Engelse woorde uit Afrikaans geweer behoort te word. Die rede waarom daar by uitstek teen Engelse invloed gewaak moet word, is omdat Engels die enigste taal is wat die voortbestaan van Afrikaans bedreig. My beswaar teen Engels en die mengeltaal Kaaps (in soverre dit Engels is) is nie polities gedrewe nie maar taalkundig. Ja, meertaligheid, in die sin van die voortbestaan van ander tale naas Engels, is beter as (algehele) verengelsing. Kaaps stel 'n afkeuringswaardige voorbeeld van 'n ander soort meertaligheid omdat by uitstek twee tale, Afrikaans en Engels, in dieselfde taal voorkom. In Kaaps is die kernwoorde in 'n sin dikwels Engels sodat Kaaps nie sonder kennis van Engels (afdoende) verstaan kan word nie. Dit lyk ook asof Engels al hoe meer in Kaaps inslag vind. Verder is daar by Afrikaanse nie-Kaapssprekers toenemend die neiging om vir lief met Engelse woorde in hulle Afrikaans te neem. Dat taalbeïnvloeding en dus -verandering plaasvind, betwis ek nie. Wat ek suiwer taalkundig in belang van die voortbestaan van Afrikaans verlang, is dat Afrikaanstaalinstansies en -taalkundiges bereid moet wees om op die gevaar van die al hoe groter Engelsbesoedeling van Afrikaans te wys en groter taalsuiwerheid te bepleit. Dit sal noodwendig insluit dat Kaaps in soverre dit Engels is, afgewys moet word. Waarna ek soek, is instansies en taalkundiges wat bereid is om hierdie Rubicon oor te steek. Afrikaanssprekendes vir wie die voortbestaan van Afrikaans as 'n volwaardige taal erns is, moet myns insiens noodwendig daarop aandring dat Afrikaans as 'n taal uit eie reg voortbestaan en nie as 'n taal wat alleen met behulp van 'n ander taal, naamlik Engels, verstaan kan word nie.

  • Ek het baie begrip vir daardie kommer - soos ek sê, ek hoor dit ook gereeld by Afrikataalsprekers. Maar ek dink ons moet dit wegwentel van 'n gesprek oor Kaaps, want die kwessie van Engelse invloed is baie breër. Ek is byvoorbeeld glad nie 'n spreker van Kaaps nie, maar in die 30+ jaar wat ek nou al in Brackenfell bly is die Afrikaanse spreektaal rondom my konsekwent deurspek met Engelse woorde en frases. Baie min daarvan het egter al neerslag in die standaardvariëteit gekry. Standaardafrikaans is 'n formele, geskrewe variëteit - niemand praat dit nie. En as sulks is mense wat met die standaard werk gebonde aan bewyse dat 'n woord in 'n verskeidenheid bronne deur 'n verskeidenheid verskillende skrywers in 'n geredigeerde konteks gebruik word, alvorens erkenning daaraan verleen kan word. Dit geld ook vir woorde uit Kaaps (of enige ander variëteit of dialek wat die standaardvariëteit met die verloop van tyd voed) wat in die AWS se woordelys opgeneem word. Maar om die twee gesprekslyne te koppel: die ware hekwagters van Standaardafrikaans is die Afrikaanse onderwysers. Dit is hulle wat enige variëteitspreker (soos ek ook maar is) leer om die standaardvariëteit in skryfwerk van enige aard te gebruik. En ek is werklik bekommerd dat Afrikaans as onderrigtaal in staatskole in gevaar verkeer - die regering gaan nie onbepaald 'n situasie duld waar Afrikaans tot Graad 12 as onderrigtaal geld, maar die Afrikatale net tot Graad 3 nie. Buiten morele oorwegings, is hierdie pragmatiese oorweging myns insiens hoekom dit so belangrik is dat meertaligheidsinisiatiewe dringend en mildelik ondersteun moet word. Andersins gaan enige gesprekke oor Engelse invloed en die standaard weldra irrelevant wees.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Phillip, dankie vir jou geduld. My dank ook aan LitNet wat hierdie openbare gesprek moontlik maak. In die boek, Kaaps in fokus (Stellenbosch: Sun Media, 2016), staan: Kaaps is 'n taalvariëteit wat "diep onder Engelse invloed" staan (p 2) en die "massiewe mate" waarin Engels hedendaagse Kaaps beïnvloed (47). Daar is "die ontsettend hoë mate van Engelse invloed" (7), dus (oorvloedige) "direkte ontlenings uit Engels" (132). Nêrens in die boek word die oorteenwoordigheid van Engels in Kaaps veroordeel nie. Die aanwesigheid van Engels word eerder geloof as "die vaardigheid om taalkodes af te wissel" (93). Die omvang wat taalvermenging aanneem, bring mee dat daar eerder van "taligheid" as "veeltaligheid" gepraat kan of moet word (62). "Die taalpurisme- en die taalhiërargie-ideologie" moet glo liewer laat vaar word (65).
      Die voortbestaan van Afrikaans as 'n taal wat duidelik van Engels onderskei kan word, word verder ondergrawe met die stelling dat Kaaps die "bakermatvorm van Afrikaans" is (47); dat Kaaps dié ontstaansvariëteit van Afrikaans is (38). Kaapse Moslem-Afrikaans word as die kerndialek van Kaaps beskou (37, 45). Vroeë Afrikaans en Kaaps word in daardie sin sinonieme. In soverre Moslem-Afrikaans en Kaaps nie-Engels is, het ek nie beswaar teen sulke stellings nie. Deur Moslem-Afrikaans binne Kaaps te onderskei, is in ooreenstemming met die feit dat Kaaps "wesenlik 'n heterogene variëteit van Afrikaans" is (26). Maar wat tans in die praktyk gebeur, is dat die huidige mengeltaal Kaaps gekoester word asof dit die eintlike Afrikaans is. In ooreenstemming daarmee is daar dan stellings soos dat Standaardafrikaans verruim moet word (74), meer plooibaar moet wees (64) en wyer aan Kaaps oopgestel moet word (Die Burger, 20.04.2015, p 3). Laasgenoemde stelling kom van Gerhard van Huyssteen, die voorsitter van die Taalkommissie, wat sy standpunt verduidelik of kwalifiseer met: "of die woord aan die tradisie en taalkundige beginsels van Afrikaans voldoen" (Netwerk24, 29.08.2017). Dit beteken (meesal) seker(lik) dat daardie woorde nie-Engels moet wees.
      Afrikaansinstansies soos die ATR, ATKV en ATM koester Kaaps as sodanig sonder om te onderskei wat in Kaaps aanvaarbaar en wat verwerplik (naamlik veral onnodige Engelse woorde) is. Iedere Sondagoggend, voor die RSG-program, "Die tale wat ons praat," word in die ATKV-advertensie gesê: "Dit maak nie saak hoe jou Afrikaans klink nie." Dit kan vertolk word as goedkeuring van geradbraakte Afrikaans. Dít terwyl die gesproke taal die primêre taal en die geskrewe taal bloot 'n afskynsel daarvan is. Sover ek weet, het daardie drie instansies in hierdie eeu nog nooit Afrikaanstaalsuiwerheid bepleit nie. Op hierdie manier word die oorlewing van Afrikaans as 'n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, in die wiele gery.
      Daar is veral twee redes waarom Kaaps gekoester word. Eerstens word geredeneer dat die meeste Afrikaanssprekers, soos die meeste Kaapssprekers, bruin is en die toekoms van Afrikaans dus van hulle afhanklik is. Maar Kaaps kom hoofsaaklik in die Kaapstadse metropool voor. Daar is baie bruin Afrikaanssprekers, bv op die platteland, wat nie Kaaps praat nie. Die punt is dat dit 'n kwantitatiewe argument is waarin geen oorweging aan die kwaliteit van daardie Afrikaans gegee word nie. Tweedens word Kaaps sonder meer gekoester omdat dit met bruin mense geassosieer word en dit daarom polities korrek is om steun daaraan toe te sê. Maar daarmee word voorkeur aan politieke bo taaloorwegings gegee. 'n Soortgelyke verskynsel doen hom in die stryd om die behoud van Afrikaans voor. Dit word verkeerdelik as verkramp beskou om vir die voortbestaan van Afrikaans te veg, dus 'n taalbul te wees. Dit is ontstellend dat taalinstansies, soos die genoemde drie, en Afrikaanstaalkundiges, soos al die lede van die Taalkommissie (gelys in die jongste AWS, p ix), nie aktief (genoeg) by hierdie taalstryd betrokke is nie. Dit word eerder oorgelaat aan nie-taalkundiges, soos Hermann Giliomee en Breyten Breytenbach, wat albei nie naasteby as verkramp beskou kan word nie.
      Die Taalkommissie dien as hekwagters en besluit wat op 'n gegewe tyd Afrikaans is en wat nie kwalifiseer nie. Myns insiens is dit deel van die Taalkommissie taak, asook van ander Afrikaanstaalkundiges en -instansies, om die heil van Afrikaans te bevorder deur aktief aan die taalstryd deel te neem en ook taalsuiwerheid te bevorder. Sedert 1994 het die gehalte van Afrikaans veral weens beïnvloeding deur Engels onrusbarend agteruitgegaan. In belang van Afrikaans behoort daar 'n veldtog ten gunste van taalsuiwerheid gevoer te word. Bedenklike Afrikaans word deesdae by alle groepe aangetref, gevolglik hoef so 'n veldtog nie polities inkorrek te wees nie. Daar behoort egter onder meer op die gevaar van ongekwalifiseerde Kaapskoestering gewys te word.

      • Geen probleem nie - dis altyd belangrik om ander perspektiewe in ag te neem. En ek dink daar is raakpunte tussen ons perspektiewe, byvoorbeeld dat mens nou nie die deure wil oopgooi vir elke Engelse woord wat met kodewisseling 'n Afrikaanse gesprek binneglip nie en dat spesifieke variëteite nie "voorgetrek" moet word as dit by verteenwoordiging kom nie. Maar ek dink nie jou verwagtinge van die Taalkommissie is regverdig nie - ons is nie taalpolitici nie. Soos rugbyspelers eerder hulle speelwerk op die veld moet doen, doen ons ons spelwerk eerder op die bladsye van die AWS. En ek wil herhaal wat ek vroeër gesê het - ek voel ons het op verantwoordelike en verantwoordbare wyse met nuwe opnames te werk gegaan (ook dié uit variëteite soos Kaaps en Oranjerivierafrikaans). Die woorde wat ons opgeneem het, het volgens die bewyse wat ons tot ons beskikking gehad het reeds inslag gevind in Standaardafrikaans. Verruiming beteken dus nie dat ons gaan rondkrap in gesproke variëteite om kunsmatig woorde aan die standaard op te dring nie, maar eerder dat ons elke woord op meriete beoordeel, sonder baggasie of vooroordele.

        • Avatar
          Johannes Comestor

          Phillip, baie dankie vir 'n gesprek wat myns insiens bevorderlik vir die heil van Afrikaans is. Enersyds is ek geneig om, waar toepaslik, die Afrikaanssituasie met dié van Engels te vergelyk. Dit ontstel my dat mense graag Engels so korrek moontlik wil praat en skryf, maar dan hierdie gesonde benadering glad te dikwels by Afrikaans ophef. Dit dui myns insiens op 'n gebrek aan agting vir Afrikaans as taal en in die geval van veral blanke Afrikaanssprekendes kan dit op 'n gebrek aan selfrespek dui. Nog iets wat opval, is dat Engelsvariëteite, waarvan daar baie dwarsoor die wêreld voorkom, nie gepropageer word nie. Byvoorbeeld, Cockneyengels bestaan, maar word nie vertroetel nie. In die geval van Afrikaans is daar deesdae 'n oorbeklemtoning van sy variëteite en veral Kaaps word soms hemelhoog geprys. Daar word dikwels gesê dat in eenheid krag is. Die beste manier om die heil van Afrikaans te bevorder, is myns insiens as Afrikaanssprekendes hulle steun toesê aan Standaardafrikaans wat matig evolueer pleks van revolusionêre herstandaardisering te bepleit, wat baie van die getrouste Afrikaanssprekers kan vervreem. Maar moenie van my verwag om die Taalkommissie se erkenning van "skanghagha" (wat "in die haak" beteken) as 'n Afrikaanse woord te onderskryf nie. Daardie woord lyk nie en klink nie soos Afrikaans nie en is in elk geval onnodig of oorbodig.
          Andersyds vergelyk ek die Afrikaanssituasie in die vorige eeu met die onverkwiklike omstandighede waarin hierdie taal hom tans bevind. Van die elf amptelike tale is dit net Afrikaans wat in die nuwe grondwetlike bedeling erg aan status ingeboet het. Tien van daardie tale geniet verhoogde status met Engels wat van owerheidsweë uitermate bevorder en bevoordeel word. Afrikaans het voorheen gebaat omdat (feitlik) iedere Afrikaanstaalkundige en baie -letterkundiges die belange van hierdie taal passievol ondersteun het. Vir die Afrikaansonderwysers en -dosente was hulle beroep in baie gevalle eerder 'n roeping as 'n werk. Deesdae is daar die verskynsel dat 'n universiteit op die brutaalste denkbare manier verengels word en nie 'n enkele dosent in die Afrikaansdepartement sy stem teen hierdie wanpraktyk verhef nie. Daar het in breë verband 'n gesindheidsverandering jeens Afrikaans by Afrikaanssprekendes plaasgevind, insluitende by diegene wat ampshalwe die wagters op die Sions mure behoort te wees. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is 'n klassieke voorbeeld. Volgens die argitek van die Taalmonument, Jan van Wijk (Taalmonument, Tokai: Historical Media, 2014), is die ontwerp geïnspireer deur skryfwerk van CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw. Deesdae bevorder die ATM egter glad nie die nalatenskap van hierdie Afrikaans-ikone nie. Die ATM propageer eerder die geskrifte en selfs dade van Afrikaansrandeiers soos Neville Alexander en Mathews Phosa. Daar word klaarblyklik voorkeur aan politieke bo taaloorwegings gegee maar feitlik geen beswaar word geopper nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top