Beste Wouter
Ek het jou heel interessante weergawe gelees ivm Afrikaans op universiteit en skole, waarvolgens jy tot die slotsom gekom het dat dit hoog tyd is dat Afrikaans by sodanig instansies afgeskaf moet word. Jy skryf: “Afrikaanse universiteite en so ook die skole moet daarom ’n stille dood sterf en die opvoeding van die totale bevolking in Engels geskied.”
Namibië se konstitusie bepaal Engels als enkel amptelike taal. Daar maak jou stelling sin. Die Suid Afrikaanse konstitusie erken elf amptelike tale op gelyke voet. Jou stelling binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse setup, hou nie water nie, ten spyte van jou geskiedkundige interpretasie (reg of verkeerd) oor hoekom so iets behoort te gebeur. Dit verg ’n wysiging van die Suid-Afrikaanse konstitusie, en die kanse daarvoor is skrander op sy beste.
Een van die funksies van die staat is om te sorg dat aan die konstitusie gehoor gegee moet word, en selfs om sodanige bepalinge te fundeer. Ons is ’n regsstaat. Demokrasie in SA is onderhewig aan die konstitusionele bepalinge. Die feit dat Afrikaans en die Afrikaner onpopulêr by die regerende party is, is nie ter sake nie. Die feit dat ander volkere hier in SA nie hulle reg tot eie taal opvoeding opeis nie, verleen nie reg om Afrikaans te onderdruk of om die Afrikaner van sy reg tot eie taal opvoeding te weerhou nie. Die enigste instansie wat daarop geregtig , is die Afrikaner self.
Als voorbeeld. Die onpopulêre “gay huwelik”-wetgewing by die ANC is eers deurgevoer toe die konstitusionele hof die regerende party opdrag gegee het om dit binne ’n bepaalde termyn te bekragtig. Afgesien van hulle magtige posisie in die land moes hulle gedwee gehoor gee, dit selfs fundeer. Dis die dat ek by herhaling gesê het ons het die beste konstitusie ter wêreld.
Wat baiemaal uit die oog verloor word, afgesien van alles wat in die verlede reg of verkeerd tussen opponente geskied het, was die uitvloeisels van Kodesa en die Waarheid en Versoenings Kommissie ten doel om alles van vooraf skoon te maak, “to wipe the slate clean”. Met ander woorde, ons modern geskiedenis begin amptelik van daardie punt af. Dit is eintlik die ideaal, en die regsposisie. Dat dit in die praktyk geskied is ’n ander verhaal.
Die ANC met sy straatnaam-veranderinge, sy miskenning van Afrikaans en die Afrikaner, sy onvermoë om landbouboere behoorlike beskerming aan te bied, eise tot reparasies, ens maak dit moeilik vir die Afrikaner om sy volste behoorlike steun aan die “reënboognasie”-konsep te gee. Die Afrikaner het nie probleem met die ander oorwegend swart politieke partye nie, want nie een van hulle deel die ANC se negatiewe sentiment rakende die Afrikaner nie. Die feit dat die Afrikaner sy regmatige regte opeis, maak nie van hom ’n minder trotse Suid-Afrikaner nie.
Die volgehoue aanslae teen die Afrikaner deur die regerende party en die onaanvaarbare histeriese geheul van die gekkegrens in eie geledere, het AfriForum met wye strategiese Afrikanerinstansie-ondersteuning tot stand gebring wat deur wettige prosedure Afrikaner regte opeis. Nou word hulle ook deur beide die regering asook die Afrikaner-gekkegrens misken.
Jaco Fourie

