Afrikaans is nie ’n minderheid nie

  • 7

Afrikaans is nie ’n minderheidstaal nie. Dit is deel van ’n diverse meerderheid inheemse tale in Suid-Afrika en op die groter vasteland.

So het die sakevrou Christa van Louw die ekonomiese waarde van Afrikaans verwoord tydens ’n gesprek wat deur die Afrikaanse Taalraad, Afrikaans.com en die Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl gehou is.

Jannie Rossouw, Christa van Louw, Karen Meiring en Marius Swart

Die gesprek was deel van ’n reeks seminare oor Afrikaans wat Afrikaanse mense wil help om hulself deur middel van Afrikaans te bemagtig.

Die ander twee sprekers was Karen Meiring (Afrikaanse kanale by M-Net) en Marius Swart (taalbeplanningskundige by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands).

Jannie Rossouw, bekende ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, was die gespreksleier.

Jannie Rossouw

Van die vrae waaroor die paneel kopgekrap het, was: Die betekenis van Afrikaans vir families en jongmense – wat is die ekonomiese waarde van Afrikaans? Maak Afrikaans families ryker of armer? Wat is die groot geheim van suksesvolle Afrikaanssprekendes? Hoe verdriedubbel mens jou kind se toegang tot goeie werksgeleenthede? En hoe verbeter mens jou kind se toegang tot internasionale geleenthede?

Die gehoor, wat uit min of meer ewe veel mans en vroue bestaan het, was tekenend van die winde van verandering wat besig is om oor Afrikaans te waai. Anders as in 1875, toe die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) deur ’n groepie wit mans in die huis van Gideon Malherbe gestig is, was Saterdag se byeenkoms by die Taalmuseum verteenwoordigend van al die land se Afrikaanssprekendes. 

Die Taalmuseum is in die hartjie van die Paarl, in die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die GRA.

Spreker na spreker uit die bruin gemeenskap het gesê daar moet eienaarskap geneem word van Afrikaans, want dit behoort nie slegs aan een kultuurgroep nie.

Christa van Louw

“Om ’n passie vir Afrikaans te hê is geensins ’n teruggryp na die verlede nie,” sê Van Louw, wat haar doktorsgraad in Afrikaans behaal het. Sy sê daar is baie lesse uit die verlede te leer oor hoe Afrikaans mense bemagtig het. Vandag kan Afrikaans ook na ander Afrikatale uitreik om hulle te bemagtig, sê sy.

Van Louw het al verskeie suksesse gehad met haar projekte om mense deur Afrikaans te bemagtig, onder ander met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Fatima Allie en Christa van Louw

Sy weier om haarself as deel van ’n minderheid te beskou. As Afrikaans as deel van ’n groter diverse meerderheid na die ander Afrikatale in die land uitreik, kan dit volgens haar saam met die ander inheemse tale deel wees van ’n diverse meerderheid waar Engels nie die oorheersende taal hoef te wees om nasiebou te bevorder nie.

“Dink net hoeveel groter die impak van Afrikaans sou wees as ons vir mekaar sê die A in Afrikaans staan nie net vir Afrikaans nie maar ook vir al die ander inheemse tale van Afrika,” sê sy na die tyd opgewonde aan my oor ’n glas Women in Wine-wyn – die eerste wyn in die land wat volledig deur swart vroue geproduseer word, vroue wat ook deur haar toedoen gehelp is om hulleself ekonomies te bemagtig.

Van Louw sê daar is ’n wil onder Afrikaanse mense om te deel, maar ook ’n vrees hóé om te deel. Een van die vrese is dat ’n regverdige verdeling van welvaart die Afrikaanse gemeenskap armer sal laat. Van Louw verskil daarmee. Volgens haar sal welvaartskepping onder agtergeblewe Afrikaanse mense groter welvaart vir almal skep.

Karen Meiring

Karen Meiring het vertel van kykNET se sukses in dié verband en hoe hierdie televisiekanaal reeds verskeie permanente werksgeleenthede geskep het omdat hulle in die toekoms van Afrikaans glo. Die kanaal is tans besig met sy derde sepie in die Wes-Kaap. Tagtig mense het reeds permanente werk bekom as gevolg van die Afrikaanse produksies, met verskeie ander werksgeleenthede wat daaruit voortgespruit het.

Volgens Van Louw is haar persoonlike missie om Afrikaans nuut te posisioneer en ander Afrikaanssprekendes te help om eienaarskap van hulle taal te neem. Sy het vertel van die ekonomiese suksesse van Afrikaans in die verlede en vind dit jammer dat die taalgenote van Afrikaans tydens die apartheidsjare nie saamgeneem is op die pad van ekonomiese bemagtiging nie.

Sy twyfel geensins daaraan dat Afrikaans nog steeds ’n groot ekonomiese waarde het nie, mits Afrikaanssprekendes hulle nie in ’n hoekie toeverf en as ’n minderheid definieer nie. “Afrikaans moet uitreik na die ander Afrikatale, want die diverse meerderheid ander Afrikatale ervaar presies dieselfde probleme wat Afrikaans ervaar.”

Sy glo Afrikaans kan saam met en naas die ander taalgebruikers van Afrikatale die nuwe stem word van wat sy die diverse meerderheid noem.

Marius Swart

Marius Swart sê dit is ’n drogredenasie dat Engels die taal van sosiale mobiliteit en sukses is. Hy sê daar is talle mense wat in hulle daaglikse lewe swaar gebuk gaan as gevolg van ’n tekort aan Afrikaans.

Hy het gewaarsku teen die neiging by sommige mense om Afrikaans te verpolitiseer in die manier waarop hulle vir Afrikaans stry.

Verskeie onderwysers uit die bruin gemeenskap het hulle kommer uitgespreek oor die verskraling van moedertaalonderrig in die land. Hulle sê dit lei dikwels daartoe dat leerders niks anders as ’n swak Engels magtig is nie en geen bydrae tot ekonomiese bemagtiging lewer nie. Afrikaans kan bevorder word slegs as daar transformasie plaasvind sodat niewit Afrikaanse mense ook kan deel in die ekonomiese bemagtiging van die taal. Afrikaans kan nie bevorder of beskerm word as daar nie meer swart of ander Afrikaanssprekers ook daardeur bemagtig word nie.

Hendrik Theys, voormalige ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en dosent by CPUT, sê daar is nog te veel Afrikaanse mense wat geneig is om van “ons” en “hulle” te praat. Hy sê die Afrikaanse taalgemeenskap is nog nie een nie. Die boodskap moet uitgedra word dat mens jou drome kan laat waar word al is jy Afrikaans ongeag jou herkoms.

Baie bruin studente uit veral die agtergeblewe gebiede sukkel om in Engels te studeer, daarom moet daar gefokus word op die onderwyskrisis in die land en die belangrikheid van moedertaalonderrig. Theys het die hoop uitgespreek dat Afrikaanse mense in groot getalle hulle stem dik sal maak om Stellenbosch toeganklik te hou vir die Afrikaanse gemeenskap sodat Afrikaans nie sy plek as hoëronderrigtaal verloor nie.

Die deelnemers aan die afgelope naweek se seminaar was dit eens dat daar groot uitdagings vir Afrikaans is. Afrikaans hoef egter nie in die niet te verdwyn indien Afrikaanse mense hulle saam met ander inheemse taalgebruikers vir meertaligheid beywer nie.

Christa van Louw, Jean Oosthuizen en Ria Olivier

  • 7

Kommentaar

  • Dis baie mooi. Ons is almal Afrikaners, ons en ons bruin broers en susters. Hoe gouer ons dit besef en almal in Afrikaans groei en mekaar bemagtig, en lief het as mede Afrikaners - of mede Afrikaanses - hoe beter. Of jy nou bruin of wit is, maak nie saak nie, ons het 'n gedeelde geskiedenis - seker een van die merkwaardigste op aarde, en kan nie vir een oomblik waag om ons samesyn en begrip en liefde vir mekaar as eintlik dieselfde mense en kultuurgroep nie te konsolideer nie. Ons moet saamsmelt as een groep in Afrikaanse eenheid as kinders van Suid-Afrika.

    • Ek stem saam Johannes, dit is waar. NATUURLIK moet die GRA die lof KRY WAT HULLE TOEKOM. Net een vraag: waar sou Afrikaans vandag gewees het sonder die Genootskap van Regte Afrikaners? Nêrens nie, op die ashoop!
      Daar moet ook onthou word (en word dit gerieflikheidshalwe deur die revisioniste vergeet!) dat Abdullah Abdurahman v/d APO; om dit lig te stel; NIKS met Afrikaans en Afrikaners te doen wou hê nie, en Engels en Engelse maniërismes en oorheersing vooropgestaan het.
      Indien Afrikaans se voortbestaan van bv Abdurahman se pogings afhanklik was, sou dit vandag dus sekerlik dood gewees het, of hoe? Dit is ietwat van 'n reuse skande; as gelet word daarop dat die vroegste Afrikaans (weliswaar in Arabiese skrif - lees van links na regs) deur Abu Bakr se "Uiteensetting van die Godsdiens'" gebruik is in vanmelewe se dae.
      So; om die rol van ons geliefde taal-patriotte - die Genootskap van Regte Afrikaners te misken, of selfs te probeer verkleineer; is oëverblindery op sy beste.
      Maar, natuurlik ook, is die wonder van Afrikaans aldaar hier te danke aan al drie sy wortels en geeneen waag misken word nie nl: Europees, Asies en Afrikaans.
      Eweneens, moet daar altyd dankbaarheid getoon word teenoor elke groep wat besit neem van Afrikaans in al sy verstommende variëteite, en die welbehae daarvan op die hart dra, naamlik ons en ons bruin broers en susters: verenig in ons pragtige taal, gemeenskaplike erfenis, geskiedenis en ons kultuur verwantskap en oorsprong: nl. Kaapland.

  • Avatar
    Christo H GROBLER

    Is dit waar as ek noem dat daar meer mense van alle rasse in SA Afrikaans in hulle huise praat. Ek maak die stelling dat bitter min mense wat Engelse klas gehad het Afrikaans kan praat, daarenteen praat die meeste kinders wat Afrikaanse skole bygewoon het duidelike verstaanbare en goeie Engels. Ek het onderhoude gehad waar ek jong Engelssprekende mense wat om werk aansoek doen wat Afrikaans in matriek geslaag het met beter punte in Afrikaans as in Engels, en met die onderhoud omtrent niks Afrikaans kon praat nie. Maar elke Afrikaanse persoon kon Engels praat. Die onderhoude was in Engels en in Afrikaans gedoen.

  • Het so pas 'n maandlange vakansìe in Ierland gehou. Dit is bemoedigend om te leer dat na duisend jaar van Engelse onderdruķking daar steeds 15 persent van die Iere is wat die oorspronklike Galliese taal as huistaal het veral in die landelike dele.

  • Avatar
    Henriette Jacobs

    Mag hierdie een van vele inisiatiewe wees om Afrikaans te koester en sy regmatige plek in ons samelewing te verseker! Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top