Ommietafel: Afrikaans is nie die “issue” nie

  • 14

Afrikaans is nie die taal van die verdrukker nie. Toe die land in 1976 tydens die Soweto-onluste gebrand het, is die stryd teen verdrukking by die Universiteit van Wes-Kaapland in Afrikaans geveg.

Danny Titus
Foto: Leon de Stadler

So het die uitvoerende direkteur: Kultuur van die ATKV en oud-UWK-student Danny Titus verlede Vrydagaand tydens die Ommietafel-gesprek in die Paarl gesê. Die geleentheid waar daar jaarliks reguit om die tafels oor Afrikaans gesels word, is deur Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en die organisasie Vriende van Afrikaans aangebied.

“Afrikaans was nie vir ons die issue nie,” het Titus gesê. Dit het oor baie meer as taal gegaan.

Die Ommietafel-gesprek word jaarliks ter viering van Taaldag aangebied. Die vraag waaroor daar vanjaar nagedink is, was waarom Afrikaanse mense hulle kinders na Engelse skole stuur.

Die gehoor, wat uit min of meer ewe veel wit en bruin Afrikaanse mense bestaan het, het spraaksaam om die tafels deelgeneem aan die lewendige gesprek oor Afrikaans.

Die paneel bestaande uit Danny Titus, Izak de Vries (joernalis en pa), Liezel Van Beek (sakevrou) en Sabina Dumas (opvoeder) het die gesprek ingelei. Sedick Crombie was die gespreksleier.

Sommige lede van die paneel het hulle kinders in Engelse skole gesit en ander in Afrikaanse skole. Maar almal was dit eens dat Afrikaans ʼn volwaardige plek in die samelewing moet beklee naas al die ander landstale.

Titus, wat Afrikaans, Engels en Nederlands vlot praat, is een van diegene wie se kinders in Engels skoolgegaan het. Hy en sy gesin het die land in 1981 tydens die apartheidsjare verlaat en in Nederland gaan woon toe sy oudste kind ʼn baba van ses maande oud was.

Omdat die verskil tussen Afrikaans en Nederlands baie verwarrend kan wees, het hulle hul dogter ná hulle terugkeer Suid-Afrika toe in ʼn Engelse skool geplaas. Later is ook hulle jongste dogter na ʼn Engelse skool gestuur, omdat die gesin nie kans gesien het vir die ideologiese spanning wat geheers het by ʼn skool waar “Die Stem” destyds nog gesing is nie.

Titus pleit vir ʼn middelgrond en vra vir oop gesprekke sodat mense kan wegbreek uit wat hy beskryf as die taalverstardheid van sommige.

“Om soos AfriForum by studente se klasse by die Universiteit Stellenbosch in te storm” om vas te stel hoeveel Afrikaans en Engels daar gepraat word, is volgens hom oordrewe aktivisme.

Sabina Dumas, ʼn opvoeder by New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, sê sy maak haar kinders definitief in Afrikaans groot. Haar kinders gaan na ʼn Afrikaanse skool toe. Dumas, wat in 2015 die Neville Alexander Prestige-toekenning ontvang het, sê dit frustreer haar dat ouers wat dikwels self nie behoorlik Engels kan praat nie, hulle kinders na Engelse skole stuur.

Dit is ʼn sentiment wat deur baie deelnemers in die gehoor gedeel is.

Foto: Leon de Stadler

Soos baie ander sprekers het sy ook ʼn lansie gebreek vir Kaapse Afrikaans. “Afrikaans is oop en hoort nie in ʼn boksie nie,” het sy gesê en ʼn paar voorbeelde van Kaapse Afrikaans uitgelig wat die gehoor laat glimlag het. “Wanneer die kinders in die klas sê: ‘Juffrou ons gaan ʼn lange gooi’, dan weet ek hulle gaan nou loop. En wanneer iemand sê ‘Jy hou jou al weer Gam’, dui dit op maniere wat uniek is aan bruin mense.”

Izak de Vries, ʼn wit pa met ʼn swart seun, is ook gekonfronteer met die vraag in watter skool hy sy kind gesit het toe sy seun skoolryp word. Hy het sy seun Afrikaans grootgemaak, maar het op ʼn Engelse skool besluit vanweë die praktiese situasie daardie tyd omdat sy donker seun destyds makliker daar sou aanpas.

Sedrick Crombie, Liezel van Beek, Sabina Dumas, Danny Titus en Izak de Vries
Foto: Leon de Stadler

De Vries, wat self ʼn vurige kampvegter vir Afrikaans is, het gemaan dat mens versigtig moet wees om nie Afrikaans te gebruik om ras en klas eksklusief te hou nie.

“Ons moet baklei vir Afrikaans, maar ons moet ook ander tale bemagtig, want dit is al hoe ons ʼn beter kans sal hê om ook Afrikaans te bemagtig,” het hy gesê.

Liezel van Beek het gesels oor haar tyd in Taiwan, waar sy Engels gegee het. Sy sê daar is vir haar as iemand wat nie self kinders het nie, baie vrae oor Afrikaans wat in haar gemoed opkom. “Wie se belange word in ag geneem en in wie se belang dink ons wanneer ons praat oor Afrikaans as medium van onderrig?”

Soos by feitlik al die ander sprekers was haar pleidooi dat daar na meertaligheid gestreef word en nie slegs na Engels nie.

Deelnemers uit die gehoor was hoofsaaklik sterk ten gunste daarvan dat die belange van Afrikaans beskerm moet word en dat ouers hulle kinders na Afrikaanse inrigtings moet stuur. Dit is egter belangrik dat hulle ook vlot in Engels moet wees en verkieslik ook ʼn derde taal aanleer, soos Xhosa.

Michael le Cordeur
Foto: Leon de Stadler

Die woelinge oor taal by die Universiteit Stellenbosch het meer as een keer in die gesprekke opgeduik. Een van die deelnemers uit die gehoor, Michael le Cordeur, het ʼn paar wenkbroue laat lig toe hy beweer het Stellenbosch is Engels.

Hy het die media daarvoor blameer dat mense nog dink Stellenbosch is Afrikaans. “Die media moet ophou om te maak of Stellenbosch Afrikaans is.” Sy raad is dat mense in die eerste plek hulle huistaal onder die knie moet kry en dan sorg dat hulle ook vlot Engels kan praat en indien moontlik ook ʼn derde taal.

Van die gespreksgenote om die tafels het onderling van hom verskil dat Stellenbosch oorwegend Engels is.

Tussen al die verskillende dialekte en klemverskille oor Afrikaans was die een gemene deler dat Afrikaans se belange beskerm en uitgebou moet word, maar dat meertaligheid die antwoord is vir Suid-Afrika met al sy diversiteit.

Izak de Vries som dit so op: “Oor een ding is daar saamgestem: Afrikaans se komvandaan is ’n bastertaal met baie, baie invloede. Hierdie verbastering word ook by die Taalmonument gevier.”

Amanda de Stadler van Vriende van Afrikaans saam met Isabeau Botha van Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

  • 14

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit grief my dat daar van "issue" pleks van "kwessie" gepraat word. 'n Mens sou dink dat die Afrikaanse Taalmuseum en -momument heilige plekke vir Afrikaanssprekendes is en dat 'n mens daar eerder van Standaardafrikaans as die mengeltaal Kaaps sal hoor. Afrikaansbyeenkomste ontaard glad te dikwels in 'n teater van die absurde. Die ATKV-kultuurhoof laat sy kinders in Engels skoolgaan en 'n oud-voorsitter van die Afrikaanse Taalraad steun nie net die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch nie, maar verklaar sommer die hele plek sonder meer as Engels. Afrikaans het behoefte aan beter kampvegters.

    • Avatar
      Ada James-Almano

      Ek verskil hier ten sterkste. Eerstens is Standaardafrikaans ook maar net 'n variant van die taal, Afrikaans. Wie besluit in die eerste plek dat die standaard die hoogste status behoort te geniet? Normaalweg is dit diegene wat die meeste mag en aansien het. Die status van 'n taal word ook beïnvloed deur politiek en ander sosiale faktore. Het ons vergeet dat nie eens honderd jaar gelede, die standaard as 'n 'kombuistaal' beskou is, maar dat die status verander het toe die politieke klimaat verander het nie? Ons leef in 'n veranderde en immer-veranderende samelewing. Myns insiens is Dr Danny Titus absoluut daarom geregtig om 'n tipe 'code-switching' of dan 'style-switching te doen as dit sy doel is dat sy gehoor die boodskap wat hy wil oordra, VERSTAAN (Ja, hoofletters. Taal en kommunikasie gaan uiteraard tog ook verstaan). Verstaan is egter ook relatief: Hoe goed verstaan die hoorder/aangesprokene. Afrikaans (en so ook ander tale waar daar verskillende variante bestaan, behoort inklusief en verteenwoordigend van al sy sprekers te wees. (Ek wonder nou waarom gebruik ek die manlike vorm in my verwysing na taal.)
      Tweedens: Dit is elke ouer se reg om sy/haar kinders groot te maak in die taal wat hulle meen dalk 'n groter nut sal wees in later jare. Hoe weet ons dat Dr Danny Titus se kinders nie selfs 'beter' Afrikaans besig as die kinders van ander sogenaamde standaardsprekers van Afrikaans nie? Nie dat dit enigiemand se besigheid is nie.
      Dr Danny Titus is na my mening die mees aangewese persoon vir die pos wat hy beklee. Die ATKV is nie net daar vir die standaardvariant nie, maar vir Afrikaans en kultuur van ALLE variante van die taal, Afrikaans, en vir alle kultuurgroepe. SELA.

      • Avatar
        Ada James-Almano

        Tydens 'n herlees het ek 'n paar 'vingerfoute' ontdek. Ek vra nederig daarvoor om verskoning voordat ek daaroor gekruisig word.

  • Avatar
    Hanno Visagie

    “Om soos AfriForum by studente se klasse by die Universiteit Stellenbosch in te storm” om vas te stel hoeveel Afrikaans en Engels daar gepraat word, is volgens hom oordrewe aktivisme. Watter polities korrekte twak.

  • Avatar
    Adriaan Oosthuizen

    Die artikel het my gehelp om te verstaan waarom Danny Titus se stem so klankhelder in Engels geklink het op sy antwoorddiens toe ek hom geskakel het vir advies.

    • Avatar
      Ada James-Almano

      Reg, né! Veeltaligheid is tog so voordelig. Dis mos nie net Afrikaanssprekendes wat inbel nie? Dalk kry hy ook oproepe van ander taalgroepe, dalk nog van oorsee van lande waar niemand Afrikaans ken nie?

  • Avatar
    Renée du Toit

    Debat weerspieël goed die wydheid van die gevoelens oor Afrikaans. So verfrissend om die groen blaartjies te sien wat wys die Afrikaanse boom hou aan met groei.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit lyk vir my asof Ada hier halsoorkop ingestorm het in 'n saak waaroor reeds dikwels op LitNet en elders geskryf is. Ná 1994 het dit tradisie by Afrikaanse instansies soos die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en die Afrikaanse Taalraad (ATR) geword om allerhande variëteite van Afrikaans en veral die mengeltaal Kaaps te koester en verwysing na Standaardafrikaans soos die gif te vermy. Uit die genoemde twee oorde is pleidooie vir taalsuiwerheid taboe. Standaardafrikaans is nie bloot 'n Afrikaansvariant op dieselfde vlak as al die ander nie. Standaardafrikaans is die soort Afrikaans wat die beste kans op oorlewing het en verskansing teen verdringing deur Engels bied. Kaaps, daarenteen, het geen verweer teen Engels nie, wend geen poging daartoe aan nie en word dus toenemend Engels.
    Die vorige hoogs misleidende uitstalling oor die geskiedenis van Afrikaans by die Taalmonument was die produk van mense aan die Universiteit van Wes-Kaapland en in Genadendal. Tydens my laaste besoek aan die Taalmonument 'n aantal maande gelede was daar nog net drie panele van 'n nuwe uitstalling beskikbaar, maar Nelson Mandela is reeds prominent deel daarvan. Hoewel Mandela en Neville Alexander hoogs sydelings by Afrikaans betrokke was, word die valse indruk deur die ATM gewek dat hulle 'n uitsonderlike bydrae tot Afrikaans gelewer het. Die klem wat op oud-Robbeneilanders geplaas word, geskied ten koste van afdoende erkenning vir die deurslaggewende rol wat lede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gespeel het, asook CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw, wat albei die ontwerp van die Taalmonument beïnvloed het. Let daarop dat die bogenoemde byeenkoms ter huldiging van die stigting van die GRA (op 14 Augustus 1875) gehou is, maar daar is geen woord oor die GRA in die bostaande berig nie en die benaming Taaldag pleks van Afrikaansdag word gebruik. Dit is bekend dat die taal van die ATM-direksie deesdae eerder Engels as Afrikaans is, maar nêrens klink heftige beswaar daarteen op nie.
    Danny Titus is van huis uit 'n Afrikaanssprekende afkomstig uit Worcester wat onderrig deur die medium van Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland ontvang het. Hy was ses jaar lank in Nederland woonagtig. By sy terugkeer na Suid-Afrika het hy sy kinders in 'n Engelse skool geplaas. Sy huistaal is blykbaar (oorwegend) Engels. As sy jarelange verblyf in Nederland hom nie lojaal teenoor Afrikaans gestem het nie, sal seker niks sy voorkeur vir Engels verander nie. Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is in 1930 vir Afrikaanse, christelike blankes gestig. Die oorgrote meerderheid ATKV-lede het steeds daardie drie eienskappe, al is lidmaatskap sedert 1994 aan nie-Afrikaanssprekendes, nie-christelikes en nie-wittes oopgestel. Die amptelike doel van die ATKV is steeds om ons Afrikaanse erfenis uit te bou en te bewaar, insluitende skoolonderrig deur die medium van Afrikaans. Indien Afrikaans nie dié kern van Afrikanerkultuur is nie, is dit onbetwisbaar 'n kernelement daarvan. Myns insiens behoort Titus nie die ATKV se kultuurhoof te wees nie omdat hy nie toegerus is om hom met die Afrikanerkultuur van die meerderheid ATKV-lede te vereenselwig nie. Uit hoofde van sy ATKV-amp dien Titus ook in die direksie van die ATR.
    Michael le Cordeur het eens hoog opgegee oor Afrikaans. Hy was die voorsitter van die ATR, dien steeds in die direksie van die ATKV en is ook deel van ATM-bedrywighede. Daarbenewens is hy 'n trustee van Het Jan Marais Nationale Fonds, wat onder meer beteken dat hy hom daarvoor moet beywer dat Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels aan die Universiteit Stellenbosch (US) mag beklee nie. Desnieteenstaande is Le Cordeur onomwonde ten gunste van die verengelsing van die US.
    Christo van der Rheede was jare lank die hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). Een van die hooffunksies van die SBA is om bruin ouers en kinders te motiveer om skoolonderrig deur die medium van Afrikaans te ontvang. Desnieteenstaande het Van der Rheede sy kinders Engelse skole laat bywoon.
    In "Kouevuur" sing Koos du Plessis: "Daar's te veel met die wêreld gefoeter; daar's te veel met die mense gemors." Insgelyks sê ek: Daar's te veel met die Afrikaner gefoeter; daar's te veel met Afrikaans gemors." Dit is noodsaaklik dat eerlik oor die werklike stand van Afrikaans besin word pleks van jolige byeenkomste te hou asof daar fundamenteel niks skort nie. As dit vir ons werklik om die heil van Afrikaans gaan, moet ons die moed van ons oortuiging hê om 'n streep in die sand te trek en bv die valse profete van Afrikaans te identifiseer. Daar is sekerlik talle beter kampvegters wat hulle plekke kan inneem.

  • Avatar
    Ada James-Almano

    Dis nou amper presies drie jaar later en ek lees nou toevallig weer die pos. Wat my tref: "... die kanse op oorlewing...". Soos ek gesê het, en ek volstaan daarby: Alle dialekte, asook die standaard, is variante van die taal...enige taal. My vraag is steeds: Wie bepaal wat is reg/aanvaarbaar. Normaalweg is die mees-gerespekteerde variant daardie variant wat deur diegene met die meeste mag, gebesig word. 'Mag' is natuurlik ook kontensieus. Gewoonlik verwys 'mag' in hierdie konteks na politieke of finansiële mag. Weereens wil ek verwys na die veranderde en immer-veranderende wêreld waarin ons leef. Geen taal is staties nie. SELA

  • Avatar
    Ada James-Almano

    Laastens: Inklusiwiteit is al wat Afrikaans nog kan 'red'. Daarmee bedoel ek nie dat Kaaps as volwaardige taal erken behoort te word en dat die standaarvorm 'opgemors' moet word nie. Dis dan ook die rede, tesame met globalisering en die snelle ontwikkeling van tegnologie, dat daar meer code-switching plaasvind, ook onder geledere van standaardsprekers. Ek is beslis nie 'n kampvegter vir Kaaps nie, maar ek moedig respek vir alle variante van die taal aan. Die feit is dat dit juis die Afrikaner is wat verdeeldheid geskep en uit sommige oorde dit nog steeds propageer, en sodoende veroorsaak het dat dit tot die vorming van ander variante gelei het. Die vraag dan: Waarom hou nie-sprekers van die standaardvorm daarby vol om hul variant te besig al besef hulle dat hul gebruik van die taal nie dieselfde hoë 'aansien' geniet as die standaard nie? Ek sal probeer om te antwoord:
    Die sprekers van Kaaps, om een voorbeeld te noem.
    1. As 'n mens praat, bly die manier hoe jy praat, normaalweg benede die vlak van die bewussyn. Daarmee bedoel ek jy fokus op wát jy wil sê en nie hóé jy dit moet sê nie, behalwe wanneer jy jou in 'n situasie bevind waar jy op jou taal moet let.
    2. Die sprekers se gevoel van lojaliteit teenoor hul 'eie' ... familie, vriende, gemeenskap, ens.
    3. Onbewustelike vrees om gespot en uitgekryt te word as waarna vandag relatief algemeen verwys word as 'coconut'.
    4. Hul eie gevoel van identiteit 'van 'behoort tot'.

    Diegene wat aspirasies het om tot die 'wit middelklas' te behoort, ervaar juis innerlike konflik, so asof hulle dislojaal teenoor hul 'eie' kultuur-/taalgroep is.

    Ek het my kinders ook Engelssprekend grootgemaak, want hulle is op die Kaapse Vlakte grootgemaak waar Engels die dominante gebruikstaal is. Ek is egter trots Afrikaans en trots daarop dat hulle beide tale goed verstaan al is hul gebruik van Afrikaans nie op die vlak wat ek sou verkies nie. Dit gaan egter nie oor my en my voorkeure nie, maar om hulle toe te rus met die vaardigheid om beter in die geglobaliseerde, getegnoliseerde wêreld te kan funksioneer.

  • Avatar
    Ada James-Almano

    Getegnoliseerd ... Sommer my eie 'nuutskepping', indien die woord nie bestaan nie. 🤭 😂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top