Die wat weet, sal saamstem dat ek ’n radikale houding oor Afrikaans het. Dit het al in talle skrywes deurgekom. Soos byvoorbeeld dat die taal nie die wit mens taal is nie, dat die slawe in die Kaap ’n groot bydrae tot die taal gelewer het en ander radikale standpunte wat as ongewild beskou kan word.
Ek was die afgelope ses maande intens betrokke in die Noord-Kaap met die beplanning van ’n projek wat later die maand geloods word. En gedurende die tyd het ek geleer dat swart, bruin en Indiër passievol Afrikaans praat. Dit is andersoortige mense – trots op hul taal. En in baie gevalle is van hulle tot drie bykomende tale magtig.
Dus het ek ’n bekende rubriekskrywer aangevat oor sy kommentaar oor die Idols-deelnemer van Port Nolloth wat sy ma gebel het om in Afrikaans te sê hy is deur na die volgende ronde toe. Behalwe dat die rubriekskrywer se Facebook-inskrywing oppervlakkig was, toon dit bruines steeds gatkruiperig teenoor wittes is. Te veel word ’n mens takseer weens jou velkleur.
Hoeveel keer wil bruines dieselfde handskoene aantrek wat wittes in hul houding teenoor swartes openbaar. Om die waarheid te sê dink ek die Noord-Kaap dalk die suksesvolste model van Suid-Afrika post-1994 is juis omdat Afrikaans soveel mense met mekaar bind.
Daar word nie gelag vir Afrikaans nie. Dit is die taal waarin talle omgaan – by die werk, skool, kerk … Ek was aangenaam verras toe ek by ’n Wimpy sit en hoor hoe ’n swart kelnerin aan ’n wit paartjie hul biefstuk aanbeveel. Ons het te maklik in daardie steak-grein verval.
En elke keer as ek Noord-Kaap toe gaan, sien ek sommer uit net om te hoor hoe Afrikaans gepraat word. Dit op sy eie is ’n belewenis. En slang word baie min gebruik. Anders as wat soveel Afrikaner-rolmodelle gebruik.
Volgens ’n aanhaling wat op Google verskyn van die skrywer Dan Jacobson, die volgende: "The people I had known had vanished; so had their language. That contributed to my ghostlike state. In my earliest years the whites of Kimberley spoke English only; Afrikaans was the tongue of the Cape Coloured people ... Now I was addressed in Afrikaans everywhere I went, by white, black, and Coloured alike."
Maar Afrikaans gaan ’n lang pad moet stap om die Thoko’s, Tshepo’s, Vusi’s en so meer wat Afrikaans praat, te ontvou.
Wit Afrikaners gaan die verskoning moet weggooi dat hulle Boere is. Daar bestaan nie so ’n volk nie. En hulle sal swart Afrikaans-sprekers met respek moet behandel, en die kombuistaal in die agtergatsak moet druk.
Eweneens sal daar plan gemaak moet word – die FAK, ATKV en sulke organiasies is nog te elitist. En swart gesigte is min op hul uitvoerende besture. In die opsig doen die SAVF beter as die organisasies wat grootliks deur mans oorheers is.
En daardie geskinder en gefluister in kroeghoekies sal plek moet maak vir positiewe gesprekvoering.
Indien iemand probeer om Afrikaanse te praat, moet nie lag nie – help.
En in dié opsig behoort die staat ’n groter rol te speel op die taalkundige beleid van die SABC waar sommige Afrikaans-sprekendes dink dat hulle die heethoofde van die taal is. Daardie houding doen meer skade. En die Afrikaanse media sal meer met swart Afrikaans-sprekers moet kommunikeer om vas te stel wat hul behoeftes is – in Afrikaans.
En so terloops, daar is ’n styging in wit Afrikaanse kinders wat na Engelse skole gaan en praat.
Dit is duidelik dat Afrikaans wel sal oorleef, maar die skeidslyne sal moet vervaag.
Yuri


Kommentaar
Beste Yuri
Die Noord-Kaap is ongetwyfeld oorwegend Afrikaans en die gehalte van daardie Afrikaans is beter as in bv sekere kringe in die Wes-Kaap. Daar word 'n universiteit vir die Noord-Kaap in die voortuitsig gestel. Ek het al talle teksboodskappe aan Afrikaanse koerante gestuur waarin ek vra dat 'n veldtog gevoer moet word om te sorg dat dit 'n universiteit met Afrikaans as onderrigtaal moet wees. Daar is nie net nagelaat om my teksboodskappe te publiseer nie. Sover ek weet, is daar nog in geen koerant voorspraak vir 'n Afrikaanse universiteit in Kimberley gedoen nie; ook nie in Nelspruit nie, die ander sterk Afrikaanse omgewing waarin 'n universiteit gevestig gaan word. Hoe Afrikaanse koerante die heil van Afrikaans en die toekomstige afset van hulle koerante op hierdie manier kan bevorder, gaan my verstand te bowe. Eers wanneer dit te laat is, dws as die ANC-regering hierdie twee universiteite eentalig Engels verklaar, sal enkele kultuurvrate ligweg beswaar opper.
Johannes Comestor
Hoor! Hoor!
In 'n vorige debat (in die antieke verlede) met Jan Rap, het ek volhou dat Afrikaans ontstaan het, aanvanklik as gevolg van die verbastering van Hollands deur die Maleise slawe, en later as gevolg van ander inheemse inboorlinge soos die Koi en San. Die Franse Hugonote het 'n geringe invloed, asook Duits in die formering van Afrikaans. Blanke kinders het van kindsbeen af op die skote van hulle slawe "nannies" grootgeword en in die proses hulle patois aangeleer. Hulle het ook met die slawekinders saamgespeel. Afrikaans het gevolglik die gemene taal onderling geword, terwyl Hollands die geskrewe en kerk taal behoue gebly het tot vroeg in die 20st eeu onder blankes. Paul Kruger het Afrikaans gepraat, Hollands geskryf en in Hollands in sy dopper kerk gepreek. Die gelofterede van Sarel Celliers was in Hollands geskryf. Afrikaanse bewustheid onder blankes het eers vroeg in die 20ste eeu posgevat ten tye van die taal bewegings gedurende daardie tydperk.
Selfs die Engelse het agtergekom blankes praat twee tale, nl. "Kitchen Dutch" (wie het in die kombuis gewerk?) 'n taal in algemene omgang; en "High Dutch" in skrif, skool, kerk en ander formele geleenthede.
Weens die taalbewegings, het blankes die taal vervolmaak tot wat dit vandag is, en omrede dit van toe af 'n uitsluitlike blanke inisiatief was, het 'n verskuiwing tussen hoe blankes Afrikaans praat, begin verskil met hoe die bruin mense Afrikaans praat. Apartheid het later blankes en bruinmense van mekaar totaal geskei, tot die hedendaagse gevolg dat twee strominge Afrikaans in omgang is, met vandag se bewustheid onder bruinmense om AfriKaaps as taal te wil ontwikkel.
En Ja! Afrikaans het sy oorsprong onder die Kaapse slawe. En Ja! Rock 'n Rol het sy oorsprong onder die Amerikaanse-negers. In albei gevalle, het blankes dit vir hulsef ge-ko-opteer, en tot heel onlangs uitsluitlik en eksklusief vir hulself ge-eien.
Yuri. Die Afrikaanse organisasies deur jouself hierbo genoem, moet jy onthou was oorspronklik blanke innisiatiewe, so die te veel blanke gesigte moet in daardie konteks gesien word. Dit is 'n gegewe dat die te veel wit gesigte in genoemde organisasies in die nie te ver toekoms heel anders daar gaan uitsien. Wees net geduldig.
Ek is trots op almal wat hulle merk op die Afrikaanse taal gemaak het, en hulle is my mense ook, nl. die Maleise slawe; die Koi en San; die Hollander; Duitsers; Hugenote; Engelse; Skotte; die bruinmense en nou in die onlangse proses, swartes ook. Die Maleise Islamse Koran is dekades lank voor die Bybel, in Afrikaans vertaal, inteendeel, selfs voor die eerste Afrikaanse taalbewegings.
Dit pla my hoegenaamd nie dat sekere blankes hulself eerder as "Boere" uitgeken wil word nie. Dit is hulle konstitusionele reg. Afrikaans bly hulle taal. Dit my ook nie dat sekere bruin mense eerder as Griekwas uitgeken wil word nie. Afrikaans bly hulle taal ook.
En ja! Dit bly tragies dat daar nog mense in vandag se tye is wat Afrikaans op 'n kleur grondslag wil omskrywe. Ons lewe in 'n "time of flux". Twintig jaar van nouaf, sal dit net die miniskule minderheid wees wat sodanige siening nog sal wil huldig. En ja! Afrikaners (swart, wit of bruin) wat hulle rug op Afrikaans draai, en eerder Engels kies, pla my ook nie. You loose some you win some. Jy het self van Indiers genoem wat 'n aanwins vir Afrikaans is. Ek sal eerder lou-warm Afrikaners in Engelse geledere wil sien as wat hulle aanbly en die Afrikaanse taal ondergrawe.
Jaco Fourie