Afrikaans: my boek sonder einde

  • 1

......................

“Ek het nie geweet hoe divers die taal is nie en dat ek
deel van Afrikaans se diversiteit is nie.”

......................

Tien jaar gelede het ek nie kon droom ek sou Afrikaans studeer nie. Wat nog van ’n beroep in Afrikaans, of Afrikaans as beroep. Ek wou ’n dokter word, of ’n iets.

Maar Afrikaans was ’n passie wat stadig ontwikkel het, ’n liefde wat oor jare gegroei het en toe nie wou weg nie. Op ’n dag het ek net geweet dis vir keeps. Dis wie ek is, dis die taal wat my gevorm het, die taal waarin ek kon groei, die taal wat in my kom groei het en waarin die diepste van my herinneringe keer op keer ’n lewe kry.

Carlien Hendricks (bo links)

Ek het grootgeword in Bishop Lavis, in Afrikaans, met Afrikaans. Hiermee bedoel ek nie net dat ek dit praat of dat dit my huistaal is nie. Ek bedoel dat dit altyd deel van my was, deel van my lewe, van wie ek is. Dis so deel soos die tye toe ons nie kon wag vir M-Net nie, vir Egoli. Ek is te jonk om te weet of ek dit gekyk het, maar ek onthou die saamsit met my familie voor die televisiestel. Soos 7de laan nou. Ons familietyd.

Movies soos Fiela se kind. Biblioteek toe met my ma en antie. Afrikaans was daar in die stories langs die pad en in die winkel. My ervaring in Afrikaans loop diep.

......................

“Tien jaar gelede het ek nie kon droom ek sou Afrikaans studeer nie.
Wat nog van ’n beroep in Afrikaans, of Afrikaans as beroep.”
......................

In graad 7 word ek toe gekies om my laerskool in ’n leeskompetisie te verteenwoordig. Ek moes Engels lees en my klasmaat Afrikaans. Toe ek daar kom, slaan die verhoogvrees my vir ’n tien. Ek lees Afrikaans, het ek besluit. Dis waar ek tuis is, waar ek hoort. Stage fright in my tweede taal was die ergste ding wat my al oorgekom het. Ek en my klasmaat het uiteindelik albei in Afrikaans voorgelees.

Afrikaans was nie altyd vir my so belangrik soos nou nie. Ek het nie geweet hoe divers die taal is nie en dat ek deel van Afrikaans se diversiteit is nie. Ek besef nou eers dat dit is wie ek is. Toe ek op hoërskool was, het ons Sutherland besoek. Die mense was so gemaklik met ons, het so maklik op ons Afrikaans in hulle Afrikaans gereageer. Ek het onthou hoe lekker dit was om op ’n vreemde plek in my eie taal met ander mense te praat.

My ervaring met Afrikaans is soos ’n reis vol avonture, soos ’n storie wat al hoe meer ontvou, ’n boek sonder einde. Ek verwonder my aan al die nuwe woorde wat geskep word, aan mense wat hul stories op hulle manier vertel. Dit is vir my die merkwaardigste van ons taal. Hoe dit van sprekers storievertellers maak. Dít het ek hier op universiteit kom leer, die afgelope vier jaar wat ek Afrikaans studeer: die mense om my wat nie soos ek klink of praat nie, maar ek leer hul storie ken. Nooit in my vroeër jare, op skool of toe ek grootword, het ek geweet dat hier so baie mense in dieselfde land is wat een taal praat, maar op soveel verskillende maniere nie.

......................

“Ek sien en hoor hoe mense lééf in die Afrikaanse variëteite wat hulle praat.”

......................

Hoe kan ’n mens dan glo dat só ’n veelkleurige taal sommer so kan verdwyn? Vir my kan dit nooit waar wees dat Afrikaans aan die uitsterf is nie. Ek hoor en sien hoe mense dit al hoe meer gebruik, al hoe meer studeer. En dat hulle, soos ek, trots is op hul Afrikaans.

Ek was altyd ’n leser, maar op hoërskool het ek al minder begin lees. Die tegnologie het my lewe kom oorheers. Maar daar was altyd ’n koerant of ’n tydskrif in ons huis, Afrikaanse leesgoed. Hier om my maak mense hul kinders in Engels groot, al is hul huistaal Afrikaans. Ek verstaan dit nie, maar ek bewonder mense wat hul huistaal met trots praat. Vir my is Afrikaans deel van my herkoms, en ’n belangrike deel van my lewe.

As dit nie vir my graad 12-Arikaansonderwyser was nie, was dit seker maar vir my net nog ’n taal. ’n Taal wat ek kon praat en klaar. En nou, as ’n aspirantnavorser in Afrikaans, veral die Afrikaanse taalkunde, verwonder ek my aan hoe die taal en al sy verskillende vorme oor tyd heen verander. Die mooi wanneer ’n woord geskep word uit enigiets en betekenis kry. Soos ons doen in die gebied waar ek woon en grootgeword het en alles wat ons is in Kaaps uitdruk. Ek sien en hoor hoe mense lééf in die Afrikaanse variëteite wat hulle praat.

Carlien Hendricks is ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top