“Die minister van hoёr onderwys, wetenskap en innovasie, Blade Nzimande, het uiteindelik toegegee dat Afrikaans, asook die San- en Khoi-tale, Suid-Afrikaanse inheemse tale is. Dit was ’n gesamentlike poging deur verskeie rolspelers om hierdie ommekeer in die taalbeleidsraamwerk van die departement te bewerkstellig, en niemand kan ’n oorwinning eis vir ’n stryd om Afrikaans en die Khoi- en Santale die erkenning te gee wat hulle verdien nie,” voer Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk aan.
Sedert die bekendmaking van die regsopinie waarin die definisie van inheemse tale in die taalbeleidsraamwerk gewysig sal word, het dit duidelik geword dat die minister sy hand oorspeel het. Afrikaans is sonder enige twyfel ’n inheemse taal wat hier onder die hange van Tafelberg ontstaan en ontwikkel is deur slawe wat van verskillende uithoeke van Afrika asook Suid-Asiё gekom het. Die Khoi- en Santale was in gebruik honderde jare voor die aankoms van die sprekers van die Suid-Bantoetale in Suidelike Afrika. Hierdie tale is steeds lewendig en word in veral die Noord-Kaap en Suid-Botswana gebesig. Daar was dus geen rede om hierdie tale nie as inheems te erken nie.
Ons het groot waardering vir die rol wat gespeel was deur Leon Schreiber, aangewese minister van publieke administrasie van die Demokratiese Alliansie (DA), om deur volgehoue druk, die minister te dwing om die regsopinie bekend te maak wat blykbaar sedert verlede jaar Oktober in sy besit was. Dit het die agbare minister genoop om ’n regsomkeer te maak en sy amptelike standpunt te verander ten opsigte van die nie-erkenning van Afrikaans. Afrikaans kan nie meer gesien word as die taal van die verdrukker nie. In teendeel – Afrikaans is ’n taal van bevryding wat ’n nasionale bate is en as sulks sy regmatige plek inneem langs ander inheemse tale soos grondwetlik erken word.
DAK Netwerk het sedert Julie 2021, ’n onophoudelike en deurlopende versetpoging teen die beleid van die minister aangeteken. Dit het ons gedoen deur middel van skrywes asook die protesnota van agtien bladsye waarin ons dit baie duidelik gestel het waarom Afrikaans as ’n inheemse taal gereken moet word. (Hierdie dokument is te lees op LitNet). Ons het dit opgevolg met verskeie versoeke om met die minister te ontmoet waartoe hy ingestem het, maar nooit sy weg kon oopsien om met lede van DAK te ontmoet nie. Ons het op 11 April 2022 ’n protesoptog na die kantoor van die minister, in Pretoria, gehou, waar ons die protesnota fisies aan ’n departementele amptenaar oorhandig het. Op versoek van Leon Schreiber het ons die dokument met hom gedeel en ook toestemming aan hom verleen om die kwessie in die parlement ter berde te bring – wat hy wel gedoen het, en waarvoor ons groot waardering het.
Intussen het die Afrikaanse Taalraad (die ATR), ook ’n versoekskrif gerig waarin lede-organisasies en ander individue hul steun toegesê het om Afrikaans as ’n inheemse taal te erken. Hierin het ook Studente Plein hul betrokkenheid onomwonde gestel. Die DA het ’n aanlyn protesnota gepubliseer wat deur meer as agtduisend mense onderteken is. Selfs die Vryheidsfront Plus en AfriForum het hul misnoё in hierdie verband te kenne gegee. Ons glo dat die druk van alle kante uiteindelik ’n bydrae gelewer het tot die finale uitspraak deur die minister.
Dit was ’n aanslag van die staat teen Afrikaans wat gestuit moes word. Die minister se indruk dat hierdie kwessie slegs deur wit Afrikaanssprekendes gedryf was, was misplaas. Dit het gelei tot onnodige verdagmakery waarteen alle Afrikaanssprekendes hul stem moes laat hoor. Dit was ’n inklusiewe stryd wat uiteindelik vrugte afgewerp het. Dit is jammer dat een van die rolspelers nou die kollig wil steel en ’n oorwinning eis wat hulle nie verdien nie omdat hulle maar een van ’n drukgroep was wat hierdie stryd gevoer het. Ongelukkig was dit so berig, en is die indruk in die pers geskep, dat die DA alleenlik vir hierdie oorwinning verantwoordelik was. Wat ontken word, is dat dit ’n gekoördineerde poging was om die beleg teen Afrikaans af te weer. Dit was duidelik dat die minister sy slagordes opgestel het om Afrikaans ’n finale nekslag as taal van onderrig en leer toe te dien. Dit was ’n verdere bewys wat bereik kan word as almal wat vir Afrikaans omgee en die taal lief het, saamwerk tot voordeel van alle Afrikaanssprekendes. Net soos DAK Netwerk nie ’n oorwinning kan eis vir die behoud van Afrikaans as inheemse taal nie, net so kan die DA dit ook nie doen nie. Ons waardeer die rol wat hulle gespeel het om die minister tot ander insigte te bring, en voorsien samewerking in die toekoms waar gemeenskaplike sake ons gaan raak.
Die feit dat ’n erkende organisasie soos DAK Netwerk ook hul stem dik gemaak het, het die argument weerlê dat bruinmense nie betrokke is by die behoud van Afrikaans op alle vlakke nie. DAK Netwerk wil weereens die onderneming gee om in die loopgrawe met ander soortgelyke organisasies / partye te klim wat ons doelstellings deel. Die stryd is nog nie gewonne nie en voorsien ons nog ’n lang pad om die erkenning van Afrikaans as ’n wetenskapstaal en taal van onderrig en leer te erken. Afrikaans is nie ’n weggooi-taal nie en het ’n rol te speel tot die ontwikkeling van Suid-Afrika. Die tyd het aangebreek om die credo van ons land uit te leef, naamlik: “Eenheid in verskeidenheid”.
Dit is ons versoek tot die pers om nie die indruk te skep dat hulle slegs ’n gedeelte van die rolspelers in die stryd om die behoud van Afrikaans te ondersteun nie. Afrikaans is veel groter as dit.
Ook hoop ons dat die DA hulle as deel van ’n span sal sien en erkenning sal gee aan almal wat hulle in hierdie verband ondersteun. Saam sal ons meer bereik in die uitoefening van ons grondwetlike regte. Ons sal saam baklei met alle Afrikaanssprekendes om ons regmatige plek as deel van die verskeidenheid inheemse tale in te neem.
DAK Netwerk en die Afrikaanse Taalraad poog steeds om met Blade Nzimande in gesprek te tree oor hierdie kwessie wat meer verdeling gaan meewerk as daar nie tot ’n vergelyk gekom gaan word nie. Ons hoop dat almal wat Afrikaans as ’n nasionale bate sien, sal meewerk om die taal so te vestig.
Suid-Afrika vra dit van ons.
Kommentaar
Dankie!
Ek kry skoon hoendervleis met wat al die betrokke partye vermag het tot dusver.
Hou aan, bou saam, dis lekker, dis goed en dis mooi!
Welgedaan!
Fantasties! Hoe sê 'n mens dankie aan persone wat so 'n fel stryd stry vir ons Moedertaal? Vir elke indiwidu wat moes dink en peins en oordenk en die spanning moes dra om ons standpunte op die bes moontlike manier oor te bring. Ek het groot waardering vir julle. Dit laat my terugdink aan die Taalstryders van ouds. Totius, CP Hoogenhout en so. Dis ongelooflik dat die Afrikaanse taal terug is by daardie punt. Dankie ook vir die insiggewende berig.
Dis 'n groot oorwinning!
Briljante pogings om die minister van Hoër Onderwys, met sy stiksinnige denke, se oë te open vir die feite en werklikhede van inheemse tale in SA.