Die gospelgroep Joyous Celebration het deur die jare getoon dat hulle op die verhoog kan toor. En van hul liedjies is al in verskeie swart tale en Engels gesing.
Tot ek die lied “Klim in” geluister het. Dit het my hoendervleis gegee dat ’n swart vrou met sulke oortuiging en passie Afrikaans kon sing. Die gehoor – wat grootliks swart was – se reaksie daarop het my hart laat bokspring. Daar was entoesiasme onder die gehoor wat tot Steve Hofmeyer soos ’n dwergie sou laat lyk …
Hier het Afrikaans hoogty gevier. Dit is om die rede dat ek nie bekommerd oor Afrikaans en sy toekoms is nie ... Dit is daardie rou, rassistiese baasskap-mentaliteit van ’n minderheid Afrikaners wat swartes koud teenoor Afrikaans laat.
Afrikaans kan onder swart mense gedy.
Dit is liefs die doemprofete en rassiste wat Afrikaans as strydpunt gebruik wat my bekommerd maak. Hulle maak Afrikaanse se naam gat …
Yuri

