Afrikaans is Brink veel vir hierdie liefdesdiens verskuldig

  • 0

Natuurlik juig die kwynende volkie oor elke nuwe uitgawe van die magtige Verseboek. Die digkuns bly die koningin van die letterkunde en wys die beste waartoe ons woordkunstenaars in staat is. Dis jammer dat daar deur sommiges met die lelike woord antologie na die drie dele verwys word. Die woordeboek gee ook bloemlesing, (keur)versameling, keur as beter alternatiewe. Dit verwys na die keur en keuse waarmee daar tussen die talle, kleurryke blomme gelees, gesoek en gepluk is.

André P Brink is sekerlik een van die mees gekwalifiseerde plukkers in die land. Die man lees min of meer alles wat verskyn teen ? verbysterende spoed en steur hom min aan die talle ongeskrewe "reëls" vir kanonisering, soos resensie- en mediablootstelling Sy oordeel kan en moet aanvegbaar wees, maar dit is nooit lukraak nie.

Afrikaans is Brink veel vir hierdie liefdesdiens verskuldig. Mens moet net dankbaar wees dat die grootste kanoniseerder, Kanonimeyer, nie kans gehad het om weer met die volgende van sy talle boeke sy persoonlike kanon as die laaste uitspraak oor die digkuns te bevestig nie.

Brink is duidelik iemand wat sy kaarte op die tafel sit, onbeskaamd kies waarvan hy met sy enorme verwysingsveld hou, en sekerlik vir diegene wat uitgeval het, toewens: Jammer, probeer weer, en beter.

Daar is my gevra of daar ná die postmodernistiese omwenteling nog plek vir die kanon is. Ek het destyds met groot genot geluister hoe ? jong letterkundige, nou baie bekend, verwys het na die "kaNON", dus iets wat vernietigend kan skiet. Ja, destyds het dit. Vernietigend, en Brink het in Rapport geen geringe aandeel daaraan gehad om jong digters se monde toe te skiet nie. Maar toe was toe en nou is nou.

Die antwoord of daar plek vir die kanon is, is ja, en dit sal altyd daar wees. Na veral Foucault weet ons baie goed daar is nie iets soos "dié" (literêre) geskiedenis nie. Ons leef saam met die fragmentering van betekenis en "waarheid", en waardeoordele is onverbiddelik teruggedwing na lesers en nie slegs na "kenners" nie.

Die kanon is nogtans altyd nodig. In die oorspronklike betekenis is 'n kanon ? maatstaf, ? rigtingwyser vir ? nuwe geslag lesers. Daar is maar een finale beoordelaar vir opname in die kanon wat wêreldwyd bestaan: tyd. Iemand soos Kafka kan geen agting vir sy eie werk hê nie, en nogtans herontdek word. Brink is niks meer as ? begeleier in die proses van kanonisering nie. Veronderstel hy hou nie van Boerneef se veer wat val, of Breyten se rooiborsduif wat die liefde dra nie. Beteken dit dat sulke juwele uit die kanon sal verdwyn? Nie solank dit in mense se harte leef nie. Nie solank mense weer en weer lees nie.

Dit sou erg vermetel wees om in ? debat te tree oor alles wat Brink in- of uitgelaat het as jy nie alle digkuns van die afgelope jare gelees het nie, en ek het beslis nie. Mens is maar te bly oor die oplewing na die droogte van poësie, veral aan Protea Boekhuis te danke.

Dis heuglik vir Afrikaans dat daar nou selfs drie dele volgemaak kan word. Die konsep van die blik is minder gelukkig: koop ? blik soos beskuitjies vol verbruikbare, kommersiële poësie om mee te spog en uit te pik. Onvermydelik roep dit ook die huidige polemiek oor "geblikte leeus" op: "Hier is die oulike pragdiere om een vir een volgens jou voorkeure geskiet te word." Laat ons hoop die blik behou basies goeie goed soos boerebeskuit om hulle teen veral nare vogtigheid te beskerm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top