
Foto: Canva
Afrikaans, ek is verlief op jou
Afrikaanswees is partymaal daai tannie met die vape
wat by Liefde By Die Dam ruk en skel:
“Skuif! Ek kannie Karlien van Jaarsveld sien nie!”
Soms kan Afrikaans soos ’n vrot piesang
in jou kombuis voel.
Af en toe word ek na verwys as Europees,
alhoewel ek nog nooit in Europa gebly het nie,
en nie my ouers
óf my oumas en oupas
nóg hulle oumas en oupas ook nie,
en kan ek nie ’n Europese taal praat nie.
Wat beteken tuis as dit aanhou verander?
Is ek die suis van die wind en die see?
Die diep donkerblou waarvandaan ek eens gekom het?
Is ek die tafel,
die eenvoudige gedekte
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die onbevlekte?
Geregtig ek myself deur my Afrikaanswees te beskou as
melktert en sokkie?
Ken ek regtig Afrikaans as ek Afrikaanswees beskou as
Koos Kombuis en ouers wat mekaar “bokkie”?
Afrikaans is die taal
wat vir Wes-Europa en Afrika verbind
Afrikaans vorm ’n brug
tussen die groot helder Weste en magiese Afrika.
Dit is die taal waarin my pa my ma gevra het om te trou.
’n Perlemoen wat alewig vir my wag om hom op te tel in my hande,
sy gesig te omraam,
hom in my palms vas te hou en ewe teer te fluister:
“Afrikaans, ek is verlief op jou.”

