Afrikaans: Drie werklikhede

  • 7

Etienne van Heerden het gesê: "As redakteur moet ek LitNet nooit sien as 'n spreekbuis vir wie ook al nie. Ek moet dit nooit gebruik as 'n manier om bepaalde idees te verkondig nie" (Fred de Vries, Rigtingbedonnerd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, bl 295). LitNet is 'n kulturele webwerf (294), 'n "kuber-Nkandla," waar almal welkom is (293). Slegs menings wat rassisties of lasterlik is, word uitgesluit (295).

Sedert 1994 het Afrikaans baie aan status ingeboet. Pleks van een van twee amptelike tale te wees, is Afrikaans een van 11 amptelike tale. Pleks daarvan dat Afrikaans in dieselfde mate as Engels amptelik en in die openbaar gebruik word, is Engels feitlik die enigste de facto amptelike taal wat van owerheidsweë bevorder word. Wat opval, is dat Afrikaans deesdae nie net baie minder as voorheen in die openbaar gebruik word nie, maar ook dat dit al hoe meer in onsuiwerheid verval; dat 'n mengsel van Afrikaans en Engels geskryf en veral gepraat word. Dit lyk asof daar by baie Afrikaanssprekendes nie meer taaltrots is nie. Daar word gestreef na die korrekte gebruik van Engels, maar met Afrikaans kan daar maar gemors word.

Daar is skynbaar nêrens 'n geskikter platform as LitNet om besorgdheid oor die stand van Afrikaans uit te spreek nie. Daarom is Etienne van Heerden se versekering dat menings soos myne publiseerbaar is, 'n riem onder die hart. In hierdie artikel lug ek my standpunt oor drie aktuele werklikhede van Afrikaans. Die norm waaraan al drie voldoen, is dat hulle eerlike (hopelik selfs geldige) menings is.

Afrikatale

Ten einde Afrikaans in die huidige plaaslike politieke klimaat meer aanvaarbaar te probeer maak, word dikwels sonder meer (opportunisties) beweer dat Afrikaans 'n Afrikataal is. Maar Afrikaans is nie in dieselfde mate as die tale vir swartes, bv Xhosa of Tswana, 'n Afrikataal nie. Afrikaans is 'n Euro-Germaanse taal wat deels in Europa en deels in Afrika ontstaan het. Die oorsprong van Afrikaans is Nederlands, 'n Europese taal. Die wortels van Afrikaans is dus veral in wat tans Nederlands en Duits genoem word, tesame met (geringe) beïnvloeding deur bv Oosterse tale soos Maleis. Met hierdie tale as grondslag het Afrikaans plaaslik, dus in Afrika, ontwikkel. Anders as egte Afrikatale kan daar vir Afrikaans dus nie op meer aanspraak gemaak word nie as dat dit deels 'n Afrikataal is. "Afrikaans: taal met Nederlands as basis, maar wat onder invloed van veranderde omstandighede en verskillende uit- en inheemse tale tot 'n onafhanklike taal in Suid-Afrika ontwikkel het" (HAT). Dit sluit onafhanklikheid van Engels in.

Die voortbestaan van Afrikaans word deur 'n enkele taal, Engels, bedreig. Erkenning dat Afrikaans deels 'n Afrikataal is, verswak dus nie sy posisie in vergelyking met Engels wat 'n nie-Afrika- en Euro-Germaanse taal en boonop dié koloniale taal is nie.

Wanneer daar in uitsonderlike gevalle van owerheidsweë toegewings vir Afrikatale gemaak word, bv by die toekenning van onderwysstudiebeurse, moet daar nie sonder meer aanvaar word dat Afrikaans by hierdie bevoordeling ingesluit is omdat – só word verkeerdelik geredeneer – Afrikaans mos 'n Afrikataal is nie. Diegene wat oor die voortbestaan van Afrikaans besorg is, behoort iedere keer wanneer daar oor Afrikatale gepraat word, vas te stel of Afrikaans, as deels 'n Afrikataal, in- of uitgesluit word.

Meertaligheid

Afrikaans word dus nie noodwendig ingesluit wanneer na Afrikatale verwys word nie. Dieselfde geld wanneer meertaligheid ter sprake is; Afrikaans kan uitgesluit word.

Neville Alexander skryf: "I have no doubt that the generations born in the 2020s and after will be completely trilingual, in that all children, besides being fluent in their home language, will – if this language is not English – also learn English and another important South African language, usually from the Nguni or the Sotho cluster" (Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, bl 163). By Afrikaansinstansies het dit die gebruik geword om Alexander te loof omdat hy meertaligheid bepleit het. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vereer Alexander deur sy jaarlikse openbare voorlesing oor Afrikaans na hom te vernoem. Maar Alexander het Engels (en Duits) bo Afrikaans verkies en – soos aangetoon – nie noodwendig Afrikaans by sy pleidooi vir meertaligheid ingesluit nie.

Adam Habib verwys na die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se beleid van "competencies to be developed in indigenous languages among staff and students" (Rebels and rage, Jeppestown: Jonathan Ball, 2019, Amazon Kindle 1932). 'n Nuwe taalbeleid is onlangs deur Wits aanvaar. "Given the limited institutional resources available, the first step in this plan was to change all letterheads, business cards and signage to reflect three languages: English, isiZulu and Sesotho. Language courses specialising in conversational isiZulu and Sesotho have also been established" (2070). Aan Wits word Afrikaans dus uitgesluit nie net wanneer na inheemse tale verwys word nie, maar ook by meertaligheid. Die Afrikaansdepartement aan Wits, waarvan NP Van Wyk Louw eens die hoof was (1958–1970), is reeds jare gelede afgeskaf.

Daar is Afrikaansinstansies wat soms die indruk wek dat hulle meer en sterker pleidooie vir meertaligheid as vir Afrikaans lewer. Die klem moet klaarblyklik eerder na die bevordering van Afrikaans verskuif word, omdat meertaligheid Afrikaans kan uitsluit. Dus: 'n toekomstige meertalige Suid-Afrika sonder Afrikaans is iets wat Afrikaansinstansies geensins behoort te bevorder nie. "As Afrikaans in Suid-Afrika sterf, is dit weg, anders as die geval met Engels" ( Hermann Giliomee, Die Burger, 14 Maart 2019, bl 4).

Taalsuiwerheid

Sedert 1994 word (feitlik) geen poging aangewend om taalsuiwerheid by Afrikaanssprekendes te bevorder nie. As daar in hoogs uitsonderlike gevalle op taalsuiwerheid aangedring word, word dikwels teëgewerp dat geen taal suiwer is nie. In iedere taal is daar bv leenwoorde wat as deel van die standaardtaal erken word. Maar as daar taaltrots is, is die gebruik van nie-erkende woorde uit 'n ander taal onaanvaarbaar. Dit is byvoorbeeld onnodig om die Engelse woord "issue" in Afrikaans te gebruik, omdat ons die Afrikaanse woord "kwessie" het. In die geval van Afrikaans is daar woorde waarmee (feitlik) enigiets wat in bv Engels uitgedruk kan word, gesê kan word; of daar kan, soos voorheen gebruiklik was, woorde geskep word wat met idiomatiese Afrikaans versoenbaar is. Dit is die rede waarom Afrikaans 'n taal uit eie reg wás; geskrewe en gesproke Afrikaans kon sonder kennis van 'n ander taal, veral Engels, verstaan word. Geradbraakte loslit-Afrikaans behoort nie 'n opsie te wees nie, omdat dit nie 'n volwaardige taal is nie; in dié sin dat dit nie sonder kennis van 'n ander taal, in die praktyk veral Engels, verstaan kan word nie.

Wanneer die geskiedenis van Afrikaans in die toekoms geskryf word, sal die (doelbewuste) versuim van Afrikaansinstansies om taalsuiwerheid te bevorder, heel moontlik geïdentifiseer word as een van die vernaamste redes waarom Afrikaans ondergegaan het. Sedert 1994 het die owerheid – soos sommige van sy voorgangers, bv Charles Somerset en Alfred Milner – Engels tot die primêre taal in Suid-Afrika verhef. Terselfdertyd het Afrikaansinstansies oogluikend toegelaat dat Afrikaans al hoe meer verengels; dermate dat daar later nie meer sin in was (of sal wees) om dit as wesenlik 'n ander taal as Engels te beskou nie.

Die rede waarom taalsuiwerheid uit die agenda van Afrikaansinstansies gelaat word, is klaarblyklik die sug na politieke korrektheid, maw politieke oorwegings weeg vir hulle swaarder as taaloorwegings. Taalsuiwerheid word byvoorbeeld opgeoffer ten gunste van versoening. Daar word gesê dat die meeste sprekers van Afrikaans bruin is. Op grond hiervan word geredeneer dat die toekoms van Afrikaans deur bruin mense bepaal gaan word. Kaaps word as 'n variëteit van Afrikaans beskou en daar word van die veronderstelling uitgegaan dat (die meeste van) die sprekers daarvan Kaapssprekers is. Dit is nie noodwendig die geval nie, of baie (dalk die meeste) is (goed) bekend met en dalk ook in groot mate in staat tot Standaardafrikaans. Wat nodig vir die bevordering van Afrikaans is, is dat Afrikaansinstansies alle Afrikaanssprekers tot taalsuiwerheid aanmoedig; nie polities inkorrek net Kaapssprekers nie, maar alle Afrikaanssprekendes. Geradbraakte Afrikaans kom immers deesdae in toenemende mate voor nie net by bruin mense nie maar ook by blankes.

Die visie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is onder meer "die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans" (LitNet, 23 Januarie 2019). Dekades het verloop sedert daar laas deur hierdie instansie 'n pleidooi vir taalsuiwerheid gelewer is. In uitsonderlike gevalle het taalkundiges soos Willem Botha, die hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, en Tom McLachlan, voorheen 'n prominente lid van die Taalkommissie, hulle in die onlangse verlede ten gunste van taalsuiwerheid uitgespreek, maar sonder om Kaaps as geradbraakte Afrikaans te identifiseer en, in soverre dit Engels is, te veroordeel.

Ek het 'n nuttige meningswisseling met 'n huidige lid van die Taalkommissie gehad: Phillip Louw, "Afrikaans se gideonsbende" (LitNet, 11 Augustus 2017, plus meningswisseling van 21 Augustus tot 4 September), maar hy wou nie die rubikon na die veroordeling van die groot Engelse komponent in Kaaps oorsteek nie. Dit sou glo op verpolitisering van ons gesprek neerkom, asof daar oor die behoud van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika vry van die politieke opset besin kon word. Louw spreek hom eerder teen verengelsing in die algemeen en dus ten gunste van meertaligheid uit, terwyl my bekommernis Afrikaansgesentreerd is. Ek is beswaard oor die verengelsing van Afrikaans, onder meer (dalk veral) weens die koestering, om politieke redes, van Kaaps deur bv Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges. Ek beveel aan dat LitNet-lesers die genoemde Louw/Comestor-meningswisseling (her)lees, want daarin kom inligting voor wat ek nie hier herhaal nie.

Die punt is: Afrikaans het 'n eerbare toekoms as 'n taal uit eie reg slegs as Afrikaansinstansies en alle Afrikaanssprekendes wat taaltrots het, sonder versuim pleidooie lewer vir suiwer(der) Afrikaans en daadwerklike pogings aanwend om suiwer(der) Afrikaans te praat en te skryf.

  • 7

Kommentaar

  • Johannes, jou tweespalt tussen die Nederlands en die Engels is histories verdag. Eenvoudig verduidelik: Nederlands (Ik, je, hij/ze) self bevind haar mooi tussen Duits (Ich, du, er/sie) en Engels (I, you, he/she), om maar een voorbeeld te gebruik, 'n ander is natuurlik die vereenvoudigde lidwoordvorme (as jy 'n kleintjie dood het aan anglisismes sal ek ook nie voorstel om jou foon op Nederlands oor te skakel nie, want daar gaan jy eers die stuipe kry). Ek sien dit so: Afrikaans is 'n taal met uiteenlopende bronne, en mens moet hierdie bronne tot haar voordeel en potensiaal benut. Ek stem saam oor die strengheid en standaardisering as voorwaardes tot goeie taalgebruik, maar of die kriteria soos jy dit hier uiteensit eerstens akkuraat is en tweedens prakties, betwyfel ek. Vandag sit ons met soveel van ons sprekers oorsee. Vervreem ons hulle verder met 'n verstarde model, raak hulle verlore vir die taal en gaan die taal ten gronde. My voorstel is om die invloede van nog meer tale in te bring en Afrikaans te laat globaliseer (soos die groot tale van die wêreld gedoen het), met die klem op kwaliteit. Buigsaamheid en strengheid hoef nie vyande te wees nie. Sonder bietjie buigsaamheid sou ons immers nie Afrikaans gehad het nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Nee dit lyk asof jy alles mooi uitgefigure het oor hoe jy Afrikaans gaan red. Beheer en polisieer en regeer en dikteer. Nou ja toe, sterkte daarmee.

  • Avatar
    Isabel van der Walt

    Ons hoef nie nie verskoning te maak as ons Afrikaans wil suiwer hou nie,want Germaans het immers voor Engels bestaan en Afrikaans het dus volle bestaansreg naas Engels. Dit is veral verblydend om te hoor hoe suiwer wetenskaplikes meestal hul taal praat. Hulle het geen probleem daarmee nie en kom duidelik oor sonder om Afrikaans te "verfomfaai" of te veskraal.

  • Baie, baie dankie Johannes, jou eerlike en opregte skrywe word verskriklik waardeer.

    Afrikaans Leef!

  • Almal wat hierdie artikel en die gepaardgaande kommentare lees en wat lief is vir Afrikaans, ASSEBLIEF- dra by op Wikipedia - dis heerlik lekker en 'n wonderlike leerervaring! Daar is SO BAIE om te doen! Kom nou - bou saam aan die Afrikaanse Wikipedia asseblief! Jy kan in enige veld bydrae en jou hulp is bitter nodig - van literatuur tot klassieke musiek en opvoerders van bv klassieke musiek. Daar is duisende artikels wat nog wag om geskryf te word.

  • Het u self enige voorstel hoegenaamd, of sit en wag u maar net om ander se pogings af te kraak? Maak u liefs 'n bespotting van ander se trots in hul taal as om u eie trots te kweek? Of is die konsep vir u vreemd?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    My voorstel is aanvaar jou medemense soos hulle is. Maar ek weet dis onmoontlik vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top