Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 7

  • 3

Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.

Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.

Lees nog inskrywings hier.


 

Geskryf 10 Maart 2017

Ons word weer in gietende reën iewers afgelaai deur Hubert, ons drywer/organiseerder/poetsbakker en vriend. 

Hierdie keer by Genk se Schouwburg. Dit is 8 Maart en dit is die lokaal vir ons optrede vanaand.

Alles van nou af is haarfyn en tot op die minuut beplan. Ek het twee weke gelede reeds ’n “draaiboek” van Guy Willems per e-pos ontvang wat as volg begin:

Arriveer station om 13:32
Stap na Schouwburg: 13:35
Begin met klanktoets: 13:45.

Nou gooi ek die appelkar om deur per motor te arriveer in plaas van per trein.

Ek noem dit toe ons aanland en Guy lag-sê: “Zolang het maar niet weer gebeurt.” Hy dink ek dink hy maak ’n grap, maar ek weet hy is eintlik ernstig.

Hier gebeur dinge volgens ’n plan en ’n struktuur en jy wandel nie van hierdie pad af nie. Ek wil my verstout om te sê dat daar minstens 50% meer padreëls is as in Suid-Afrika.

En dat minstens 99,9% van die padgebruikers hierdie reëls nakom.

Jy loop op die grys deel van die sypaadjie, nié op die rooi deel nie. Dié is vir fietsryers. Alles goed en wel tot jy met twee sleeptasse op pad is en iemand jou byna in die blomtuin in loop omdat hy nooit as te nimmer sy voet in ’n fietsrybaan gaan sit nie. Al is daar geen fiets in sig nie.

Of die 100 euro boete wat jy kry as jy enige herwinbare materiaal in jou algemene rommel sou insteek. (Ek kon nog nie uitvind hoe weet die rommelmanne dit is juis jý wat die sondebok is nie. Wanneer ek vra, kry ek ’n verkreukelde voorkop as antwoord. So asof die vraag nog nooit by hulle opgekom het nie. Jy dóén dit bloot.)

Ek voel myself aan bande gelê, maar moet toegee dat as reëls en regulasies meer “kreatief” aangepak sou word soos tuis, sou hier moontlik chaos ontstaan het. Soveel mense op so ’n klein stukkie aarde! Verder is ek nie seker of jy die ongelooflike welstand van die bevolking hier in Vlaandere sou kon verklaar indien jy hulle werksetiek en hulle liefde vir vorm en struktuur sou ignoreer nie. 

Terug by die stadschouwburg in Genk. Ons word na ons aantrekkamers vergesel en ontmoet Kris Mondelaers, die klankman. Ek het ’n sterk voorliefde vir klankingenieurs. Hulle is doeners, nie praters nie. Stil-stil laat hulle jou mooier lyk en klink.

Guy wys ons die gedrukte program wat hy ontwerp het. Hy het vier van my liedjies in Nederlands vertaal. Ek kry byna trane in my oë. Dinge wat met soveel sorg gedoen word, beweeg my.

DuPreez Strauss en Guy Willemse

Klanktoets in Genk

Na die klanktoets gaan eet ons almal saam. (Ons is nou “voor skedule”. Alreeds 15:33 klaar, in plaas van die 15:45 wat daarvoor ingeteken staan! Ons moet 16:00 “begin eten”.) Nico Stassen, ’n man met ooglopende entoesiasme, vertel my dat Genk die mees geïntegreerde stad in die ganse Europa is. Daar is nie ’n enkele woonbuurt wat uit ’n meerderheid van enige kultuurgroep bestaan nie. Tog is 54% van die populasie nie van Vlaamse afkoms nie, maar van 85 verskillende nasionaliteite! Almal woon saam, doen inkopies saam, gaan saam skool. Ek vra hom hoe op aarde hulle dit reggekry het. Dit help dat Genk so ’n jong stad is, hoor ek. Maar ek kan niks meer uitvis nie. (Na die tyd het ek probeer om feite na te gaan op die internet, maar dit blyk onmoontlik te wees. Ek wonder of ek myself nou in een of ander polities inkorrekte sfeer beleef. Integrasie is op almal se agenda, maar hoe meet jy dit werklik? Dit lyk vir my maar na ’n subjektiewe besigheid.)

Na ete gaan ek en DuPreez gou saam met Bert Smeets, ’n afgetrede filosoof, by die enorme stadsbiblioteek in. Daar is 50 miljoen euro aan hierdie gebou/instansie bestee. As jy so kyk na die geboë glas en die luukse oop ruimte wat van dak na plafon oor meer as vier verdiepings strek, is dit nie moeilik om uit te werk dat kultuur en opleiding hoog op hierdie stad se agenda staan nie.

Ek kry ’n knop in my keel wanneer ek my laaste besoek aan Wierdapark se bibliotekie in Centurion onthou. 

Soos DuPreez tereg uitwys: wanneer jy jou nie meer hoef te bekommer oor hongersnood nie, beweeg jy nogal vinnig op teen Maslow se piramide uit.

Genk se 50 miljoen euro stadsbiblioteek

Bert vertel my hy is nou gepensioneerd, maar gee graag klas by die gemeenskapskollege vir volwassenes. Dit val ons op. Pensionarisse wat deur die bank terugstoot in hulle gemeenskap in. En hoe gesond hulle daar uitsien terwyl hulle dit doen. (België se nasionale gesondheidsdiens is een van die beste diensverskaffers in Europa.) Sommige van hulle is voltyds besig met liefdadigheidswerk. Dit is grootliks hierdie terugstoot in die universum in wat my en DuPreez tot hier in Vlaandere gebring het. Hulle is vol passie vir ons taal en wil dit graag met almal deel en doen wat gedoen moet word om al die klippe uit ons pad te stoot.

DuPreez en Annari net voor die optrede in Genk

Die vertoning die aand is ongelooflik.

Dit voel weer eens vir my asof ek deur die gehoor gedra word. Gewillig spits ore om my Afrikaans op te vang en te probeer verstaan.

Ek het onlangs een van my liedjies, “Wiegeliedjie”, se lirieke verander as gevolg van ’n insident wat oor my pad gekom het.

8 Maart, die dag van die optrede, was Vrouedag. Toe ek ter inleiding vir die gehoor vertel dat die syfers van geweld teen vrouens in Suid-Afrika 10% hoër is as die wêreldgemiddeld van 35%, hoor ek ’n duidelike asem-intrek.  

Na die tyd sal ’n vrou met dikgehuilde oë die CD na my toe aanskuif om te teken. Sy kan nie praat nie.

Hoe gebeur dit dat hierdie mense, wat 50% van ons lirieke nie kan verstaan nie, so geraak word deur die musiek?

Na die optrede is daar weer ’n geleentheid om met die gehoorlede te praat. Dieselfde as wat in Tervuren gebeur het, gebeur hier. Almal kom met verhale oor kuiers in Suid-Afrika, of ander bande met Afrikaans. Of hulle kom net hande skud en sê hoe “‘leuk” (mooi/lekker) vind hulle dit om Afrikaans te hoor.

Teen drie-uur die oggend is ek skeeloog van moeg. Ten einde laas is die wynbottels en jenewerglasies leeg en sê ek nag vir Guy en Lut, my gasheer en -vrou.

Vier ure later moet ons weer op om by Nico en sy vrou, Mariëtte, ontbyt te eet ten einde betyds by die skool in Maasmechelen te wees vir ons praatjie met die “jeug”.

Annari en DuPreez by Campus de Helix

DuPreez ter voorbereiding in die lokaal voor die studente opdaag

Toe die tieners voor ons sit, verstaan ek meteens hoekom DuPreez so benoud was.

My mond is droog. Ek het vae, mooi ideale gekoester van ’n diep en intelligente uitwisseling van idees tussen ons, maar hoe dóén ons dit?

Ek duik by die diep kant in. Ek vra of hulle in België gaan aanbly na matrikulasie.

Ek vra hulle hoe ’n groot deel hulle dink hulle taal uitmaak van hulle identiteit. 

Die verstarde uitdrukkings voor my laat my woorde soos droë kluitjies vassit in my keel.

DuPreez sien hy moet nou red wat te redde is en die situasie word met sy tong-in-die-kies-vertellings skielik ligter. Sy persoonlikheid trek ons almal uit die diepe stilte en hy kry dit reg om die tieners te laat práát.

Biltong, braaivleis ... ek is dankbaar vir die reddingsboot.

Guy het vir almal een van ons programme uitgedeel van gisteraand se vertoning, met die Nederlandse vertalings van my liedjies daarin. Hy speel “Skatlam” op die klankstelsel en daar is nie één énkele tiener wie se hoof nie aandagtig gebuig is oor die lirieke nie.

Ek wonder stilletjies of daar ’n toets gaan wees na die tyd waarvan ons nie weet nie.

Maar nee, dit is die musiek wat hulle hier bind.

Een meisie heel agter in die linkerkantste hoek kyk skielik op na my. Dit is tydens die refrein se derde herhaling wat sy my in die oë kyk en begin glimlag. Sy het gesnap waaroor hierdie lied gaan en dit is asof daar ’n lig aangeskakel is.

Hoe ongelooflik om dit te sien gebeur!

Die verligting wat deur my spoel, is oorweldigend.

Dit was maar net my invalshoek wat verkeerd was.

Guy Willems se vertaling van "Skatlam"

Die gedagte staan helder voor my: “Annari? Kan jy asseblief vir my terugdink na toe jy 16 was? Jy wou alleen maar Engels leer praat sonder ’n Afrikaner-aksent en ’n wêreldburger raak so gou as jou voete jou by die klaskamer kon uitdra! Jy het beslis nie nagedink oor jou taal-identiteit-verwantskap nie!”

Ek het niemand of niks “verloor” nie.  My taal is nie besig om te sterf nie. Ek hoef nie histeries te raak net omdat ons gehoor tot dusver meestal bo 50 jaar oud was nie.

Ek moet alleen maar terugkeer na die musiek toe en die filosofering oor my taal los vir dies waarvoor dit op hierdie stadium belangrik is.

Meer doen, meer lééf en minder daaroor práát.

Dit is nie gepas op hierdie stadium vir die lieflike, jong gesigte voor my om te wroeg oor hulle taal en hulle selfbehoud nie.

Vir nou is die musiek genoeg.

  • 3

Kommentaar

  • Dis lekker om te lees ... al die indrukke, die gevoelens en die verrassinge.
    Ek hoop regtig dat julle na die positiewe ervaringe volgende jaar na weer Vlaandere kom ...
    Julle is meer as welkom en kan by ons in Leuven bly om te gesels.

  • Heerlik om 'n volle jaar later hierdie toer sáám te belewe ...
    Julle én die Belge is baie SPESIAAL!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top