"Afrikaans" deur Lizette Snyman

  • 1

Afrikaans

Jy lê geplant in die Boland
Roelandstraat, Roelandstraat
In ons Afrikaanse harte
en suidpunt op die kaart

En al lê die berge
steeds vir ons so blou
Hoeveel van ons kinders
sal jou woorde nog onthou?

Is ons die laaste generasie
wat in Afrikaans sal skryf?
met Sarie Marais in Transvaal
en moedertaal in ons lyf

Bring vir ons ? suikerbos
want Afrikaners wil dit hê
Niks smaak soeter op die tong
as wanneer Afrikaans daarop kom lê

En oor ? honderd jaar van nou
sal mense solovlug soos ons
met harte wat passievol
vir ons lieflingtaal bly bons

  • 1

Kommentaar

  • FIRNLEY Blouws

    Lizette, gun my die geleentheid om voort te borduur op jou tema vanuit 'n ander alternatiewe "vertelling" en 'n ander oogpunt en paradigma, maar met steeds dieselfde liefde vir die taal, en ek hoop jy geniet die gedig. My vertelling fokus meer op die baarmoeder van die taal in Kaapstad en die eerste skrywer van 'n boek in Afrikaans, Abu Bakr Effendi in 1862.

    masemelk

    afrikaans was in my ma se melk
    my pa se ghoemaliedjies op sy basviool
    my aunties se briyani
    daltjies by labarrang
    stories van gammatjie en abdoltjie
    die mopliedjies van die klopse
    uilspieël se aapstreke
    in die maleikoor se basstemme
    in die blaas van die vishoring
    en die spogtrap van die highstepper
    die dreunsang van die die jong leeus wat die staat
    se apartheid-paradigma defy
    die sisters bond se sopranostemme
    die onskuld van die sondagskoolkoor
    in my pa se gebed aan etenstafel
    het ek my here ontmoet
    in my juffrou se bybelstories op die mat
    deur eksodus en egipte getrek
    terug gekom hier onder die berg
    //hui ! gaeb - waar die wolke saamkom
    het ek gebloei
    in nama, //gam, khoena en malei
    met autshumao en !xhore op die eiland gely
    verban, gestrand
    sheik jusef se kramat bestyg
    ge-gwarra in khoi
    geblatjang in malei
    met baadjie en blaar
    piesang en tjap
    die lappop van 'n taal
    nou op 'n ashoop gegooi
    more se beker
    kep, pyp en kam
    abba, eina en gogga
    my ma se melk, my taal
    gevorm en getongklap in //gam
    en omvorm en geknie
    op moedersknie van
    khoena, hollands en malei
    so het die taal gedy
    in my oor gesink
    my hartspier laat klop
    my oor geknoop
    hier om te bly
    my taal, myne

    F. Blouws
    26 January 2020

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top