Afrika se dag

  • 2

Die draadloos en die kalender in my dagboek vertel ons dat dit Afrika-dag is.

Die wekroep en soms noodkrete van stemme uit die kulturele wildernis van mense en organisasies soos Dan Roodt, AfriForum, Steve Hofmeyr en selfs die Noordwes se gunsteling Mulder-gesin, bepleit die soewereine reg van een van Afrika se jongelinge; die regte van die sogenaamde kleurlose Afrikaan of dan, afhangend in wie se geselskap jy jou bevind, die Afrikaner. Maar, vandag is Afrika se dag en die skok-tameletjie vir elke minder as baie bruin gesiggie, is die wyd gepubliseerde maatstok van wie presies nou eintlik tot Afrika behoort en wie eintlik net op die vasteland kom kuier het ...

Oënskynlik is jy ’n Afrikaan (lees African) indien:
Jy ten minste een Afrika-taal praat en 'n Afrika-kultuur uitlewe.
Jy ’n natuurlike mens van Afrika is: Met ander woorde, die diverse haartekstuur ( alhoewel daar deesdae meer Afrikane mét Sjinese kapsels as daarsonder rondloop), die warm, ryke velkleure, wat uiteraard verskil in pigment-gestremdheid weens die liggaam se aanpassing by die historiese Afrika landskap. Om hierdie rede is die “swartheid van die vel" beslis nie die enigste maatstaf vir ’n Afrika-identiteit nie; want afhangende van geografie, het ligter velle ook bestaansreg, solank die kulture hoofsaaklik Afrika is.

Vandaar die toepaslikheid van die naam “African”, wat uitsluitlik verwys na die historiese mense van Afrika en hul afstammelinge. Kortom, iemand is 'n Afrikaan indien hulle ook as 'n “swart” persoon oorweeg kan word. Maar nie elke “swart” persoon, is dus 'n Afrikaan nie.

Die gelese, verkulde en soms amper vergete oud-president Thabo Mbeki, het sy aandeel in hierdie bankkrotboedel verewig met:
“Ek is 'n Afrikaan.
Ek het my wese te danke aan die heuwels en die valleie, die berge en die ooptes, die riviere, die woestyne, die bome, die blomme, die see en die ewig veranderende seisoene wat die gesig van ons eie land definieer.
Ek is 'n Afrikaan.
Ek is uit die volke van die vasteland van Afrika gebore.”

Tans is daar ’n groter wordende groep van ons oud-skoolmaters wat hulle kratte en tasse voor, by en na die eeuwisseling gekoop, gepak en na die lande van melk en heuning, goue stroop en skaaptjops laat verskeep het.

Vanoggend lees ek dat daar gesprekke in die Europese Unie plaasvind wat wil poog om sogenaamde wit Suid-Afrikaners die reg te laat bekom om na Europa terug te keer. Blykbaar op gronde van inheemse reg tot selfbeskikking.

Die Europese groepe wat hulle vir hierdie edele doelwit beywer stuur stapels feite oor die wit Suid-Afrikaanse bevolking die wêreld in. Soos dat ons tans etniese suiwering in die gesig staar en dat vervolgings aan die hande van die ANC-regering, die EFF en verskeie individuele anti-wit aanvallers, ons voortbestaan bedreig.
Die feit is egter dat 4000 wit boere, wat dikwels ook marteling en verkragting en verminking insluit, wreed vermoor is. Baie wit Suid-Afrikaners moet vandag in armoede leef weens die gevolge van die Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid van die ANC-regering. ’n Beleid wat blankes van die amptelike arbeidsmag uitsluit. Alles hartseer en alles waar.

Tussentyds beoog die propageerders van die “terug-huis-toe-veldtog” om ’n soortgelyke beleid soos die Jode-mense te volg, waarvolgens alle Jode die reg gekry het om na Israel terug te keer. Selfs met regeringshulp. Die betoog is verder dat dit nie net raadsaam is nie, maar wel moreel verpligtend moet raak dat Europa alle wit Suid-Afrikaners die reg tot terugkeer moet gee.
Soos dit tans staan, het baie wit Suid-Afrikaners reeds probeer én aansoek gedoen vir toelating en selfs burgerskap van Europese lande soos Nederland en die Verenigde Koninkryk, maar, in teenstelling met 20 jaar gelede, word die groter gros van aansoeke deesdae verwerp. Baie van hierdie wit Suid-Afrikaners wat burgerskapaansoeke bring, is ironies genoeg direkte afstammelinge van die einste Europese volkies wat hulle nou verwerp.

Ek weet nie mooi wat om van al hierdie dinge te dink nie. Soms as ek na die gesprekke om etenstafels met borde vol vleis en groente en glase vol wyn luister, dan wil ek opspring en vinger-in-die-lug protesteer dat ek ook ’n Afrikaan is. Dat ek ook hier hoort. Kyk dan na al die sonvlekke op my bles, my arms en my hande. Hoor my kombuisgebore taal en proe die kerrie-afval wat uit my swart driepootpot geskep word. My kultuur is naby aan die grond (alhoewel soms teen die grond) en ek is hier gebore. In Durban. Tussen Zoeloe-susters en Rickshaw-broers. Alles waar en maklik vergete.

Elke Suid-Afrikaner weet al hierdie dinge en menige van ons wou al selwers, of ten minste ons kinders (vir hul toekoms en om geld in Pond te verdien) in die buiteland laat vestig; maar meeste van ons het nie.
Moontlik wil ons die finale breekslag sien gebeur of moontlik glo ons dat ons nader aan die einde is as wat dit vir NP van Wyk Louw moontlik was om in sy Raka skepping neer te pen...
“Teen die skemering laat
as die vrees vir die nag weer luid slaat
't hulle hom gekry
in die verskeurde papkuil en die poel waar hy
half in die modder getrap, op die skag
van sy stukkende spies gelê 't, en die krag
en die woede van die swart dier kon hulle sien
aan die liggaam en die spore en die pap riet
en die skild wat geskeur was en diep ingetrap
in die koue klei ...”

’n Swart dag dan ... in Afrika.

  • 2

Kommentaar

  • Trienie Mahne

    Interessant geskryf. Alhoewel ek nie met alles 100% saamstem nie, het ek jou artikel geniet. Dankie.

  • George Bekker

    Hennie begin sy storie verkeerd, nl met kleur. Die benadering is uit. Jy kan wel sê: “Ek is 'n Afrikaan, want ek is in Afrika gebore” afgesien van jou kleur. Die punt wat hy mis is dat kontinente in lande verdeel is. Iemand kan nie sê: “Ek is 'n Europeaan wat in Italië gebore is en het aanspraak op Finse burgerskap” nie. Mense uit Zimbabwe kan gevolglik nie sonder dokumentasie in SA kom bly op grond van hulle Afrika-status nie. Die poging van regse Europese partye om ons na ons stamlande te laat teruggaan is politieke propaganda waarvan niks sal kom nie. Ons is in SA en sal van wensdenkery moet vergeet en ons rug styf maak, wanneer nodig. Ek is 'n Afrikaan, 'n Suid-Afrikaner en 'n Afrikaner. Die een hoef nie met die ander te bots nie, mits ons en die regering albei realistiese en redelike standpunte huldig.
    Die grondwet bied aansienlike individuele beskerming. Ongelukkig ignoreer dit minderheidsgroepe. Die VN het omvattende regte vir minderheidsgroepe aanvaar en dis ook amptelik deur SA onderteken. As die regering nie sy plig nakom nie sal minderhede in SA 'n internasionale kwessie word en sal die huidige regering in die hoekie staan. Ons sal egter ook self op ons regte moet aandring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top