Affodille in die winter

  • 2

Hoe kan haar hart nog klop wanneer dit voel of dit heeltemal uitgeruk is, wonder Marlene toe sy op die sementbankie neersak, haar handsak styf geklem op haar skoot, ’n eenvoudige horlosie en troupand in haar hande.

Die karige hospitaaltuin het orals van dié sementbankies, almal nou leeg, want die koue laat selfs die mees geharde rokers twee keer dink. Netnou wanneer dit warmer word, sal hulle dit so stuk-stuk na buite waag na die groot sandsementbakke wat in die vierkant geplaas is. Dié wat van vroeg af son kry, het die meeste sigaretstompies in. Die arme mense is ook verban soos die melaatses van destyds.

Sy voel soos ’n melaatse, ’n uitgeworpene.

Die vroeë wintersoggend byt aan hande en gesig. Sy vee haar hare agter haar ore in. Hulle is ten minste kouer as haar hande. Dit voel of haar hande nooit weer gaan ontdooi nie.

Die bankie is yskoud en effens klam, maar dit is net nog een van daardie veraf gewaarwordinge. Die skerp rand van die sementtafel wat teen haar rug druk, voel sy skaars.

Dit is finaal. Hy is regtig weg. Die suster het gedink dit gaan troos gee as sy weet dat elke bruikbare orgaan ’n nuwe huis gevind het. Hulle het hom soos ’n ou geroeste kar uitmekaar gehaal en die onderdele vir ander, wat dit dalk nog kan gebruik, gestuur.

Sy druk met haar hand teen haar bors waar sy haar hart voel klop. Al wat sy voel is leegheid. Sy is opgehuil. Opgebaklei. Opgealles.

Marlene kyk na Altus se horlosie en trouring wat sy vasklou. Sy het dit verlede Woensdag net daar op die bedkassie gelos. Of was dit voorverlede Woensdag? Haar brein voel suf. Sy het die papiere geteken en soos ’n lafaard die hasepad gekies. Sy wou nie by wees wanneer hy sy laaste asem uitblaas nie.

Sy het hom dalk skaars ’n week terug begrawe, wat oor was van hom in elk geval, maar in haar hart het sy hom al ’n maand terug begrawe. Dit was toe haar laaste hoop deur die dokter se woorde vertrap is.

"Jammer, Mevrou. Daar is niks meer wat ons kan doen behalwe om hom gemaklik te hou nie." Dit was min of meer die party line.

Dis so maklik om te sê: skakel af die masjiene. Maar niemand het haar gewaarsku teen die hel wat dit op haar gewete sou hê nie. Sy, wat nie eers spinnekoppe doodslaan nie, het haar man vermoor.

Die begrafnis het gevoel of sy deur al nege van Dante se sirkels van hel geloop het. Sy moes glimlag, maar nie te breed nie. Nie te opsigtelik huil nie, want sy het mos die masjiene laat afsit. Sy moes haar kop knik en dankies prewel asof sy dit opreg bedoel. Dan was daar die trooswoorde en drukkies. Die bejammerende kyke en die agteraf fluisteringe waarvoor sy haar doof gehou het. Alles wou haar laat gil totdat sy nie meer asem oor het om te gil nie.

En nou sit sy hier.

Dalk het daar tog goed uit sy dood gekom. Iewers daar buite is dele van hom nog lewend. Die laaste gedagte kikker haar effens op.

Die horlosie met sy deurleefde leerbandjies het ook ’n stryd verloor. Sy sal ’n nuwe battery moet insit. Dis al wat sy van hom oor het en al wat sy wou hê. Die res het aan liefdadigheid gegaan.

Die wind dra die ou rook saam met die soet blommegeur by haar aan.

Sy kyk na die helder affodille en ranonkels wat vrolik in die winterson wieg, die sluimerende grysbruin gras. Oor ’n paar maande is dit weer groen en vol lewe. Sal sy ooit uit hierdie winter van haar lewe kom?

Rooi en geel was Altus se gunstelingkleure. ’n Vrolike geel vir die kombuis het hy gesê toe hulle, pasgetroud, besig was om te stry oor hoe hulle hulle huis gaan tooi. Altus het geglo kos en eet is vir vrolik wees. Hy wou die leefkamer rooi hê, want dis ’n warm uitnodiging vir almal om daar te kuier. En hulle huis was altyd vol lewe met almal wat daar gekuier het.

Sy skuif die ring oor haar duim. Dit sit effens los. Fyn skaafmerkies versier die eenvoudige band. Sy draai dit in die rondte. Altus het nooit sy ring afgehaal sedert hulle troudag nie. Die herinnering laat haar effens glimlag. Hulle troudag ... Sy het amper oor haar voete geval op pad kansel toe, want sy was laat. Nie “fashionably late” soos die meeste bruide nie. O, nee. Hulle het ’n pap band gekry op pad kerk toe en soos die duiwel dit wou hê, het alles verkeerd geloop. Verkeerde grootte spaarband en die domkrag was nie daar nie. Sy het duimgegooi uit desperaatheid en ’n jolige klomp studente het haar opgelaai. Sy was ’n volle uur laat, maar sy was verniet bekommerd. Hy het voor in die kerk vir haar gewag met die breedste glimlag en hy het haar in die gangetjie kom haal onder die luide toejuiging van haar nuwe vriende wat summier genooi was vir die geleentheid.

Sy skrik en laat val haar handsak toe sy die plastiekfluit van Pep-slippers op die sement hoor. Met ’n sug sak sy af op haar knieë. Die nat syfer deur tot op haar knieë. Sy skraap die inhoud van haar handsak nader en loer onderlangs na hom.

Hy loop moeilik. Stadig. Soos een wat van voor af moet leer loop. Hy het ’n donkerblou kamerjas aan en in sy een hand klem hy ’n drupstaander vas. Sy het aanvanklik gedink hy is oud, maar soos hy nader kom, skat sy hy is nader aan haar ouderdom. Vroeë veertigs. Dis sy gesig wat haar aandag hou. Sy kan nie anders as om te staar nie. Karaktervol. Deurleefd. En effens bleek onder die sonbruin vel. Iemand wat daarvan hou om te leef.

Hy skuifel in haar rigting. Dalk moes sy nie so na hom gekyk het nie. Sy kyk af na die verfrommelde sneesdoekies, opgevoude papiere, penne, kleingeld, lipglans, lipstiffie en net gewone Lip Ice. Spur-sweeties wat sy gewoonlik net ingooi na sy die rekening gekry het. Sy sal regtig hierdie spul goed moet uitsorteer wanneer sy netnou by die huis kom.

’n Entjie verder lê die bruin-en-goud papieromhulsel van ’n halwe pakkie Rolo-lekkers.

Hy tel dit kreunend op. Skuifel tot teen die bankie. Marlene staan op. Die nat kolle donker teen haar knieë. Sy hou haar handsak teen haar lyf asof haar kan verweer daarmee.

"Mag ek maar?" Sy stem verras haar en Marlene knik haar kop en sak stadig neer op die sementbankie. Sy tol die ring verder om haar duim. Hy skuif hom reg op die koue sementbankie.

"Die mure van daardie hospitaalkamer druk my nou al te lank vas." Hy het een van daardie strelende radiostemme. Hy gee die pakkie lekkergoed terug vir haar. Dit was Altus se gunsteling. Sy het altyd gesorg dat sy ’n pakkie in haar handsak het.

"Hoe lank is jy al hier?" vra Marlene. (“Waarvóór?” wil sy éintlik vra, maar doen dit nie.)

"Ruan." Hy steek sy hand uit na haar. Sy hand vou warm en vertroostend oor hare. Sy sê haar naam outomaties en kan nie anders as om wrokkig te voel teenoor hierdie vreemdeling met die mooi stem nie.

Hoekom kon dit nie Altus se warm hand, vol lewe, gewees het wat sy nou gevoel het nie?

"Ek is nou drie weke hier, maar oor ’n week kan ek huis toe gaan." Dit vat ’n oomblik vir die woorde om by haar te registreer.

"Ek is bly om dit te hoor," sê Marlene outomaties. Haar oë gly af na sy hande, waar sy nie ’n trouring kan sien nie. Sy kry onmiddellik skaam daaroor. Altus is nog skaars koud en sy soek al ’n plaasvervanger.

"Was julle lank getroud?" Hy beduie na die ring en horlosie in haar hande.

"Vyftien jaar." Vyftien van die beste jare van haar lewe.

"Hoe ...?"

Sy gee hom nie kans om die sin te voltooi nie. Sy't die vraag soveel keer beantwoord dat dit vanself kom.

"Motorongeluk. Hy het hoofbeserings opgedoen en was breindood verklaar."

"Ek wou eintlik vra hoe ’n tipe mens was hy."

Marlene bly stil en oordink die vraag. Probeer om haar gedagtes te orden. Niemand het haar dít ooit gevra nie. Om oor Altus te praat nie. Elkeen is te besig met hulle eie proses van rou en om oor hom te praat is soos om daardie sere rouer te krap as wat hulle wil. Hulle wil die roof laat gesond word. Vergeet van hoe sy hom te gou van hulle weggeneem het.

Die woorde het eers stadig en versigtig gekom. Hoe meer sy gepraat het, hoe makliker het dit geword. Dit was naderhand ’n stortvloed. Hy laat haar begaan. Sy het gepraat soos sy nog nooit tevore oor Altus gepraat het nie. Die eerste dae toe hulle die verliefste paartjie in die heelal was. Die spreekwoordelike sewe sakke sout wat hulle saam opgeëet het. Die besluit om nie jonk kinders te hê nie, en later het dit net nooit gebeur nie, maar ook hoe hulle nie weer daaroor gepraat het nie. Die dingetjies wat haar grensloos geïrriteer het en die klein dingetjies wat hy gedoen het wat haar laat straal het. Later die ongeluk. Hoe verpletter sy was na die dokters hom breindood verklaar het. Hoe sy die masjiene laat afskakel het.

Die gesprek het koers gekry, weg van Altus af. Ruan het vrae gevra en sy het net vertel.

Die oggendson het hulle naderhand reg van bo geteister. Marlene se gemoed was heelwat ligter en dit het gevoel of hulle al jare bevriend was. Ruan het opgestaan en na die hospitaaldeur beduie.

"Ek moet teruggaan. Middagete word bedien en wat sê dit van my as my mond water vir hulle kos?" Hy knipoog speels.

"Dankie vir die geselskap." Marlene staan op en bêre die ring en horlosie in haar handsak. Sy tel die pakkie Rolo op toe hy weer praat.

"Na my operasie het ek hierdie vreeslikste lus vir ’n Rolo." Hy skud sy kop en begin aanskuifel. Twee tree verder draai hy om.

"Ek het gewonder of ek jou kan uitneem vir ete?"

Marlene staar na die Rolo in haar hande. Hulle het lekker gesels, maar die idee dat sy iemand van voor af moet leer ken, voel soos om op ’n roller coaster te klim wat in ’n miswolk wegkruip.

"Nie dadelik nie. Ek moet nog gesond word en jy moet eers klaar rou. Maar oor ’n paar maande, as jy reg is daarvoor."

Sy weet die verligting staan seker in swart koki op haar gesig geskryf, maar sy knik instemmend.

"Dit sal lekker wees."

Hy begin weer aanskuifel na die deur toe. Marlene byt op haar lip. ’n Skuifeltreetjie op ’n slag?

"Ek sal môreaand kom inloer? So ’n bietjie geselskap as jy kans sien?" sê-vra sy.

Hy draai om. Glimlag breed.

"Ek is in Saal H, kamer 201. Kardiologiesaal."

 

  • 2

Kommentaar

  • Martha Poller

    Lieflik! Dit is 'n uitsonderlike kortverhaal. Baie dankie dat jy dit met ons gedeel het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top