![]() |
|
Gerrie Nel (Bron: mirror.co.uk)
|
As dosent in die opvoedkunde is dit my werk – of so sien ek dit – om studente aan die dink te sit. Om hulle te laat twyfel. Gedurende my loopbaan van twintig jaar as onderwyser het ek té dikwels gesien dat kollegas rigiede en eensydige menings oor die onderwys het. Hulle sou met groot oortuiging opstaan – in die personeelkamer, saal of tydens werkseminare – en húlle mening as die finale antwoord aanbied.
As dosent sien ek dieselfde ding weer gebeur. Kollegas staan voor studente of onderwysers en gee ’n lesing oor hoe dinge éintlik behoort te wees. Of hulle skryf ’n artikel in die koerant daaroor.
Die onderwys – of enige ander beroep – is egter nie so eenvoudig nie. Om die waarheid te sê, kollegas wat so optree, maak my kriewelrig – en soms sommer bloot smoorkwaad.
Ek skep dus graag ervarings vir my studente waaroor hulle kan dink en praat. Ek stel vir hulle strikke, want ek hoop dat hulle versigtig sal dink voor hulle praat.
Een van my gunsteling-strikke, wat ek al dikwels vir studente en onderwysers gestel het, is die eerste toneel van die 1973-rolprent The Paper Chase. Ouer lesers sal die TV-reeks Beste Professor onthou, met die sarkastiese professor Kingsfield en sy student, meneer Hart. In die rolprent word Hart deur Timothy Bottoms, en Kingsfield deur John Houseman, gespeel. Houseman het ’n Oscar as die beste ondersteunende akteur vir sy vertolking gewen.
Die toneel begin met die opskrif: “Harvard Law School – Academic year begins.”
Die studente stap drupsgewyse in. As almal stil is, druk ’n vinger op ’n naamkaart – met foto’s van studente daarop – en Kingsfield vra afgemete: “Mister Hart, will you recite the facts of Hawkins versus McGee? I do have your name right – you are Mister Hart?”
“Yes, my name is Hart.”
“You’re not speaking loudly enough, Mister Hart. Will you speak up?”
“Yes, my name is Hart.”
“Mister Hart, you’re still not speaking loudly enough. Will you stand?”
Hart staan teësinnig op.
“Now that you’re on your feet, Mister Hart, maybe the class will be able to understand you. You are on your feet?” Sarkasties.
“Yes, I’m on my feet.”
“Loudly, Mister Hart. Fill this room with your intelligence. Now – will you give us the facts of the case.”
“I haven’t read the case.”
“The class assignments for the first day are posted in Langdell and Austin halls – you must have known that?”
“No.”
“You assumed that this first class would be a lecture – an introduction to the course.”
“Yes, Sir.”
“Never assume anything in my classroom! Mister Hart, I will myself give you the facts of the case. Hawkins vs McGee is a case in contract law – the subject of our study. A boy burned his hand by touching an electric wire. A doctor who was anxious to experiment in skin grafting asked to operate on the hand, guaranteeing that he would restore it one hundred percent. He took a piece of skin from the boy’s chest and grafted it on to the unfortunate boy’s hand. The operation failed to produce a healthy hand. Instead, it produced a hairy hand, a hand not only burned, but covered with dense, matted hair.
“Mister Hart, what damages do you think the doctor should pay?”
Hart sê niks. Hy lyk verwese en gespanne.
“What did the doctor promise?” Stadig en kil.
“There was a promise to fix the hand back to the way it was before it was burned.”
“And the result of the operation?”
“The hand was much worse than before he went to the doctor.”
“How should the court measure the damages – what should the doctor pay the boy?”
“The doctor should pay for what he did, and he should pay for the difference between what the boy had – a burned hand – and what the doctor gave him – oh! - a burned and hairy hand?”
Die toneel eindig waar Hart by ’n toilet instorm en opgooi.
Ons bespreking van Kingsfield se onderrig begin dan. Die studente stem bykans deur die bank saam: hy is ’n swak opvoeder, wat sy studente verneder, afkraak en hul menseregte minag.
Ek geniet dit as hulle dit doen, want ek weet wat voorlê.
Ek wys dan verdere tonele uit die fliek vir hulle: waar Hart deeglik vir ’n klas voorberei en Kingsfield se vrae dan met groot selfvertroue beantwoord. Hy noem Kingsfield selfs “a son of a bitch”. In die klas, voor al die ander studente. Kingsfield wens hom – verrassend genoeg – geluk daarmee: “That was the most intelligent thing you’ve said today.”
Na afloop van die laaste klas kry Kingsfield ’n staande toejuiging van die studente. Toe hulle daarna saam in die hysbak beland, bedank Hart vir Kingsfield op roerende wyse.
Die slottoneel speel by die see af: Hart kry sy uitslae in ’n koevert, maar maak dit nie oop nie. Hy vou ’n papiervliegtuigie daarmee, klim tot op ’n hoë rots en skiet die vliegtuigie in die see in.
Hoekom sou hy dít doen? wil ek dan by die studente weet. Dis mos nie normaal nie?
Ná ’n lang gesprek kom ons by ’n moontlike antwoord uit: dit gaan vir Hart nie meer oor die papier met simbole nie, want hy het teen daardie tyd geweet dat hy ’n bekwame regspraktisyn is. Dis nutteloos om kwalifikasies op papier na te jaag.
Teen hierdie tyd stem byna almal wéér saam: Kingsfield was ’n uitstékende dosent. Hy het die realiteite van ’n hofsaal met oortuiging – en vreesloos – in sy lesingsaal nageboots. In die proses het hy nie omgegee of hy die regstudente emosioneel knak nie – wie wil nou ’n swakkeling as advokaat hê? Iemand wat nie hard genoeg praat of nie deeglik voorberei nie?
Of advokaat Gerrie Nel ’n goeie advokaat is? Of hy te beledigend en sarkasties is? Ek weet nie. Dis te vroeg om te oordeel.Ek het nog nie die volle prentjie nie: net die regter sal uiteindelik dáároor kan besluit.



Kommentaar
Het lekker gelees en jy het my aan die dink.