Adam Small – só onthou ek een van ons grootste digters

  • 1

Adam Small (foto: Naomi Bruwer)

die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi' ons
daai's maar al

o God
U hoogste proef is nie die vuur
maar die vernedering

Adam Small, die eerste keer toe ek jou ontmoet het, was jy skaars 30 jaar oud en ek 'n student by UCT. Johan Heyns het 'n klompie van ons een aand genooi om na jou te kom luister by sy huis - en dis hier waar jy 'n blywende indruk op my jong gemoed gemaak het. Jy het ons kom voorstel aan Kaaps, die taal wat jy so lewendig laat sing het. Ons het geluister hoe jy van jou gedigte lees. Toe jy die gedig voorlees oor jou (eerste) vrou wat hoogswanger was, maar nie sitplek in die Slegs Blankes-afdeling van die bus kon kry nie en moes stáán, het jy ons as 't ware op die busrit saam met jou geneem. Selde voorheen was ek so ontsteld as in die meelewing met daardie woorde van jou. In jou sagte stem het almal teenwoordig jou vernedering oor hierdie onreg soos 'n skop in die maag beleef. Daar was 'n doodse stilte in die sitkamer en ons kon maar net ons koppe in jammer-skaamte laat sak. Jy was nie beskuldigend teenoor ons nie, nee, net ontsaglik verbitterd oor daardie "dice" wat so verkeerd geval het.

Toe wys jy vir ons jou ánder kant, jou tipies "Kaapse" kant en ek kan helder onthou hoe jy "oppie parara" voorgelees, en vertel het dat jy die presiese woorde en uitdrukkings van die vrugteventer in jou gedig gebruk het :

"Opppie Parara" 
Please mêrim
kamaan smile
kyk net
ons tentjies is vol happiness gapaail!

ag hoe lyk die mêrim dan so suur 
foei foei 
is die lewe dan asyn 
en waar koep die mêrim dit 
lyk’s nogal boenop duur

nai, mêrim
toe, toe smile
kyk daar
ons tentjies is vol happiness gapaail!

Die witvrou kannie lag
en sy beveel:
ek wil niks hê nie,
die koelie streng-formeel

Ma’ mêrim, pô-pô, pô-pô en banana
en juicy drywe yt die hartjie van die Kanaän
of hoe fancy die mêrim so ’n vy
kyk net hoe uitgaswel is hy
van bo tot onner ytgady
moenie blush nie mêrim
ons het die blaar daarby
of miskien

Ek wil niks hê nie hoor!

Ma’ mêrim

Ek wil niks hê nie hoor!

Ma’ mêrim

Jou, jou koelie
ek sal nóú die polisie!

Die vrugtevent se stem trek agterna
polisie, polisie?
ag nai mêrim, moet nou nie so spiteful wies nie
sê tog decently goodbye
raai
die kaalgat perskes blow nog vi’ mêrim

Die blanke vrou stáp
oor die parade
klipitie-klap klipitie-klap

Haai mêrim haai
sure mêrim wil nie try onse guavas
ons guarantee hulle mêrim
hulle’s baie goed vi’ die nerves!

Ek sit hier met Sê sjibbolet waarin jy jou naam vir my geteken het (in Rondebosch se Pick n Pay, nogal) en lees weer jou opdrag voor in die bundel:

"Vir die eenvoudiges wat dink
en ook mag praat ..."

Met hartseer, maar met groot dankbaarheid neem ons afskeid van jou.

Ellen Botha

 

  • 1

Kommentaar

  • Marthinus Pieterse

    Die dice word nog alli pad geskommel, en dit val nog steeds verkeerd vi' ons, maar dit is nie Here wat skommel, dit is die fokken gowerment en daai ka ons nie lat happen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top