
Adam
Tullio Lombardo ca 1490 – 1495
Vir Heleen Louw
jou regterarm omhoog
dryf jy met houthamer
die beitel in skoon marmer
verander
die stand van die ganse blou
in Venesiaanse lig
mikromillimeter vir mikromillimeter
lig die kubistiese ruimte ’n sluis
oorskry hy ’n hoek
onskatbaar om hom ingeskape
vooroor kantelend
in die grondwaartse boog
suiwer wiskunde tastend na
Die Ander
leer die regterhand skryf
twee soorte marmer
klap op mekaar
’n silwer bliksemstraal deurtas die skedel
so het die klip dit uitgeroep


Kommentaar
Ons taal word hier kreatief en met sorg aangewend. Die gedig het besonderse trefkrag.
Dankie vir nuwe oë!