Acti de pastu: was dit mense of diere se skuld?

  • 1

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Bismarck von Molkte Louw – die vader van die begaafde Louw-broers N P Van Wyk en WEG – het tussen 1998 en 1920 as prokureur op Sutherland gepraktiseer. Hy het aan die South African College, die voorloper van die Universiteit van Kaapstad, in die regte gestudeer en is in 1898 tegelyk as prokureur, aktevervaardiger en notaris toegelaat.

Ek het onlangs afgekom op ’n dowwe afskrif van ’n eisbrief, gedateer 9 Oktober 1915, wat Louw as prokureur aan ’n boer van die plaas Klipplaat in die Sutherland-distrik gerig het. Daarin word namens Louw se kliënt, ene AC Vlok, die bedrag van tien sjielings geëis as skadevergoeding weens “de verkeerde trekking en overtreding” van Du Plessis se vee oor Vlok se plaas:

Die vraag na die regsbasis van Vlok se eis is van meer as verbygaande belang. As dit die gevolg was van die skuldige – dws opsetlike of nalatige – optrede van Du Plessis en/of sy werknemer(s), sou die gewone beginsels van die deliktereg gegeld het: Vlok sou skuld aan Du Plessis se kant moes bewys; hy sou die kousale verband tussen die handeling en die ingetrede skade moes bewys; hy sou moes bewys dat die handeling onregmatig was; as die beeste deur een van Du Plessis se werknemers aangejaag is, sou Vlok moes bewys dat Du Plessis middellik (as werkgewer) aanspreeklik was en Vlok sou, oplaas, ook die omvang van sy skade moes bewys.

Daar is egter ook ’n ander moontlikheid: Du Plessis se diere kon uit eie beweging oorgegaan het na Vlok se plaas, in welke geval daar sprake kon wees van Du Plessis se skuldlose aanspreeklikheid aan die hand van die sogenaamde actio de pastu pecoris.

Louw se brief wei nie uit oor die regsbasis van sy kliënt se eis nie, wat interessant is: dit kon “slim” litigasietaktiek gewees het (Louw kon sy opsies wou oopgehou het), maar die feit dat nie na Du Plessis se skuldige optrede verwys word nie, kan ook daarop dui dat Louw goed vertroud was met die beginsels van die actio de pastu.

’n Mens wonder dus of Louw gedurende sy regstudies met die actio de pastu in aanraking gekom het: die kennis daaroor is immers in stokou bronne van ons gemenereg vervat en daardie bronne sou sonder twyfel al tydens Louw se studiejare landwyd in regsbiblioteke en private versamelings beskikbaar gewees het. Ons howe erken al van oudsher sonder meer die bestaan van die actio de pastu in ons reg, maar vir my is dit interessant dat ’n Suid-Afrikaanse geregshof – en wel die Vrystaatse hooggeregshof – eers in 1987 die gemeenregtelike bronne ivm dié aksie werklik deurtastend ondersoek het. Die aanloop was ’n donderstorm gedurende die somer van 1983 op 'n mielieplaas in die distrik Wesselsbron in die Vrystaat. Die tersaaklike feite is die volgende: Ene mnr Van Zyl en ene mnr Van Biljon was bure. Van Zyl was 'n mielieboer en Van Biljon het met beeste geboer. Op Van Zyl se plaas was daar 'n mielieland van 78 hektaar. Tydens 'n donderstorm het weerlig die grensdraad tussen die twee plase beskadig. Van Biljon se beeste het deur die opening gegaan en Van Zyl se mielieland lelik verniel. Van Zyl se skade het R7 500 beloop; in vandag se geld sou dit natuurlik heelwat meer gewees het.

Mnr Van Zyl het sy eis gebaseer op 'n baie ou aksiegrond uit die Romeinse reg, bekend as die reeds genoemde actio de pastu. Met hierdie aksie word die eienaar van 'n dier wat iemand skade berokken, bloot op grond van die feit dat die dier aan hom behoort, aanspreeklik gehou. Die persoon wat die eis instel, hoef nie te bewys dat die eienaar van die dier nalatig was nie.

Mnr Van Biljon se verweer was dat hy nie vir die skade aanspreeklik gehou kon word nie, aangesien die beeste toegang tot mnr Van Zyl se plaas verkry het op grond van wat hy genoem het vis maior – die Latyn vir “oormag”, of in Engels, "act of God". Van Biljon het dus die weerligstraal wat die grensdraad afgeslaan het, vir Van Zyl se skade aan sy landerye geblameer.

Die saak het voor een van ons kleurryke regters, regter M T Steyn, gedien.

Regter Steyn het sy uitspraak1 van 39 bladsye in Februarie 1986 gelewer. Dit is seker een van die deeglikste ondersoeke nog van die presiese bepalings van die actio de pastu uit die Romeinse reg. Die regter wys daarop dat in die primitiewe tye die dier wat skade veroorsaak het, self gestraf is – meestal met die dood. In 450 vC is 'n kommissie in Rome aangestel om die bestaande Romeinse reg te hersien en aan te vul. Die produk van die kommissie se werksaamhede was die sogenaamde Twaalf Tafels. Die bestaande Romeinse reg is in 12 afdelings verdeel en op bronsplate gegraveer wat in die Romeinse forum vir die publiek beskikbaar gestel is. In afdeling 7 van daardie Twaalf Tafels word die actio de pastu behandel. Dit het bepaal dat wanneer 'n dier iemand anders skade berokken, die dier self nie meer uit wraak doodgemaak sou word nie. Sy eienaar is egter wel voortaan persoonlik aanspreeklik gehou. Hy kon verplig word om óf die dier te oorhandig aan die persoon wat skade gely het, óf skadevergoeding te betaal.

Is dit nie wonderlik nie? Hier het ons te make met 'n aksie wat dateer uit die jaar 450 vC en wat nog steeds geldig is in die Suid-Afrikaanse reg, 2 000 plus jaar nC. Toegegee, met verloop van tyd is hierdie aksie in geringe mate deur regsgeleerdes aangepas om aan veranderende omstandighede te voldoen.

Maar terug na die saak van mnr Van Zyl en mnr Van Biljon: regter Steyn het na sy interessante ontleding van die geskiedenis van die actio de pastu beslis dat die aksie steeds in ons reg van toepassing is waar 'n dier toegang tot iemand anders se weiding of saailande kry sonder die opsetlike toedoen van sy eienaar of enigiemand anders. Dit is dus van toepassing waar die dier uit eie beweging optree.

Regter Steyn moes egter nog aandag skenk aan Van Biljon se verweer dat die eintlike oorsaak van die skade vis maior (oormag) was – met ander woorde, die feit dat die grensdraad tussen die twee plase deur die weerligstraal platgeslaan is. Die regter sê dat oormag wel onder sekere omstandighede 'n verweer teen die actio de pastu kan wees. 'n Voorbeeld is waar die diere nie uit eie beweging nie, maar vanweë iets soos 'n veldbrand na die buureienaar se grond gedwing word en só genoodsaak word om die weiding of gewasse te vertrap. In só 'n geval sal die persoon wat skade gely het, nie 'n aksie teen die eienaar van die diere nie hê.

Toegepas op die feite van die saak het die regter beslis dat die weerlig niks méér gedoen het as om die grensdraad af te slaan nie en dat die beeste daarna uit eie beweging die toegang deur die stukkende draadheining ontdek het. Die diere is dus op hulle eie deur die heining na Van Zyl se grond en nie omdat hulle deur oormag daarheen gedwing is nie. Van Biljon se verweer teen Van Zyl se eis kon dus nie slaag nie en hy is aanspreeklik gehou om die destyds aansienlike bedrag van R7 500 aan skadevergoeding op te dok.

'n Mens wonder net of 'n trop beeste regtig soveel skade aan 'n mielieland kan aanrig. Die boere onder ons sal seker weet ...

 

 

1 Van Zyl v Van Biljon 1987(2) SA 372(OPA)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 1

Kommentaar

  • Louis van Vuren

    Baie interessant, Gustaf.  Ek onthou hoe ek in `n Delikteregmondeling op RAU in 1981 `n vraag oor die actio de pastu gevra is deur prof Frans Malan (later regter en appèlregter) wat as interne moderator in die mondeling opgetree het. Die dosent (gasdosent wat vir prof JC van der Walt ingestaan het) was prof Johan Neethling, in daardie stadium van UNISA, en hy het verlig gelyk toe ek so min of meer die vraag kon antwoord.  Dit was `n klompie jare voor die uitspraak in Van Zyl v Van Biljon.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top