Die swierige Mount Nelson Hotel was uiters gepas vir die net-so-swierige gaste by vanjaar se Kanna-toekennings. LitNet was in die geselskap van Suid-Afrika se grootste geeste in die vermaakbedryf, asook die belowendste jong talent. Hier is vanjaar se wenners.
Die Afrikaans Onbeperk-toekening is toegeken aan Dot Serfontein vir haar lewensbydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Haar oudste kleinseun, Andries Samuel, het die toekenning namens haar ontvang.
Andries Samuel |
Dorothy Masuka het 'n staande ovasie gekry toe sy die verhoog betree om die Kuns Onbeperk-toekenning vir haar lewensbydrae tot die kunste te ontvang. Die 77-jarige ma Dorothy het Carien Loubser en Karen Zoid bedank en gesê sy hoop dat die Here vir hulle 'n spesiale plek langs haar in die hemel sal hou. "Before I met these young ladies I thought Afrikaner people were different from me," het sy gesê.
Karen Zoid het die Kuns Onbeperk Kruispunt-toekenning ontvang vir haar bydrae tot die samewerking tussen Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kunstenaars. Sy het in haar toespraak kunstenaars aangemoedig om nie te kla oor die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie. "Ons land is die beste plek om 'n kunstenaar te wees," het Zoid gesê.
Die Kuns Onbeperk-toekenning vir diens aan die kunste is aan Temple Hauptfleisch toegeken. Die emeritus professor en navorser in die Drama-departement van die Universiteit Stellenbosch, asook redakteur van die South African Theatre Journal, het 'n beroep op die gehoor gedoen om hulle tekste te argiveer asook die datums van hierdie "vervlietende kuns" vir toekomstige dramaturge en navorsers neer te pen.
Karen Zoid, Ton Vosloo, Saartjie Botha en Temple Hauptfleisch |
Daar was 'n hele paar verrassings onder die pryswenners, en ook gunstelinge wat, soos verwag is, met 'n Kanna weggestap het. Hier is die res van die wenners:
- Slurpie Kanna vir beste opkomende kunstenaar: Nieke Lombard vir Pruttel en Elnora en Nirvana
- Herrie Kanna vir kopverskuiwende werk: Elnora en Nirvana
- Kanna vir beste debuutwerk: Pruttel
Chanmari Erasmus (Elnora en Nirvana) en Nieke Lombard |
Jayne Batzofin (Pruttel), Chanmari Erasmus en Nieke Lombard |
- Kanna vir beste visuelekuns-aanbieding: Cobus Bosch vir Vergete Verledes
- Kanna vir beste aktrise: Sandra Prinsloo vir Oskar en die Pienk Tannie, Die Leo's en Liefde, Anna
- Kanna vir beste regie: Lara Bye vir Oskar en die Pienk Tannie
- Kanna vir beste teateraanbieding: Oskar en die Pienk Tannie
Lara Bye en Sandra Prinsloo |
- Kanna vir beste akteur: die Balbesit-ensemble
Die Balbesit-ensemble. Saartjie Botha (agter regs) was verantwoordelik vir die vervaardiging en teks. |
- Afrikaans Onbeperk vir vernuwende denke - Saartjie Botha
- Kuns Onbeperk vir diens aan die kunste: Ton Vosloo
- Kanna vir beste klassieke uitvoering: Bravissimo!, The South African Sopranos
The South African Sopranos: Goitsemang Lehobye, Niel Rademan (vervaardiger), Magdalene Minnaar en Lynelle Chrystal Kenned |
- Kanna vir beste musiekproduksie: Dreams deur Chris Chameleon
Chris Chameleon |
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
Kommentaar
Darem baie talent onder ons Afrikaanssprekendes. Baie geluk aan elkeen wat 'n toekenning ontvang het. Baie dankie aan die wat ook 'n bydrae lewer maar nie 'n toekenning ontvang het nie - hou aan met goeie werk!