ABSA KKNK gaan groen

  • 0

Besoekers aan vanjaar se Absa KKNK moet gerus by die Trapsuutjies-tent by die Absa Wynsaal ’n draai maak om te bepaal hoe hul koolstof-voetspoor die planeet benadeel.

Trapsuutjies spruit uit samewerking tussen die Absa KKNK, Cape Nature Trust, Groter Oudtshoorn Toerisme en die Oudtshoorn Munisipaliteit met die oog op ’n geïntegreerde  mgewingsbewaringsbeleid. Die beleid vorm deel van die Munisipaliteit se strategiese dokument, Visie 2030.

By Trapsuutjies sal feesgangers deur middel van ’n groot Abakus kan bepaal hoe hul reis-metode koolstofvrystelling bevordeel of benadeel het. Dit is net een van talle uitstallings wat daarop gemik is om die belangrikheid van omgewingsbewaring te benadruk.

Die tent op die rivieroewer gaan ook die Librere-stigting se kunswerke uit afval, die Radio Sonder Grense se Droom vir Suid-Afrika-projek, sowel as 'n lewensgrootte renoster as deel van 'n teen-stropingsveldtog huisves. Spekbome gaan by die Media24-stalletjie verkoop word ten bate van die versiering van vooraf-bepaalde areas in Groter Oudtshoorn. In die binnehof van die tent is daar 'n waterpunt waar feesgangers waterbottels kan volmaak.

Vir diegene met iets op die hart sal daar 'n Groen Seepkis wees van waar hulle hul griewe of gedagtes kan uitbasuin.

Daar sal ook voortgegaan word met die herwinning van materiaal vanaf die feesterrein, deur personeel en voertuie van die Absa KKNK na ’n tydelike stortingsarea naby die feesterrein. Op hierdie area word die afval deur die herwinningsmaatskappy in drie kategorieë geskei gesorteer: glas, Plastiek-papier-karton en nat afval. Die plaaslike herwinningsmaatskappy verwyder dan die herwinbare materiaal, waarna Oudtmun die res van die afval na die munisipale stortingsterrein verwyder.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top