ABSA Ketting: Zandra Bezuidenhout gesels met Gilbert Gibson

  • 0

1. Jy het met ’n verrassend sagte landing in die wêreld van die Afrikaanse digkuns tereg gekom. Jou bundel Boomplaats is oral gunstig ontvang, en jy is by vanjaar se Versindaba op Stellenbosch met Proteaboekhuis se toekenning vir die bundel van die jaar bekroon. Hoe reageer jy as veertigplusser en debutant op hierdie verloop van sake, en wat beteken dit vir jou?

Poësie (uit die grieks poiesis, om te máák) is die kuns waarin taal aangewend word vir estetiese kwaliteit,  bo-oor die moontlike wat die digter impliseer of wil sê.  Die kritiese interpretasie van poësie en as eweknie die erkenning daarvan, maw die toekenning van bv ’n prys, interpreteer myns insiens slegs hierdie estetiese kwaliteit  (dit sê niks, of baie min van die digter óf die intensie óf die betekenis daaragter).  Ongelukkig is dit so dat die erkenning nie noodwendig die waarheid is rondom die kwaliteit van ’n gedig nie.  Op ’n egoïstiese vlak is dit natuurlik lekker as ander digters jou erken en as jy gunstig ontvang word deur kritici:  dit streel die eie ek, en maak ongelukkig die kreatiewe pad op ’n sekere vlak makliker én moeiliker. Dit is in my oë baie moeilik om een bundel as “beter” te bestempel as ’n ander. Ek glo daar is ’n laai by ’n huis wat sekerlik ’n ongepubliseerde bundel in het wat nie die erkenning kry wat dit toekom nie.  Gunstige ontvangs en bekroning van ’n werk is in ’n sekere mate ook ’n relatiewe toevalligheid wat kom uit die aard en die gesindheid van die poëtiese letterkunde op daardie tyd. 

2. As medikus verryk jy ons digkuns met talle verwysings en beelde uit jou beroep, en dit lyk of jou dokterskap en digterskap nou verweef is. Sou jy byvoorbeeld sê dat jy in jou daaglikse omgang met liggaamlikheid en siekte gedurig die moontlikhede van die taal in gedagte hou, en dat dit by jou natuurlik saamval?

Die medisyne en die digkuns is nie onverweef nie. Daar is veral in die Engelse letterkunde voorbeelde, soos William Carlos Williams, ’n eskulaap wat ’n diploma in pediatrie gehad het, en kreatiewe insig openbaar het om met ’n rooi kruiwa tussen die gewone kindersiektes te ry. Uit die medisyne leer ek van die digkuns baie. Ek leer dat die menslike lewe broos is; dat die liggaam weerloos is;  dat die doodsoomblik dikwels strek oor maande of jare;  dat die geneeskundige armamentarium tot morbiditeit en mortaliteit maar onsinnig swak is;  dat die daaglikse aanslag van die diuretikum of digitalis relatief min doen om die uiteindelike verloop van siektes te beïnvloed; dat die mens nie noodwendig gesondheid soek nie, maar gerusstelling;  dat siekte dikwels die gevolg is van die innerlike onwelsyn en die subjektiewe nood wat die mens elke dag in sy omgang met die wêreld om hom beleef; en dat die dood ironies genoeg vir min mense ’n relatiewe sekerheid is. Ek leer egter in die digkuns ook baie van medisyne:  soos dat liriese intensie belangrik is om die mens gesond te maak; dat woordelike eerlikheid genesing bring;  dat taal net so ’n belangrike substraat soos die sel in die liggaam self is; en dat estetiese waarde en kwaliteit ook deel is van die fisiese bestaan in en om die lyf. 

3. Jou digkuns het tematies gesproke vele fasette: die natuur, die liefde, die geweld van oorlog, die menslike liggaam, en meer. Hoe noodsaaklik beskou jy die ontginning van ’n verskeidenheid aan prikkels vir ’n digter, en uit watter wêrelde sal jy nog graag wil put?

Die uitwendige prikkels rondom ’n digter het ’n noodwendige invloed op dit wat  hy skryf: Daardie prikkels word dikwels nie gekies nie.  Ek het al gepoog om om te gaan met die natuur en die landskap om my, met die liefde en die ontginning van beantwoorde liefde, die veldslag as ’n simbool van ’n tipe van kontinue oorlog wat jy elke dag voer in jou stryd in die interpretasie van die dag se weer,  teen die interpretasie van die nuus om agt,  in jou gesels met ander mense, in die ingooi van petrol in die kar en die hantering van krieke in die tuin.  Hierdie prikkels is die noodwendige lewe van die digter,  en dié  lewe is die noodwendige voorspel vir dit wat kan kom. 

4. Wat vormgewing betref maak jou werk ’n eietydse, eiesoortige en kunssinnige indruk. Het jy bepaalde uitgangspunte oor die tegniese aspekte van jou gedigte, en streef jy na ’n bepaalde soort struktuur, seggingskrag of aanbieding in jou werk?

Ek sou graag meer “urbaan” wou skryf,  ek sou die beelde van die stad beter wou ken. Ek sou graag willens en wetens wou omgaan met woorde wat in eie eenvoud komplekse goed sê (soos Charl-Pierre Naudé in sy tweede bundel byvoorbeeld baie treffend regkry). Ek sou graag nie so getref wil wees deur die skoonheid van die woord of woorde self nie. 
Vir my is dit baie belangrik om ’n lyn van eerlikheid in ’n gedig te handhaaf.  Ek dink persoonlik dat ’n gedig prinsipieel faal as die digter oneerlik is:  veral in ’n liriese gedig is dit  vir my duidelik sigbaar.  In die skryfproses (waar die gedig hom dikwels self skryf) dink ek dat die onwaarheid ’n gedig in die sitoskelet van sy eie woord verswak. Hierdie uitgangspunt is min of meer die enigste wat ek in die kop hou.  Ek het geen spesiale strewe na ’n bepaalde soort struktuur, seggingskrag of aanbieding nie.  Gedigte is ook musikale en matematiese objekte, en soos Douglas Hofstadter suggereer (Gödel, Escher, Bach: “an eternal golden braid…”)  is daar ’n goue lyn wat deur kuns loop, en waaraan ek soms dink as ek ’n gedig in terme van vorm benader. 

5. Watter soort leesstof verkies jy, en stel jy ook belang in wat op die gebied van die Afrikaanse literatuur gebeur?

Die wêreld van boeke om ons is natuurlik ’n groot bron van inspirasie, en ’n digter kan sekerlik nie genoeg lees nie.  In die hopie hier op my lessenaar (waar ek nou skryf), lê Ivan Vadislavi? se Propaganda by Monuments;  Alexander McCall Smith se Dream Angus, António Lobo Antunes se An Explanation of Birds, Clive Wilmer se mooi bundel The Mystery of Things, Michael O’Siadhail se Love Life, Aardling van Zandra Bezuidenhout, Petra Müller se Night Crossing, Tom Dreyer se Equatoria, Lawrence Weschler se Mr. Wilson’s Cabinet of Wonder, Miroslav Holub se Jingle Bell Principle, John Burnside se Lie about my Father en Paul Auster se Music of Change, waarmee ek intermitterend hierdie weke stoei. Ek word poëties veral getref deur Petra Muller, Izak de Villiers en Charl-Pierre Naudé wat wetend of onwetend vir my insigte in die vreemde wêreld van die poësie gee.  Ek hou van TT Cloete.  Ek is oneindig beïndruk met Dolf van Niekerk se nuwe bundel. En ek dink “Winternag” is die mooiste gedig ooit. Dikwels is ek bang vir die Bybel.

6. Die titel “Boomplaats” roep in die eerste plek die historiese Slag van Boomplaats op. Kan jy vir lesers opsom hoe jy dit met die inhoud van jou bundel verbind?

Boomplaats was die Oranje-Vrystaat se eerste Vryheidsoorlog.  My agter-groot-oupagrootjie, Frederich Peter Schnehage (1811 - 1888), was een van drie boere wat gevange geneem is na daardie slag (om dié nuttelose inligting tot volle konsekwensie te voer: Schnehage was die pa van Martha Margaretha [1843-1876] wat op haar beurt getroud was met  James Gibson, ’n dokter op Winburg, pa van William Francis Parker Gibson [1867- 1937]), die pa van Gilbert John Gibson [1894-1978], my oupa, en pa van Willie (1924-2003), my pa). Hy en twee ander is deur sir Harry Smith in Winburg ter dood veroordeel: hulle grafte is tot vandag toe nog sigbaar, die (ironies) drie oop grafte in ’n stukkie dorpsmeent net langs die skougronde.  Boomplaats is vir my ook die plek van bome, en herinner aan ’n tuin waar Judas sy noodwendige werk moes doen.

Daar is nog vele vrae, maar dankie vir die voorlopige kennismaking. Mag dit meer lesers aanspoor om jou werk te leer ken, en mag jy nog menigmaal die digterlike lugruim klief!
 

Baie groete.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top