ABSA Ketting: Danie Marais gesels met Ronelda Kamfer

  • 0

’n Beduidende aantal Afrikaanssprekendes, bruin en wit, maak deesdae hulle kinders Engels groot. Sommige doen dit om pragmatiese redes, ander omdat hulle bitter is oor die verlede. Hoekom skryf jy in Afrikaans?

Ek het nie ’n "beef" met Afrikaans nie. Ek is Afrikaans, so ek skryf in Afrikaans.

 

In ’n onlangse radio-onderhoud op RSG het jy laat blyk dat jy nie net as bruin stem van die Kaapse Vlakte gesien wil word nie. Wat pla jou aan dié etiket?

Etikette is simpel. Ek dink vir myself en praat namens niemand nie. Ek was nog altyd ietwat van 'n outsider en ek dink regtig dit is tyd om op te hou om mense in bokse te druk. Ek is gebore in die Kaap, het 'n paar jaar by my grootouers op 'n vrugteplaas op Grabouw gebly, laerskool was ek in Blackheath, hoërskool in Eersterivier, toe weer in Blackheath, en nou in Stellenbosch. Dit is eenvoudig onmoontlik vir my om net die bruin stem van die Kaapse Vlakte te wees – my agtergrond laat dit nie toe nie. As ek die een ophef, skeep ek die ander een af. Die lewe is te kort om 'n "poser" te wees.

 

Watter twee of drie skrywers is jou helde en hoekom?

Charles Bukowski. Ek's mal oor sy skryfstyl, sy houding en die feit dat hy vreesloos geskryf het – reguit en tot die punt.

Antjie Krog. Sy's die eerste Afrikaanse digter wat my nie op hoërskool eindeloos verveel het nie. Toe ek haar werk ontdek, het ek geweet dat poësie nie veronderstel is om gekompliseerd of vervelig te wees nie.

Ek hou ook nogal van Koos Kombuis.

 

Jy is besig om aan ’n manuskrip te werk met die voorlopige titel Vergewe my maar, ek is Afrikaans. Waar kom jy aan die titel en wat beteken dit vir jou?

Ek was een oggend op pad werk toe, en toe ons so verby 'n construction site ry, was daar graffiti teen 'n muur met dié woorde. Ek het skielik gevoel soos die klein kindjie wat die eerste keer haar veters reg vasgemaak het, maar wie se ouers te besig is om op mekaar te skreeu om dit op te let.

Vir my beteken dit basies om nie skaam te wees oor watter dialek jy praat nie; om nie weg te probeer hardloop van jou agtergrond en verlede nie, en bowenal, om nooit ooit minderwaardig teenoor enigiets of enigiemand te voel nie.

Waaroor gaan jou gedigte?

In my 25 jaar het ek nogal heelwat dinge gesien en ervaar en ek skryf daaroor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top