Aborsie, die groot keuse: moord of nie?

  • 3

Duisende swangerskappe in Suid-Afrika eindig elke jaar in aborsie. Tog glo die meerderheid Suid-Afrikaners dit is onder alle omstandighede verkeerd, selfs al is daar ? groot kans dat die baba ernstige gebrekke sal hê. ? Teenstydigheid wat baie mense laat kopkrap.

Statistieke oor hoeveel aborsies elke jaar uitgevoer word, is moeilik bekombaar en ook nie altyd konsekwent of akkuraat nie. Hoewel statistieke moeilik bekombaar is, blyk dit dat daar ’n groot toename in wettige aborsies sedert die wetgewing was en ’n afname in agterstraat-aborsies.

In ’n meningspeiling onder Afrikaanssprekendes wat onlangs in Rapport gepubliseer is, dui 57% van die deelnemers aan dat hulle aborsie as moord beskou.

Voeg hierby die land se liberale aborsiewetgewing, waar jong meisies sonder toestemming self kan besluit of hulle ’n aborsie wil hê, en die tafel is gedek vir almal van kerkleiers tot politici om op die aborsie-wa te klim. Niemand behalwe die ma self kan egter in haar skoene staan nie.

Stephen Rule, ’n navorsingsdirekteur van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het in 2004 in ’n studie bevind dat Suid-Afrikaners se verdraagsaamheid jeens aborsie sleg vergelyk met dié van inwoners van Westerse lande soos Brittanje, Pole, Nederland en Switserland.

Altesame 60% van alle Britte is ten gunste van aborsie, 70% van alle Pole en meer as 80% van Nederlanders en Switsers. Skaars 20% Suid-Afrikaners stem saam.

Tog kan enige vrou in Suid-Afrika op enige ouderdom sonder rede ’n aborsie aanvra, mits sy minder as 12 weke swanger is. Toestemming van ’n ouer of lewensmaat word nie vereis nie. Die wet maak ook voorsiening vir aborsies tussen 13 en 20 weke waar babas ernstige gebreke mag hê, die ma se gesondheid op die spel is en ’n swangerskap die gevolg van bloedskande of verkragting is. Na 20 weke is aborsies toelaatbaar slegs as die ma of die fetus se lewe in gevaar is.

Maar wat van die ongebore kind se pa en sý regte?

’n Landdros by een van Gauteng se familiehowe wat verkies om anoniem te bly sê sy merk deesdae dat die vrou gou die "hy is nie die pa nie"-kaart speel wanneer mans hulle regte wil opeis. “Ek wag nog vir ’n saak in die hooggeregshof waar die man wat beweer hy is die pa, ’n interdik gaan bekom om die aborsie uit te stel hangende die vaderskapbepaling.”

Sal so ’n interdik tot gevolg hê dat aborsie verhoed word? Die Suid-Afrikaanse reg is nog in sy kinderskoene met betrekking tot die regte van die pa en dit bly ’n grys area.

Elize Morkel, ’n sielkundige in die Wes-Kaap, sê sy het baie probleme met die Pro-Life-aktiviste wat vroue op morele en dikwels godsdienstige gronde skuldig laat voel oor aborsie. Dit kan maklik die indruk by vroue laat dat hulle eintlik geen keuse het as om alle swangerskappe, selfs dié wat die gevolg is van geweld soos verkragting, voltermyn te laat gaan nie. “Ek glo vroue moet wel ’n keuse hê in hierdie saak – veral as hulle nie in vaste verhoudings is nie.”

Morkel meen as die swangerskap binne ’n verhouding gebeur, het die pa ook seggenskap oor die beëindiging daarvan, maar die vrou se lewe word baie meer geraak deur ’n swangerskap en geboorte as ’n man s’n. Die implikasies vir vroue is net soveel meer, sê Morkel vanuit haar ervaring in die praktyk met vroue sowel as mans oor die saak.

Maar waar begin menslike lewe?

Hoewel die Bybel nêrens die vraag oor aborsie spesifiek hanteer nie, is gelowiges oor die algemeen streng daarteen gekant. Hulle blaai graag na tekste soos Jeremia 1:5, waar vertel word dat God ons geken het nog voordat Hy ons in die moederskoot gevorm het. Ook in Psalm 139:13–16 word gepraat van God se aktiewe rol in ons skepping en vorming in die moederskoot. Vir baie gelowiges is aborsie daarom nie ’n geval van die ma óf die pa se reg om te kies nie. Vir hulle kom dit neer op moord. Daar is selfs regsgeleerdes wat dié standpunt huldig.

In die meeste gelowe is daar ’n verskeidenheid van sienings oor aborsie, sommige meer liberaal as ander.

Dit is onmoontlik om ’n eenvormige siening wat alle Protestante verteenwoordig daar te stel. Almal sê dat lidmate aborsie versigtig moet benader en goed moet nadink voor ’n finale besluit geneem word. Die meeste Protestantse kerke aanvaar dat aborsie verkeerd is, maar dat daar wel omstandighede is waarin ’n aborsie toelaatbaar is.

Oor die algemeen glo ook Moslems aborsie is verkeerd en ontoelaatbaar. Baie Moslems aanvaar egter dat dit wel onder sekere omstandighede toelaatbaar is. Die Koran verwys nie spesifiek na aborsie nie, maar gee wel leiding in verwante sake wat dan op aborsie toegepas word.

Judaïsme verbied nie aborsie nie, maar verwerp aborsie op versoek. Elke saak moet op eie meriete beoordeel word. Die besluit mag geneem word eers na konsultasie met ’n rabbi wat bevoeg is om in hierdie sake raad te gee. Ortodokse Judaïsme laat aborsie toe net as die voortgesette swangerskap die ma se lewe bedreig.

Soveel mense, soveel menings. Uiteindelik bly dit ’n uiters komplekse vraagstuk.

Vir Elsabe Pepler, ’n ma en kommunikasiekundige wat navorsing doen oor genderkwessies, is elke geval uniek. Sy sê dit hang grootliks van die spesifieke verhouding af.

Sy gee toe dat aborsie lewenslank enorme implikasies het, maar meen daar is ’n plek vir deurdagte aborsie op sekere stadiums van vroue se lewens. “As so baie ander kwessies kon verander het – byvoorbeeld die debat oor seks buite of voor die huwelik – hoekom kan hierdie gesprek en kwessie nie ook verander nie?”

Sy noem drie uiteenlopende gevallestudies wat mens laat nadink en besef hoe kompleks die saak is. ’n Vriendin was in ’n verhouding met ’n man waaruit ’n onbeplande seuntjie gebore is. Toe sy op 45-jarige ouderdom teen alle verwagting weer swanger word, het die pa aangedring op ’n aborsie, omdat hy nie verantwoordelikheid vir nog ’n baba wou aanvaar nie. Sy kon dit nie oor haar hart kry nie. Agtien maande na die baba se geboorte wil die pa nou skielik dié baba ook opeis. Dit wys bloot hoe ons oor so ’n ernstige kwessie deur denke en gevoelsveranderinge kan gaan, verduidelik Pepler.

Nog ’n vriendin van haar het op universiteit swanger geraak. Die pa het hom na ’n verhouding van drie jaar ter wille van sy eie loopbaan uit die voete gemaak. Die baba is vir aanneming opgegee. Agt-en-dertig jaar later is daar steeds nie berusting nie. Selfs die kind lewe skynbaar ’n ongelukkige lewe as volwassene. “Nou wonder ek dikwels of ’n aborsie nie beter sou gewees het indien dit toe wettig was nie?”

Pepler sê sy ken egter ook iemand wat na drie dogtertjies net nie lus was vir ’n “per ongeluk” vierde swangerskap nie, en ’n aborsie ondergaan het. En nou dwaal sy rond met ’n hol kyk in haar oë.

Uiteindelik kan niemand namens ’n vrou besluit nie, veral nie as daar groot ekonomiese, finansiële, loopbaan- en gesondheidsoorwegings is nie. Al sekerheid is dat die aborsiedebat nog lank met ons sal wees. So ook die vraag oor die pa se seggenskap daaroor.

Erik Francis Schrody (Everlast) som dit treffend op in sy lied “What it’s like”:

She heads for the clinic and she gets some static walkin' through the doors;
They call her a killer, and they call her a sinner, and they call her a whore;
God forbid you ever had to walk a mile in her shoes;
'Cause then you really might know what it's like to have to choose.

  • 3

Kommentaar

  • Johann Lemmer

     Die woorde "menslike lewe" is relatief. Klinies begin seldeling (wat as die begin van 'n unieke nuwe lewe beskou sou kon word amper altyd na bevrugting in die "Fallopian Tube" en selle verdeel vinnig selfs nog voor inplanting in die uterus. Verskeie voorbehoedmiddels verhoed nie bevrugting nie maar verhoed inplanting. Dus sou dit ook tegnies as "aborsie" beskou kon word. Nie alle beëindiging van lewe is moord nie (die meeste mense sal dit toegee). Myns insiens is aborsie / selfverdediging/ genadedood (alles in die algemeen gesproke) beslis nie moord nie.  

    • Martin van Schalkwyk

      Spontane aborsie of miskraam kan die gevolg van menslike onvolmaaktheid of 'n ongeluk wees, Opsetlik verwekte aborsie bloot om te voorkom dat 'n ongewenste kind gebore word, is voorbedagte moord. Hoe ernstig is die opsetlike neem van menselewe om 'n rede wat nie deur God gemagtig is nie? Lees 1Joh.3:15

  • Annora Eksteen

    Shame nee. Laat die arme mamma eerder na 'n ordentlike plek kan gaan om te aborteer as om 'n kindjie te kry wat in die abjekte moet grootword en honger moet ly en uitgekak word op skool oor hy nie kan konsentreer nie, of fetale alkoholsindroom het of vir ewig werkloos gaan wees, of 'n misdadiger of moordenaar gaan uitdraai. Die ou fetussie is nog geensins 'n mensie nie. Nou word babatjies boonop als nog in bokse weggegooi. Baie vrouens nou wat dit gedoen het en geen trauma daaroor oorgehou het nie. Beplande ouerskap is die heel beste. Ek wou my kiddies baie graag gehad het, so ek was nooit in daai benarde posisies nie. Die ma se keuse. Beslis. Gun haar die reg op kwaliteit lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top