Dawid Minnaar, Anna-Mart van der Merwe, Jana Cilliers en Antoinette Kellermann is te sien in macbeth.slapeloos – met Marthinus Basson as regisseur, ontwerper en kreatiewe verwerker van Eitemal se Afrikaanse vertaling van Shakespeare se Macbeth vir nege akteurs.
Louis van Niekerk en Brümilda van Rensburg bevind hulle in aftreeoord in Deon Opperman se nuwe drama As ek reg onthou; terwyl Sandra Prinsloo en André Jacobs swaarde kruis in Wie’s bang vir Virginia Woolf? (Edward Albee se verhoudingsdrama vertaal deur Saartjie Botha en geregisseer deur Christiaan Olwagen).
Botha en Olwagen is die skrywers van die debuutproduksie Wie drink wat? – ’n diepgaande en by tye komiese blik op partytjievrolikheid, met die noodwendige olikheid wat daarop volg. Spelers sluit in Rolanda Marais, Martelize Kolver en Brendon Daniels. Ná die sukses van die bekroonde Rooiland is Tertius Kapp terug met Oorsee – ’n apokaliptiese verhaal waarin “Suid-AfriFabelbergers” ná ’n vloed hulle ter see bevind op soek na die Nuwe Wêreld, met onder andere Gerben Kamper en Nicole Holm in die rolverdeling.
Nicola Hanekom se Land van skedels is ’n nuwe ruimtelike drama wat kyk na die Anglo-Boereoorlog en veral na die konsentrasiekampe. Dit is spesiaal geskep vir die 100ste herdenking van die inhuldiging van die Vrouemonument.
Brink Scholtz staan aan die stuur van Mike van Graan se nuwe spanningsvolle menslike drama, Gevalle engel, met Hannah Borthwick as die weerbarstige, moeilike kind wat niemand mooi kan peil nie.
De Klerk Oelofse is die aap Rooi Piet in Na-aap – ’n vertaling en verwerking van Franz Kafka se aangrypende A Report to an Academy, onder spelleiding van Jaco Bouwer. Die goëlaar is ’n magiese verhaal wat afspeel in die vroeë 1900’s met kulkunstenaar en akteur Geon Nel as Daniël: kan hy werklik kontak maak met die slagoffers van die oorlog, of is dit alles blote oëverblindery?
Chris Vorster betree weer die verhoog in sy selfgeskrewe Affairs vir domkoppe met Pierre van Pletzen as die regisseur; terwyl Lelia Etsebeth (akteur en skrywer), onder spelleiding van Tobie Cronjé, in Bokkie Botha die karakter van Bokkie uit Willie Esterhuizen se Molly en Wors: Die movie op die planke lyf gee.
|
|
The View, winner of two awards at the International Dublin Gay Theatre Festival and Nominated for three Fleur du Cap Awards.
|
Talle trefferproduksies van ander feeste en teaters word ook by die fees aangebied: die komiese drama Die Leo’s (o.a. Sandra Prinsloo en Tobie Cronjé); Chris Barnard se komedie Tango (Cronjé, Marius Weyers, Cobus Rossouw en Tinarie van Wyk Loots, onder spelleiding van Katinka Heyns); die vertaalde Ray Cooney-klug My vrou se man se lyk se tas; die strokiestorie-konsert Ben, Babsie en familie; die satiriese Lelike eend en The Three Little Pigs; die jeugdrama Die monster in die gang; die komedies Ou blare, Platform 9, Rekmerke – grepe uit ’n swangerskap, Strip!, Tjop en dop en verSKRIKKELik snaaks (ook skerpskerts); die onthutsende The View; en die multidissiplinêre Sfeer (met sand-animasie, dans en musiek).
|
|
Ben, Babsie en familie vertel van die wel en wee van ’n tipiese Afrikaanse middelklasgesin in Hoopstad.
|
Solovertonings wissel van ernstig en diepgaande tot lig en vermaaklik: Lynita Crofford in An Audience with Miss Hobhouse; Hannes Brümmer in Ballade van ’n banggat; James Cairns in Dirt; Marion Holm in HOLM: geMARIONneer; Chris Chameleon in Man; Louw Venter in’n Sondagoggend (die debuut van die Afrikaanse aanbieding van die hoog aangeskrewe Sunday Morning); Rob van Vuuren – Live; Petro van den Heever in Seuns; Waldemar Schultz in Stander; en Gys de Villiers in Wit manne se wapens.
Oudergewoonte sal die ATKV-Tienertoneel: Finaal ’n toonkas wees van ontluikende talent. En op die woordkunsfront is daar die speelse en prettige Boetie dit is tyd vir bid as ’n seekoeikoei op jou skoot kom siten Tussen hemel en aarde (met T.T. Cloete en Carina Stander se gedigte as vertrekpunt).
Die fees word van 24 tot 28 September in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

