Clover Aardklop Nasionale Kunstefees 2013: Musiek en dans

  • 0

Spoke maak ’n draai in die debuutproduksies Daar by Uniondale en Van maanlig en monsters. Geskryf en geregisseer deur Schalk Schoombie en met musiek van Herman van den Berg kry die verhaal van die spook van Uniondale by monde van Paul du Toit, LieSl Marx en Christiaan Schoombie op unieke wyse weer lewe. Ben Kruger (ook skrywer en regisseur), Pieter Smit en Jana Fischer fokus op spookstories (liegstories?) en grieselrige ware verhale in Van maanlig en monsters.

Ander produksies wat vir die eerste keer by Clover Aardklop te sien sal wees, is: Awesome – Rocco de Villiers (waarin De Villiers weer die verhoog met strykers deel);
Die plooi-faktor met Liesl Marx (’n opvolg op die gewilde VET-faktor); Dis mossie liefde (in opvolg op Ken jy tant Mossie?); Schalk Joubert – Die wêreld is my woning (’n ode aan wêreldmusiek); Ses Snare – Net Afrikaans met Afrikaanse musiek wat nuwe baadjies kry en wat ook nuwe oorspronklike liedjies insluit; en ZaZa en die kunsteNar met Zanne Stapelberg en Niël Rademan in ’n program met musiek wat wissel van die straat en kafee tot klassieke musiek.

Stapelberg is ook te sien in Secret Songs, saam met kitaarghoeroe James Grace, waarin sy musiek sing waarna sy self graag luister. In Amanda Strydom – State of the Heart sien ’n mens vir Strydom in die bekende gedaante van kabaretkunstenaar.

 
In Daar is ’n engel in my koskas van Willie Strauss vertel hy van en sing oor hoe engele daagliks in ons lewens kom baljaar.

 

Piet Botha, Mel Botes, Albert Frost en Valiant Swart is aan die roer van sake in Die Ruiters & Swart: Skrikbewind! Ook op die program is Willie Strauss in Daar is ’n engel in my koskas; Jak de Priester – N1 van my hart; Lance James en Min Shaw: Bymekaar; Lieflike droom – ’n Huldeblyk aan Gé Korsten met tenoor Jannie Moolman en bariton Riaan Hunter; Mathys Roets – Iemand soos jy; Pimp My Piano met Charl du Plessis en ’n orkes; Rocken skerp (’n kombinasie van skerpskerts en rockmusiek); en Vreugdefees van die Potchefstroomse Mannekoor

Diegene wat wil groot gaan, kan reeds Maandagaand 23 September feestelik begin met die Virseker/Beeld Afskopkonsert. Die program van Dinsdag tot Saterdag is onderskeidelik Braai Some More; Riders from the Storm – ’n aardskuddende konsert met Piet Botha, Mel Botes, Valiant Swart, Albert Frost en Nathan Smith; Smokie @ Clover Aardklop; Pussycat, Steve en (Afrikaanse) vriende met Pussycat (Toni Wille), Steve Hofmeyr en ander; en die Virseker/Rapport Saterdag-opskop.

Liefhebbers van ernstige musiek kan uitsien na die debuutproduksie Waansin waarin Magdalene Minnaar waansin-arias uit bekende operas vertolk; in Barbaric Beauty: Holland Baroque Society fokus die uitstaande Nederlandse barok-ensemble op komposisies van Telemann; De profundis clamavi bestaan uit musiek uit die 17de eeu, uitgevoer op oorspronklike barokinstrumente deur die befaamde Nederlandse barokviolis Antoinette Lohmann, die Kaapse bas Charles Ainslie en lede van die Suid-Afrikaanse Barokensemble; Sempre Viva Trio Recital met Polina Burdukova (tjello), Liesl Stolz (fluit) en Kerryn Wisniewski (klavier) voer werke van Arensky en Sjostakowitsj uit; en in Variété de Fauré is die requiem van Gabriël Fauré die fokuspunt.

Klassieke en ligte klassieke musiek word vermeng in Amen – ’n Musikale reis van Mozart tot Madonna (’n samestelling van gebedsmusiek en liedere waarin die woord “gebed” voorkom); Blondes – Klassiek tot fliek met pianiste Elna van der Merwe en Zorada Temmingh; Die Boulevard Harmoniste – Top a capella!; en
Forté: Kliphard Afrikaans, vervaardig deur die Black Ties.

In die dansprogram is die fokus op die mens en menslike gedrag. Attachments 1 to 7 met Craig Morris en Athena Mazarakis verken die spektrum van ’n liefdesverhouding en Beauty Tips van die Tshwane-dansteatergeselskap ondersoek onder meer die obsessie met plastiese chirurgie.

Die fees word van 24 tot 28 September in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top