Groot, groter, grootste! Reuse musiekaanbod vanjaar by Clover Aardklop

  • 0

Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Kurt Darren, Bok van Blerk, Jay, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Valiant Swart, Karen Zoid ... Dis maar net ’n paar van die groot name wat vanjaar kom konsert hou by Clover Aardklop. Voeg daarby ’n internasionale naam of twee en jy is verseker dat die voete op die feesterrein gaan stamp.

Pussycat, die Nederlandse groep wat bekend is vir groot treffers soos “Mississippi”, “Smile” en “Georgië”, se hoofsanger Tonny Willé is vir die eerste keer by Aardklop en op Vrydagaand 27 September deel sy die verhoog met onder andere Steve Hofmeyr, Riana Nel, Andriëtte Norman, Jan Blohm en Wynand & Cheree. Hierdie is ’n konsert wat nie misgeloop moet word nie!

Die gewilde Britse groep Smokie is by Aardklop as deel van hulle Take a Minute-wêreldtoer en sal al hul ou treffers soos “Needles and PIN’s”, “Oh Carol” en “Living Next Door to Alice” sing. Die konsert is op Donderdag 26 September.

Die fees skop egter al op 23 September af met die Virseker/Beeld Afskopkonsert met onder meer Kurt Darren, Robbie Wessels, Riana Nel, Adam, Theuns Jordaan en Snotkop op die verhoog.  Klik hier vir foto’s.

Die ander groot konserte is Braai Some More op 24 September met Claire Johnston, Emo Adams, Chris Chameleon, Karen Zoid en die nuweling Sarel Fourie. Op 25 September is dit beurt vir Riders from the Storm met Piet Botha, Mel Botes, Valiant Swart, Albert Frost, Nathan Smith en ’n geheime gas.

Die fees sluit op Saterdagaand af met die Virseker/Rapport Saterdag-opskop met Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk, MoniQue, Jay, Willem Botha, Elizma Theron, Anrika en 7de Laan se Hennie Jacobs wat ook die seremoniemeester is.

En moenie dink dat hierdie konserte jou ’n plaas se geld uit die sak gaan jaag nie. Maak gebruik van die spesiale aanbod en koop sommer vandag nog jou Klop-kaartjie. Hoe werk dit? Vir ’n eenmalige bedrag van R300 vir volwassenes en R200 vir kinders kry jy toegang tot die feesterrein én al hierdie konserte van 24 tot 28 September.

Kabaret en musiekteater staan ook nie vanjaar terug by Clover Aardklop nie. Amanda Strydom, Mathys Roets, Zanne Stapelberg, Jak de Priester, Jannie Moolman, Lance James en Min Shaw is maar net ’n paar van die talentvolle kunstenaars wat by die fees te sien is.

Vir meer inligting, gaan na www.cloveraardklop.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top