Sculpting the Land sluit gedokumenteerde werk van Van der Merwe, sowel as installasies in die galery en op die NWU se Potchefstroom-kampus in. Vanjaar se jong kurator, Luan Nel, bring in Weerberig die werk van 28 kunstenaars byeen waarin die klem op die landskap as ’n barometer vir klimaatverandering val.
Vir Site-Specific het Gordon Froud kunstenaars gekies wat betrokke was by die Site-Specific International Land Art Event van 2011 en 2013 in Plettenbergbaai om installasies te skep; Anni Snyman is die kurator van Relocated – ’n foto-uitstalling wat die einste landskapkunsgeleenthede gedokumenteer het; Hennie Meyer se Deursnit plaas ikone van ons verbruikersomgewing binne die ru, ongerepte sfeer van die omgewing; in Stillness ondersoek Hermann Niebuhr die stedelike landskap; Maureen Quinn se The Hunt bestaan uit bronsbeelde met die mens as destruktiewe krag in sy omgewing; in Landmeter maak Olaf Bisschoff gebruik van bestaande boektitels om skilderylandskappe te skep; Pierre Doman, Talitha Henderson en Letitia Bezuidenhout se “Quaking”/The Wounded Woman is ’n herskepping van die installasie wat hulle vir AfrikaBurn gemaak het; Show Us Our Land is ’n uitstalling van die Market Theatre Workshop van buitelugfotografie van oor die land heen; en vir Suid het die Wes-Kaapse kunstenaars Henk Serfontein, Sandra Hanekom, Luan Nel en Madelein Marincowitz elk ’n klein versameling skilderye gemaak wat op die landskap fokus.
Ander uitstallings wat deel is van die visuele kuns-program is Anthea Delmotte se Portals; Art of Thinking – werke uit RMB se kunsversameling; Collateral, met Ian Marley as kurator waarin Gordon Froud, Christiaan van der Westhuizen, Simone le Roux en Stephan Pretorius satiriese kommentaar lewer op die elitistiese aard van kuns as objek; Jaco Sieberhagen se satiriese The Carnival (No Dogs Allowed) wat sosio-politieke aspekte van ’n post-apartheid Suid-Afrika verken; Louise Pieterse se Onderro(c)k; Robert Hamblin se Onder konstruk; Theo Paul Vorster se Onwaarskynlik; en Warren Editions met drukkunswerke van plaaslike en internasionale kunstenaars met Zhané Warren as kurator.
Vir die gewilde Kunssafari die Maandagaand vóór die fees en die daaglikse kunstoere, aangebied deur Theo Kleynhans (vanjaar se visuele kuns-feeskurator), moet feesgangers vroegtydig bespreek.
Die kinders kan uitsien na Afri-ki-ri vertel – Jakkals en Wolf – magiese verhale uit Afrika; Droombos se nuwe prinsessie – die eerste volskaalse verhoogproduksie van Fantasi se gewilde Droombos-boekreeks; en ’n splinternuwe Liewe Heksie.
In samewerking met kykNET se Silwerskermfees en The South African School of Motion Picture and Live Performance (Afda) bied Clover Aardklop vanjaar ook gratis vertonings van Afrikaanse kortflieks aan van onderskeidelik jong fliekmakers en studente.
Stroomop is deel van ’n dokumentêre reeks van kykNET oor die skrywers André P. Brink (24 Sept.), P.G. du Plessis (25 Sept.), Pieter Fourie (26 Sept.), Adam Small (27 Sept.) en Chris Barnard (28 Sept.) wat by die fees vertoon gaan word nog vóór dit op die kassie gaan wees. Kaartjies hiervoor is beskikbaar by die deur.
Vir die smulpape is daar die nou reeds gewilde Die Clover Aardklop Lang Tafel op die Sondag en Wyn-en-kos-pasmaats.
Die fees word van 24 tot 28 September in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

