
Foto: Canva
Aardklop
Die man en sy vrou wat die boek geskryf het, is op toer met Die skuld wat bloed betaal. Hulle bemark haar verhaal, trotseer saans moeg beddens wat hulle lywe nie ken nie. Die navigasiesisteem trek ’n streep waar hulle moet heen. Draai links, draai regs, beveel die blikstem streng. Hulle volg die aanwysings gehoorsaam van Nieu-Bethesda, deur Parys tot in Potchefstroom.
Op ’n verhoog voer intellektuele argwaan ’n Blitzkrieg op haar uit. ’n Digtersvriend het haar gewaarsku dikvelligheid is ’n voorvereiste as jy groot kanonne se geroeste ysterballe wil afweer. Gewapen met die kennis kners sy op haar tande, glimlag liefies en koes vir dodelike kopskote. Daardie aand drink hulle die nodige glase salwende wyn. Douvoordag die volgende oggend draai hulle beduiweld en effens babelas druipstert huiswaarts.
Hulle reis deur die karkas van ’n ontbindende land terug op die ruggraat van die N1 wat plek-plek verkrummel, al reik tolhekdienaars gebiedend hande vir betaling. Nou en dan ry hulle verby verweerde sementtafels en -bankies waar niemand meer waag om te stop om tee en toebroodjies uit ’n mandjie te pak nie.
Tussen niks en nêrens staan ’n kar wat al beter dae gesien het, langs die pad. ’n Man met ’n Orania-T-hemp aan pis ’n geel straal bitter teen die wind in waar hy op die skouer van die pad met ’n oop gulp staan. Sy oë pik paraat links en regs. Sy vrou is besig om haar broek haastig op te trek waar sy skuil agter ’n bossie. Teen ’n takkie klou die onteenseglike getuienis van ’n swart blerts. ’n Tissue fladder weg en haak aan ’n nabye doringdraad. ’n Klein seuntjie waggel met dik doekboude om die voertuig. Hy mik pad toe.
’n Vragmotor kom teen ’n waansinnige spoed van voor af aan en die mangaan waarmee dit op pad is spat teen die voorruit. Sy knyp haar oë toe en wag vir die nagalm van remme wat skree en dan die onvermydelike slag. Dit kom nie. Goddank. Sy draai om en kyk terug. Die kind lê op die gruis. Sy mond is wyd oop. ’n Ouer meisie het hom steeds aan die arm beet waaraan sy hom teruggeruk het; pa en ma kom vervaard aangestorm.
Sy skud haar kop en fokus verlig op die veld wat langs hulle verbyflits. Tussen die bleek graspolle boog kaalgepikte ribbebene en eenkant kreet ’n skeefgetrekte kaak met holtes vir oë. Horings wys skuins hemel toe. Watter dood het die bees langs hierdie pad gevind? Is dit ’n manifestasie van die onrus wat sy sweer sy hoor ritsel tussen die grassade wat buig in die toenemende woede van die wind? Dit pluk met mening aan hulle motor en dreig om die bonkige model van die pad af te swiep. Haar man se kneukels klem wit om die stuurwiel.
Hulle nader die wêreld van haar komvandaan. Murasies van dorpe wat sy geken het, hurk langs Ultra Cities en klou tevergeefs aan hul karige bestaan. Net kerktorings wys nog vingers na die geloof in ’n uitverkore volk wat goddelike regmatigheid wou eis. Dis ’n folterende reis deur haar verlede, ’n ongenadige terugkoms sonder tuiskoms.
Uiteindelik draai hulle af na die dorpie waar sy grootgeword het. Hulle vermy slaggate in strate waar sy verveeld rondgedrentel het; daar waar tralies nou huise omtronk. Sy verdwaal, kan nie die pad vind na haar kindsbeenhuis nie. Sy is ’n vreemdeling in ’n landskap wat rou oor dooies en sterftes en alles wat vergaan het. Sy neem foto’s met die hoop om net ’n greintjie van wat was, vas te vang; iets van haar onthou, iets om te onthou. Ons kan maar ry, besluit sy uiteindelik mismoedig en gelate. Sy vermy die truspieëltjie toe hulle wegry, want sy weet nou dat wat sy gehoop het om te sien, lank terug reeds gekwyn en verdwyn.
Hulle roete swenk suid, Oos-Kaap toe. Voor hulle hang die dag grys en grimmig aan die horison wat bly wyk voor in die pad wat nie kronkel of draai nie. Blou cumulonimbuswolke dreig en dui op komende donderweer. Die eerste druppels spat koud en geniepsig op die voorruit en klap op die kap van die kar. Die reën was die stof en geel blertse insekslagoffers driftig af. Al vinniger kap die ruitveërs om sig te behou. Dit tik benoud die kilometers af.
Net voor Graaff-Reinet breek die Karooson dapper deur en hang soos ’n bloedige oorbel aan die lel van ’n wolk. Sy blaas haar asem uit, trek diep teue oopte in. Haar borskas verruim en maak plek vir ’n fraksie vrede.
Skemer klim sy uit by die plaas se hek. Mon Désir, kondig die naambord aan. Sy loer behoedsaam rond of daar nie dalk onheil êrens skuil nie. Sy steek die sleutel in die plaashek se slot. Dit swaai gewillig oop vir haar. Haar man ry deur. Sy druk die slot weer toe. Dis koud in haar hand. Sy hou die sleutel styf vas.
Sy snuif die lug. Dit ruik na skaap. Sy adem die eiesoortige kruiegeur van ankerbossies diep in. Teen die laaste lig pronk ’n paar springbokke in die huiskamp voor hulle koers vat berg se kant toe. Die maan klouter teen die kamme van die berg uit en sekel dan die oorblywende stukkie dag tot sterf. In die blou fluweel van Karoonag se hemelruim wys die aandster die geboorteplek van verlossing aan. Dis hier waar jy nou hoort, sê dit vir haar. Dit is wat jy nou begeer, ton désir ...
*
Mon désir: my begeerte / wat ek begeer
Ton désir: jou begeerte / wat jy begeer


Kommentaar
So ‘n ryk beskrywing van julle rit, noordwaards en terug huis toe in die Karoo! Pragtig!
Uitstekende beskrywing van die rit, voel asof ek 'n passasier was in daardie motor.