Aardklop: Pram-stoter-paradys

  • 0

Die jaarlikse migrasie na Potchefstroom vir Aardklop het helaas nie hierdie keer baie groen weiveld gebied nie. Wat eintlik in Noordwes lê en wag het, was ‘n dor mengelmoes van generiese stalletjies en biertent-verhoë vol cover-kunstenaars. Aardklop is ongelukkig een van slegs ‘n handjievol feeste wat steeds die Afrikaanse kunste kan bevorder, so dit is ‘n bitter pil om te sluk wanneer so ‘n fees oënskynlik ‘n doodloopstraat bereik.

Musiek was yl gesaai in Potch se strate hierdie jaar. Die fees moes hard kompeteer met Skouspel oor die naweek en daar is ook weggedoen met Oppiaarde. Gelukkig vir rock-liefhebbers het die Bult se gewilde kuierkroeë weer eens die kans gegryp op voordeel te trek uit die stampvol strate. Heel week het groepe soos Moses Metro Man, Glaskas en Dans Dans Lisa verhoë regoor die dorp versier. Baie van hierdie groepe het hulle oorsprong gehad in hierdie kuierplekke, so die meer as 30 shows wat al hierdie groepe hierdie week gedoen het, was ‘n verootmoediging vir die meeste van hulle. Bouwer Bosch het self gebieg dat hy ses jaar terug ‘n sekuriteitsbeampte was wat minderjariges uit biertente moes hou by dié fees, maar nou het hy agt vertonings die week gedoen. Ander vertonings wat ook opspraak gewek het, was Jack Parow, Frankie Fire, Man as Machine en Van Coke Kartel.

Tydens ‘n bespreking met Deon Opperman, Hannelie Booyens en Kobus Burger het ek opnuut besef dat feeste soos hierdie al hoe meer eksklusief fokus op die gemene deler. Die bespreking was gemik op die rol van die media in die Afrikaanse kunste. Kobus Burger stem saam dat feeste soos Aardklop vermaak bied vir “pramstoters”, soos hy dit noem. Die ouer garde mik reguit na die smultafels toe vir tant Sannie se Appeltert en Koos se Sosaties, terwyl mammies en pappies bontspring om rysballonne en slush puppies vir die jong klomp te koop. Maar daar is net een area eksklusief beset deur 20-somethings: biertente. Opperman was nie skaam om sy opinie hieroor te lug nie. Hy sien studente as ‘n las op die samelewing wat in elk geval net hulle geld op ecstasy, kokaïen, dagga en drank (in daardie volgorde) gaan spandeer.

Maar daar is geen twyfel nie dat daar ‘n nuwe golf jongmense die mark betree wat honger is vir meer as net ‘n babelas. Baie jongmense onthou die sukses van 2-21 waarin Francois van Coke ‘n klompie jare terug gespeel het en sê hulle is reg vir so iets om weer die planke te tref. Gee vir enige student ‘n kaartjie teen ‘n studenteprys en jy lok hom vinniger as Nicholis Louw na ‘n Ferrari-baadjie toe. Die gereelde verhaal van ‘n menopausal vrou wat in ‘n verhouding is met haar aangenome gekleurde seun lok wel kuns-foendi's en sal boonop vol gehore trek as jy vir Sandra Prinsloo in die hoofrol sit.

Maar lê die toekoms van sulke feeste nie tog by die jonger mense nie? Daar moet ‘n lus vir die kunste gekweek word, maar daardie lus moet ook ontwikkel en behou word.

Snags was Snowflake definitief ‘n hoogtepunt. Dit voel kompleet of jy op die stel van 7de Laan opstap met al die bekendes wat daar ontspan, maar hierdie versteekte juweel bied meer as net dit. Die ou meule wat omskep is in ‘n kuierplek, het elke aand tot ten minste 02:00 kunstenaars laat optree. Die mure is ook behang met unieke moderne kunswerke wat die kontemporêre gevoel net daardie een stappie verder vat.

Die foto-uitstalling hierdie jaar was wel ‘n belewenis. Sean Brand (tesame met Christel Duvenage) se fotoreeks oor musikante se tatoeëermerke mag jy nie misgeloop het nie. Maar die kans is groot dat jy het. Is aanwysingsbordjies en ‘n advertensie of twee so baie gevra? Want die meeste mense vergeet heeltemal dat die “Kunste” in “Kunstefees” meer as net drama en musiek is.

In die verbygang het ek menige male gehoor hoe bekommerde feesgangers die storie versprei dat Aardklop Gauteng toe gaan skuif. Dit bly maar net skinderstories, maar dit sou definitief nie ‘n oplossing bied nie. Aardklop was hierdie jaar vir die 15de keer gehou, dus moet hulle iets reg doen. Maar reg is nie meer goed genoeg nie; dit moet ná 15 jaar uitstékend wees! Jan Alleman gaan steeds jaar na jaar na die fees terugkeer, dit bly ‘n feit. Maar indien die fees mik om werklik Afrikaanse kuns te red en bevorder, sal alles van bemarking tot kaartjiepryse aandag moet geniet. Is dit werklik na al hierdie tyd bevredigend genoeg as al wat die meeste mense na die tyd gaan sê, is: “Onthou jy daardie keer wat ons so dronk was by Aardklop?”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top