Marina Albertyn-Struwig se tweede stuk woeker voort in die tradisie van realisme met temas om grond, grondbesit, inter-afhanklikheid, manlikheid en vroulikheid, die verwoestende effek wat grenservarings op op die individu en die gesin het, en hoe geloof, ook politiese geloof, vir goed sowel as kwaad aangewend kan word.
Dít is die regisseur Marthinus Basson se omskrywing van die toneelstuk Bloed en Bodem, wat sy debuut vanjaar by Aardklop maak.
Hy behartig die regie van die Bloed en Bodem. Bloed en Bodem is die tweede teks uit die pen van Marina Albertyn-Struwig. Haar eerste toneelstuk, Melk & Vleis, verower verskeie toekennings by 2017 se Aardklop. Marthinus Basson behartig ook die regie van Melk & Vleis.
Marthinus gesels oor Bloed en Bodem, die uitdagings van ’n toneelstuk op die planke bring, en die waardevolste lesse wat hy al oor die jare geleer het.
Bloed en Bodem maak sy debuut by Aardklop hierdie jaar. Vertel ons asseblief meer oor die produksie.
Marina Albertyn-Struwig se tweede stuk woeker voort in die tradisie van realisme met temas om grond, grondbesit, interafhanklikheid, manlikheid en vroulikheid, die verwoestende effek wat grenservarings op op die individu en die gesin het, en hoe geloof, ook politiese geloof, vir goed sowel as kwaad aangewend kan word. Haar gegewe is klein - geïsoleerde boere in die Noordweste, ‘n pa, ‘n dogter wat hoop om te boer, ‘n oom en ‘n werkerseun wie se ambisie om Springbokrugby te speel deur ‘n ou enkelbesering in die wiele gery word.
In die verloop van die stuk moet almal hulle sienings en verwagtinge, ook van mekaar, heroorweeg en herbesin.
Die landskap van die stuk is ‘n reeks familieplase in die Noord-Kaap wat reeds oor drie geslagte lank ontwikkel en bygevoeg is. Die aksie vind plaas, soos baie plaasdramas, in die voorhuis. Een broer (Stian Bam) het geen kinders nie en die ander (Albert Pretorius) het net ‘n dogter (Carla Smith). Haar ma verlaat haar pa en haar op vyf as gevolg van haar pa se drinkprobleem. Haar "broer" (Obed de Koker) is die huishulp wat haar grootgemaak het se seun.
Uit hierdie gegewe weef Albertyn-Struwig ‘n komplekse en onverwagse drama waar verlossing ‘n moontlikheid bly maar nie sonder uitsonderlike skade en verlies nie.
Marthinus, dit is nie die eerste keer wat jy ’n toneelstuk van Marina Albertyn-Struwig aanpak nie. Melk en Vleis is ook deur haar geskryf. Wat staan vir jou uit van haar tekste, waarby vind jy aanklank?
Uit ‘n onlangse gesprek met haar het sy aan my gesê dat sy ‘n aktiewe besluit geneem het om nooit uit haar eie wêreld of sienings te skryf nie, maar temas te ontgin wat haar stimuleer, of vrae laat stel en dan uit deeglike navorsing by ‘n antwoord vir haar dramas te kom. Ek vind dit ‘n besonderse en onverwagte besluit vir iemand so jonk, sy is maar 25, en haar werk het sodoende ‘n volwassenheid wat raar is onder mense van haar generasie. Alhoewel ek nie ‘n natuurlike aanvoeling het vir realisme nie vind ek haar werk hoogs stimulerend en ‘n absolute plesier.
Hierdie stuk bied nuwe uitdagings. Die karakters is nie noodwendig geskool in die taal van bekentenis of emosionele insig nie. Hulle is basies, soms bot en kommunikeer in halwe sinne en geykte frases. Soos vir alle goeie Calviniste is bieg vir die binnekamer. En belangrike goed word nooit oor gepraat nie. Dit is moelik vir die akteurs, maar heerlik, wanneer dit werk.
Wat nog meer opwindend vir my is is dat sy oorspronklik kan skep om mites, hetsy Medea of Kain en Abel, en dan vars en verweefde oplossings kan vind daarvoor. So baie werk wat ek sien bly aanvegbare aanpassings waar die skelet van ‘n bestaande stuk ooglopend deur die vel druk sonder om nuwe waarde verby ‘n konteksverskuiwing toe te voeg.
Daar word genoem dat die produksie onder andere oor temas handel soos grense, grond en familie, en plaasaanvalle. Watter temas spreek die toneestuk nog aan en waarom juis die temas?
Ek dink dat die temas oor wat aan wie behoort en wie het reg op enigiets, hetsy liggaam, grond, ras of skuld, nou nogal op brandpunt is. Hierdie teks is reeds oor die afgelope jare ontwikkel as deel van haar doktoraal oor die grensdrama. Tyd het haar heerlik ingehaal.
Een van die onverwagse elemente in haar stuk is hoe sy die normale verwagtinge van die gehoor ondermyn en hulle in sypaaie na die werklike temas lei. Ook struktureel is daar onverwagte omwentelinge en die laaste wending sal die gehoor moet voorsien.
Marthinus, dink jy dis nodig dat teater grense verskuif, en produksies relevante en toepaslike temas aanspreek?
Ek dink teater wat preek, hoort nie op die verhoog nie. Dan moet jy kerk of politieke forum toe en oor die algemeen gaan jy dan preek vir die wat reeds glo.
Ek dink dat geen grense verskuif kan word as die ruggraat nie in plek is nie, en op die oomblik vind ek die ruggraat van teater byna totaal verkalwer. Wat nog meer pla is hoe maklik iets as grensverskuiwend beskryf word terwyl dit reeds so moeg is. Dit spruit natuurlik uit ‘n velies van kennis en historiese konteks asook die verval van infrastruktuur. Daar is ook te min mense wat werklik iets weet wat pas aangee en ek kan my soms verkneukel oor toekennings en produksiebesluite wat probeer om dit wat “reg” is te doen instede van dit wat goed is.
Niemand baat daarby behalwe vir die besluitnemers nie.
Natuurlik kan teater ‘n boodskap hê, maar antwoorde is gemaklik, vrae het beter newe effekte omdat dit die gehoor noop om te dink. ‘n Gehoor wat nie medespeler word nie bly bloot ‘n toeskouer. Deesdae is alles so pynlik “korrek” of sentimenteel en dit maak nie vir my stimulerende of blywende ervarings nie.
Dis nie maklik om ’n produksie op die been te bring nie. Watter uitdagings is daaraan verbonde om ’n produksie soos dié op die been te bring?
Alle produksies verg baie eenvoudige goed: tyd, ruimte, geld en talent. Op die oomblik is infrasturktuur daarmee heen, tyd is ‘n luukse, dit raak moeiliker en moeiliker om geskikte spelers vir rolle te vind in sekere ouderdomsgroepe en die veterane val een vir een met niemand om hulle skoene in te tree nie. Geld is al jare lank skraps en word roekeloos aangewend vir die glans van ‘n fees liewer as om iets blywend te bou.
As dit nie was dat Alexa Strachan aanklank by Marina se werk gevind het sou dit nooit die vehoog gehaal het nie, en as dit nie vir AK21 was met hulle borgskap nie, nog minder.
Marthinus, jy werk al lank in die kunste bedryf. Wat is sommige van die waardevolste lesse wat jy al oor die jare geleer het?
Teater was nie my eerste keuse nie, en as iemand my vra of hulle dit moet kies as ‘n loopbaan raai ek hulle af as gevolg van die onsekerheid, min geld, die afskaal van verwagtinge, artistiek, sowel as prakties, huis, hond, kind of kraai. Maar dan is dit ook die enigste werk wat van jou verwag om te tydreis, verlede, hede en toekoms as speelblokke te gebruik, mense te beliggaam waarmee jy geen aanklank vind of verkies om te ken nie en verryk daaruit te kan tree met geen skade aan jou gees nie.
Maar daarby sou ek toevoeg: staan altyd in diens van die teks. Probeer om nooit tevrede te wees met jou werk nie. Probeer om jou regie te versteek sodat niemand dit sien nie want dit staan tussen die gehoor en die speler en jy leer meer uit iets wat jy nie wil doen nie as dit wat jy brand om mee te woeker. Dit bly ’n voorreg om met die woorde van groot kunstenaars om te gaan of soms met groot geeste te werk. Dit alleen al maak op vir ‘n duisend ander dinge.
***
Marthinus Basson verwerf bekendheid as regisseur. Van sy produksies sluit in Mirakel, Mis, Drif, Drie susters twee en Yelena (Reza de Wet), Boklied, Johnny Cockroach en Die toneelstuk (Breyten Breytenbach), Hoekom is dié wat voor toyi-toyi altyd so vet? (Antjie Krog), Slaghuis (Willem Anker), 'n Lang dagreis na die nag (Eugene O’Neill), Die Joseph en Mary Affair (Malan Steyn), macbeth.slapeloos (verwerking van Macbeth van Shakespeare). Oor die jare verower hy verskeie toekennings, onder andere Fleur du Cap-toekennings, Vita-toekennings, Fiësta-toekennings die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer hom in 2003 met 'n Erepenning vir Toneelkuns vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse teater. Hy het ook klas gegee by die Universiteit van Stellenbosch se Departement van Drama.
Die geselskap bestaan uit Stian Bam, Albert Pretorius, Obed De Koker en Carla Smith.
Bloed en Bodem is van 2-6 Oktober by Aardklop te sien. Vir meer inligting besoek Aardklop se webtuiste by www.aardklop.co.za. Aardklop vind van 2-7 Oktober plaas.


