Aardklop 2017: ’n onderhoud met Alexa Strachan

  • 0

Aardklop vind vanjaar van 2 tot 8 Oktober plaas. Naomi Meyer gesels met feesbestuurder Alexa Strachan oor wat vanjaar by die fees verwag kan word.

Alexa, dis amper tyd vir Aardklop 2017. Wat is vanjaar hoogtepunte op die program?

Dis altyd effe goor om produksies of kunstenaars uit te sonder. Elk verdien immers sy eie fokus in die soeklig. Maar kom ons kyk na enkele debute, produksies wat al elders gespeel het en aandag getrek het, asook werk wat eenmalig by Aardklop aangebied word. 

Ons vra mos ewiglik waar die nuwe skrywers is:  Melk en Vleis deur Marina Albertyn is ’n nuwe teks wat by die KKNK-teksmark aandag getrek het. Marthinus Basson sit hierdie werk wat deur Euripides se Medea geïnspireer is op die planke, met Ilse Roos, Paul du Toit, Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka in die rolverdeling. Ander debute sluit in: Milan Murray se Weerkaats (deur Retief Scholtz), Tara Notcutt se Half leeg met Cintaine Schutte, Chris Vorster se Manne  ̶  ’n  tragikomedie met Vorster self, asook oa Hannes Brummer, Hennie Jacobs, Theodore Jantjies en Francois Lensley as die skoolpelle wat herenig vir ’n jagnaweek waartydens dinge natuurlik verkeerd gaan en ook Elize Cawood en Wilson Dunster se Mike en Mavis (deur Wessel Pretorius). 

Produksies wat elders gespeel het sluit in: Basson se Asem (Reza de Wet), Pa maak vir my ’n vlieër, Pa (Chris Barnard), Christo Davids se Martelsang (Death and the Maiden), Nêrens Noordkaap van Nico Scheepers en Die reuk van appels waarvoor Gideon Lombard ’n Kanna gewen het vir sy vertolking. Dawid Minnaar is ook op pad met Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

Ons musiekprogram is effe uitgebrei – met kunstenaars vanaf Spoegwolf en Hemelbesem na die Radio Kalahari Orkes tot by Charl du Plessis, Bongani Kubheka en Noluvuyiso Mpofu. PG: ’n Lewe vol ... asook Die Woordenaars is eenmalige musiekproduksies, so moet dit nie misgeloop nie. 

Die fees se tema vanjaar is #hartelus. Wat beteken dit vir jou?

2016 se suksesvolle fees was werklik kort duskant ’n wonderwerk, gegewe die min tyd wat ons gehad het om dit te reël. Ons besef egter dat dit nie ’n eenmanvertoning was nie, en wil daarom  elke liewe uiteenlopende feesganger en kunstenaar vier – dis danksy hulle dat ons kan fees na #hartelus. Ons wil ieder en elk ook dan juis nooi om hierdie jaar dieselfde te kom doen – en ons bied ’n program aan wat dit inderdaad moontlik maak. Daar is letterlik iets vir almal: visuele kuns, gesprekke, teater, musiek, gesinsvermaak – die hele boksemdais. 

Jy skryf in jou voorwoord dat Aardklop by die Atrium vir meer avontuurlustige feesgangers minder konvensionele produksies aanbied. Wat behels dit?

Ja, dis ’n lekker nuwe een die. Ons bied by die Atrium twee produksies aan: Die een is Splinterster, wat kortliks as multi-media-installasieteater beskryf kan word. Deur middel van digkuns, musiek, film en fotografie ondersoek Johan Jack Smith, Franco Prinsloo, Pieter Lombaard en Kobus Kotze menswees, vervreemding en verval.  Die tweede is DEURnis, wat een-tot-een teater is. Daar is slegs een akteur en een gehoorlid op ’n slag, en 12 verskillende produksies. Teatergangers koop kaartjies in pakkette van drie. Dis kort teaterstukke (20 min elk) met onderliggend aan elk die deernis waarmee verskeie onderwerpe ondersoek word. Die stukke speel af in verskillende vertrekke van ’n gewone huis. Dis uiteraard ’n intieme, unieke ervaring. 

Na verlede jaar se onstuimige begin, hoe voel Aardklop oor die fees vanjaar?

Ons sien 2017 eintlik as die eintlike eerste jaar, en tot ’n mate as die groot toets. Almal hou mos van ’n stukkie sensasie en tot ’n mate ook van die “underdog”. Nou is dit byna ’n geval van terug na die realiteit, en daardie realiteit sluit moeilike ekonomiese toestande, onsekerheid en kommer oor die land in sy geheel in. Maar ons is opgewonde. Kaartjieverkope loop lekker en dit blyk dat die teater- en feesgangers, asook die Potchefstroomse gemeenskap, positief oor die fees en sy aanbod is. 

Wat beskou Aardklop as sy fokus of sy kern: teater, boeke, musiek, stalletjies? 

Ons glo aan balans, en dat elke feesganger sy eie feeservaring moet kan saamstel. Die meer as 35 teaterproduksies, 35 musiekkonserte, 40 gesprekke, 7 uitstallings, die musiekverhoë en 440 stalletjies op die feesterrein spreek hiervan. Sommer op die punt: Ons gesprekke-aanbod brei ook uit. Ons het soos altyd die gesprekke met skrywers by die ATKV-Boeke-oase, maar bied ook hierdie jaar die nuwe Rede-kabel Gesprekkereeks by die NWU-besigheidskool aan. In die oggende is die fokus op aktuele sake, in die middae is dit Sake en Sauvignon, en in die aande bespreek ons landbousake rondom en braai sommer vleis ook – ons raak mos almal slimmer rondom ’n braaivleisvuur. 

Ek vra jou oor die stalletjies, want as organiseerder van ’n kunstefees dink mens seker na oor wat kuns is, of hoe? Sorteer handwerk, kos en wyn vir jou onder kuns (maw wat is die onderskeid tussen arts en crafts)? Of dalk kan jy gesels oor die rol van die stalletjies by die fees, as jy wil.

Dis soms maklik vir kunstenaars of dieper denkers om bloot krities te staan teenoor feesterreine, stalletjies en gratis verhoë. Die werklikheid is egter dat ons feesterrein ’n onmisbare rol speel in die voortbestaan van die fees. Nie alle feesgangers wil uithang by die kunsuitstallings of gesprekke nie – sommige wil rondsnuffel op die feesterrein op soek na ’n stukkie handwerk of iets om te eet. Beide feesgangers dra by die tot die fees se sukses en verdien hul plek langs mekaar, die een hoef nie ten koste van die ander uitgesonder te word nie. 

Vir ’n fees om te kan bestaan, moet dit finansieel ondersteun word. Maar almal kyk mooi na hul geldsake soos wat dit nou in die ekonomie gaan. Is daar ook goedkoper en gratis produksies op Aardklop se program?

Juistement, hierdie sluit aan by jou vraag hierbo. Ons moet na ons feesganger se beursie kyk. Daarom is ons toegang tot die feesterrein slegs R20 per dag en R60 vir die hele week. Kinders onder 12 kom gratis in. En dan sluit dit nog die toegang tot die verhoë, asook die ATKV-Boeke-oase, in. Dis belangrik dat die fees toeganklik is vir ’n breër groep. Ons hoop is ook dat waar hierdie toegang so laag is, die publiek dan ’n paar rand sal afknyp om produksiekaartjies ook te koop. As elke terreinbesoeker ook een kaartjie koop vir ’n produksie, is ons koppe deur. 

Hoe word die hele gemeenskap van die omgewing by die fees betrek en hoe vind almal daarby baat?

Bogenoemde goedkoop toegang tot die feesterrein het juis ook ten doel om die groter gemeenskap te kan betrek. Maar verder skep Aardklop vir 400 mense werk met die oploop na die fees. Ook is dit ons beleid om eers plaaslik te soek na diensverskaffers, en sou ons nie plaaslik regkom nie, dan wyer aan te stel. Die plaaslike ekonomie baat met ten minste R55 miljoen as gevolg van die fees, so die impak is beduidend. Projekte soos die Taxi Teater waarmee ons in 2016 begin het, word ook met groot entoesiasme hierdie jaar uitgebrei, met die doel om plaaslike talent en die wonderlike diverse kulture van bv Ikageng en Promosa te vier. Ons doen ook moeite om plaaslike stalletjiehouers te ondersteun, nie net finansieel nie, maar ook deur middel van opleiding.  

Sal jy asseblief uitbrei op praktiese kwessies soos waar mense kaartjies kan koop? 

Computicket, Computicket! Maar mense moet asb vir die feesterrein wat soos altyd die Dinsdag  tot Saterdag oop is, kaartjies koop by ons kan kantoor: Molenstraat 69, Potchefstroom. 

Waar kan mense die program in die hande kry?

Die program is beskikbaar by www.aardklop.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top