Aansoekers moet opskud vir LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se tweede Kommadagga-slypskool

  • 0

Ongepubliseerde Afrikaanse en Engelse skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, het nog tot Vrydag 2 Julie 2021 om 12:00 tyd om vir deelname aan LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se tweede Kommadagga-slypskool aansoek te doen. Dié mentorskapprogram vind vanjaar van 5 tot 26 Oktober 2021 in Somerset-Oos plaas.

Kyk hier vir al die besonderhede oor hoe om aansoeke in te stuur.

Rachelle Greeff (Foto: Karin Brynard) en Theo Kemp (Foto: Facebook)

Die eerste Kommadagga-slypskool is in 2020 met Rachelle Greeff as mentor aangebied. Vanjaar neem sy weer die leisels. Só moedig sy aspirantskrywers aan om in 2021 van dié gulde geleentheid gebruik te maak:

Om vir drie weke nie te hoef te dink aan brood en koffie koop, en skottelgoed of wasgoed was nie, is luuks. Jy hoef nêrens heen te ry nie. Niks anders te doen nie. Net speel met woorde en stories. Jy hoef niemand te sien nie – buiten ’n handvol wat jou liefde vir woorde en stories deel.

In sulke omstandighede rek die ure en verleng die dae en tik die tyd langsaam oor. G’n wonder ek was laasjaar verstom oor die vordering wat die woordemakers in drie weke vermag het nie. Nog iets: As jy inkennig en eenkant van aard is, wees rustig nes jy is. Die huis en die tuin is enorm. Jy kan letterlik vir ure “wegraak”.

Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting, nooi voornemende aansoekers uit om deel te word van die omgewing waar Jakes Gerwel sy kindervoetspore gelaat het:

Met die Bosberge buite jou venster, die sjarme van ’n ou huis en ’n tuin waarin jy kan verdwaal, is daar beswaarlik ’n meer idilliese plek as Paulet Huis in Somerset-Oos om te gaan skryf. Voeg dan nog daarby die geleentheid om by een van ons beste skrywers en mentors, Rachelle Greeff, te leer en jy maak jou reg vir ’n ongeëwenaarde skryfervaring. Ons wil met hierdie projek nogmaals die geliefde landskap van Jakes Gerwel – Kommadagga se wêreld – met ons skrywers deel.

Kommadagga-alumni: Theolla Langenhoven, Helena Troskie en Stef Cupido (Foto’s: verskaf)

Die Kommadagga-alumni Theolla Langenhoven, Helena Troskie, Sandile Ntuli en Stef Cupido het die 2020-ervaring in Somerset-Oos onvergeetlik gevind. Hulle deel indrukke van die ervaring met voornemende aansoekers, en is nie skaam om raad te gee nie.

Vir Helena Troskie was dit ongelooflik “om te sien hoe ’n warboel letters verander in ’n werklike mooi storie”. Die geleentheid om vir drie weke lank intensief te kon skryf was vir haar ’n eerste en het gepaard gegaan met “herskryf, oorskryf en weerskryf”.

Stef Cupido moedig suksesvolle kandidate aan om vriende te maak met die “spoke in die huis en die mense in die dorp”. Om in Paulet Huis met sy ryk geskiedenis en stories gepamperlang te word, is ’n belewenis. “Jy gaan mense leer ken wat soos jy is, wat soos jy verstaan, wat ink in die bloed het,” vertel sy. “Sjef Gilbert maak die lekkerste kos en vertel die wonderlikste stories. Cae help ook met alles en is Gilbert se regterhand; sy gaan uit haar pad vir jou.”

Sandile Ntuli voor Paulet Huis tydens die 2020 Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos (Foto: Regardt Visser)

Sandile Ntuli vertel dat mens jou volkome moet oopstel en oorgee aan die Kommadagga-ervaring: “Be willing to be vulnerable. By that I mean you should be willing to reveal part of yourself with honesty to your fellow writers and your mentor, Rachelle. What are your fears and doubts as a writer, for example? Also, be open to learning and sharing what you've learnt in your writing journey. Assume you don't know it all, which will make you want to learn from others.”

Verskille in taal, agtergrond, herkoms en ouderdom verryk die Kommadagga-ervaring, sê Sandile. “Our conversations were always insightful, and yet naughty as well! Our relationship was such that we had our own inside jokes as a group which I still think about months after Kommadagga. Our common interest, writing, bridged the gap between our various age groups.”

Jy gaan nuwe mense leer ken wat jou spasie vir drie weke lank deel, vertel Theolla Langenhoven. “Afhangende van jou geaardheid, kan jy lewenslange vriende ontmoet by die slypskool. Mentors wat jou regtig wil help groei en medeskrywers wat jou onsekerheid en angs verstaan.” En daar is meer as genoeg tyd vir rustig wees en ontsnap uit die druk van daaglikse verpligtinge. “Verlede jaar het ons groep lekker saam geleer, ons het op after-lunch uitstappies gegaan, brainstorming oor ons skryfwerk onder die boom gehou; en die etenstafelskinderstories het ons vele male laat skater.”

En om weer aan die gewone lewe gewoond te raak nadat jy jouself vir weke lank by die slypskool aan jou passie kon oorgee, is moeilik. Sandile sê: “My return to work after the writing school made me appreciate that this was an opportunity of a lifetime which I wouldn’t have traded for a million rand. So many editing tips learnt at the writing school I immediately applied in my work as a newsreader, too.”

Stef Cupido kon haar eie skryfprojek, Fallingpoems, met nuwe energie en ywer aanpak. “Om weer in my skryfdop te kruip, alleen, sonder raad of ’n grappie oor my skryfwerk, was eensaam, maar nuwe idees en projekte het vinnig gevloei. Fallingpoems het as ’n kreatiewe departement by HeriTrav aangesluit en ons is nou bedrywig in ons kantoor by die Breytenbach Sentrum in Wellington.”

Voornemende aansoekers wat in Engels skryf, kan al die inligting hier vind.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top