Aankoms en vertrek deur Pat Stamatélos: ’n resensie

  • 0

Titel: Aankoms en vertrek
Skrywer: Pat Stamatélos
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 978-1-4152-1020-8

Met romans soos Kroes, Die portier en Pastoor het Pat Stamatélos bewys dat sy ’n besonderse vertelvermoë het. Terselfdertyd skroom sy nie om oor kwessies soos kindermolestering of ’n persoonlikheidsversteuring te skryf nie.

In haar nuwe roman, Aankoms en vertrek, word ’n gewilde onderwerp onder plaaslike fiksieskrywers ondersoek: ’n Suid-Afrikaner keer ná ’n paar jaar in die buiteland terug. Dié keer ná ’n plaaslike moord.

Die roman kan egter nie as misdaad- of spanningsfiksie beskryf word nie. Die klem val eerder op die geheime wat mense met hulle saamdra. Verskeie verhoudings kom onder die loep, wel teen die agtergrond van ’n soeke na antwoorde rakende die moord.

Wanneer haar geliefde Adam, “Die eerste, die enigste, die mooiste. Die pés”, nie tot trou kan kom nie, verlaat Bailey Kellerman die land. In Londen ontmoet sy ’n vuurwarm Fransman met Gucci-skoene. Maar ook Alphonse Chevalier laat haar in die steek.

Wanneer Bailey se ouers vermoor word, plaas haar broer, Zak, druk op haar om terug te keer na Suid-Afrika. Maar sy kom eers maande later huis toe. Zak is briesend omdat sy hul ouers se begrafnis misgeloop het. Hy is egter onbewus van die gebeure wat in sy suster se lewe afspeel.

In Bailey se ouerhuis wag die liewe Temperance, haar tweede ma, haar in. “Tempe” sien steeds na die huis om, maar ook sy dra ’n las. Bailey, onbewus van die huishoudster se probleem, peper haar met vrae. As dit nie die polisie was nie, wie het die een moordenaar in haar ouers se kombuis doodgeskiet? Bailey wonder ook waarom haar pa nie op daardie tragiese nag die kluis oopgesluit het nie. En waar is die sleutel?

Zak deel uiteindelik sy geheim met sy suster. Tempe se wrokkigheid teenoor hom maak dan sin, maar Bailey besef dat sy haar broer nooit werklik geken het nie.

Om haar lewe verder te kompliseer, daag Adam weer op én kom Bailey se persoonlike probleem onder die vergrootglas.

Aankoms en vertrek het twee sterkpunte: die karakterisering en die skep en ontrafeling van ’n hele kraaines kinkels.

Hoewel die Bailey-karakter die enigste een is wat die leser aanvanklik louerig kan laat, ontlok sy tog later empatie, terwyl Adam, Zak, Tempe en selfs die buurvrou dit van die begin af doen. As mens dié karakters teen die lig sou kon hou, blink hulle in verskeie kleure. Elkeen rou op ’n ander manier en hulle boei die leser. Jy sal waarskynlik wonder of Adam, van kindsbeen af seksueel nuuskierig, ’n vrot appel sal word. En sal Zak saam met ander pasiënte wat geestesversteurd is van die gemeenskap afgesonder moet word? Kan Tempe haar nuwe uitdaging te bowe kom? Wat sal met “mevrou Langsaan” gebeur indien sy haar hele sak patats op die tafel sou uitdop?

Nes my aandag wou-wou dwaal, kry die verhaal woema. Die plot verdig. Wat ís in daardie kluis? is die vraag wat toenemend spanning skep.

Die milieuskildering is nie net ’n beskrywing van ruimte nie, dit word funksioneel aangewend en skep inderdaad atmosfeer. Soos hier: “En eensaam, eenkant, staan die ou moerbeiboom soos ’n geraamte. Gestroop van sy breë blare en sappige swart vruggies, maar vol kindergeheime en genietinge.”

Die dialoog vloei natuurlik en is kenmerkend van elke karakter. Enkele kere is die sêgoed minder gepas. Dis te betwyfel of ’n dertigjarige “Ag, bols, man” sal sê of van “oorhoops” sal praat, al hoor hy of sy dit waar en by wie ook al. Hier en daar word die gesels gevolg deur “dink sy” of “sug hy”. Onnodig, want dis duidelik wie wanneer praat.

Raak beskrywings gee insig in verhoudings, soos dié tussen Bailey en Tempe: “Twee verwelkomende arms word na haar (Bailey) uitgesteek en sy loop die vrou tegemoet. Hulle val behoorlik teen mekaar, die vind van mekaar vreugdevol en onverwags. Die ouer vrou se sagte, vol liggaam, haar reuk, die herinneringe, alles is so oorweldigend dat Bailey aan haar vasklou.”

Aankoms en vertrek sou egter by ’n strenger redakteurshand kon gebaat het. In hoofstuk 1 kry ’n te groot deel van die hoofkarakter se kinderjare by wyse van ’n terugflits aandag. Behalwe die inleidende paragrawe lees die hoofstuk soos ’n opsomming. Dis asof die skrywer dié besonderhede ná die eerste skryf van die manuskrip bygevoeg het om die res te regverdig.

Die roman bevat enkele onwaarskynlike gegewens: Sou ’n huishoudster vir sewe maande omsien na ’n huis waarvan die elektrisiteit afgeskakel is? Die wifi sou buitendien af moes gewees het, maar nêrens word na ’n selfoonverbinding of dongle verwys nie. Tog skakel Bailey haar laptop aan en stuur e-posse Londen toe.

Daar is nog onwaarskynlikhede: Sou inwoners van ’n spoghuis ’n buurvrou hê wat in verflenterde pantoffels rondslof en ook hoenders aanhou? Sou die huishoudster self die moordtoneel skoonmaak? Die polisie gee meestal die kontakbesonderhede van professionele skoonmakers aan slagoffers. En hoe kan Adam ook sê dat hy gedink het hy is gay, terwyl daar in die res van die roman nooit sprake van eens ’n kyk na ’n ander seun of man is nie? Adam is trouens van jongs af gaande oor meisies en wil graag later met een trou.

Stamatélos verwys na skryfkompetisies vir joernaliste en gee te kenne dat die wenner finansieel goed beloon word. Feit is: Daar is plaaslik net énkele sulke kompetisies en die wengeld kan inderwaarheid eerder ’n fooitjie genoem word!

Terwyl Aankoms en vertrek oor die algemeen toeganklik is, span Stamatélos ongelukkig soms meer formele woorde soos “inkantasie” en “bonhomie” in. Daarby bevat die teks by tye te veel byvoeglike naamwoorde; nie noodwendig verhelderend nie. Soos hier: “Sy onthou hulle geselsies oor ’n koppie stomende Twinings Tea in ’n Londense tearoom. Hulle het langs groot vensters gesit en buite het grys wolke saamgepak en ’n ligte reëntjie het uitgesak.” Daarby het iemand gereeld ’n glimlag “op die gesig”. Waar anders dan?

’n Cliché het ’n cliché geword omdat dit so gepas is, ja. Maar Aankoms en vertrek – weliswaar nie hogere letterkunde nie, maar nogtans – bevat ’n hele paar. Daar ís boeiender beskrywings van voorkoms as “die mooiste, sagste paar blou oë wat sy nog ooit gesien het” en “warm vol lippe”. Stamatélos weet trouens hoe, soos hier: “Sy lyk behoorlik soos iets uit ’n sci-fi-fliek, die enigste oorlewende ná ’n aardbewing, en Adam die leier van die search party. Sy met die kersblaker en hy met die Hennessy-bottel. Gebreide slaapsokkies aan haar voete [waar anders? - RR], egte leerstewels aan syne. Sy houding half arrogant, haar gesig blink en weerloos.”

Die skrywer lewer reeds deur middel van die moordgebeure kommentaar op die misdaadsituasie in die land. Is dit dus nodig dat Bailey dit aan Tempe hoef uit te spel?

Hoewel Aankoms en vertrek nie dieselfde oemf as Stamatélos se vorige romans het nie, is dit wel die lees werd. Buiten die geloofwaardigheid van die karakters, verras die wendings en ontmoet die verskillende verhaalelemente mekaar op ’n besonderse wyse.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top