Aangaande NUL en die Juliaanse Dag

  • 0

Hallo Jan Rap

Dit is algemene kennis dat die jaartelling gebaseer is op die stelsel wat gedurende die sesde eeu (525 nC ) deur die monnik St Dionysius Exiguus uitgewerk is op versoek van Pous John I met die oog op die opstel van Paastabelle. Sy jaartelling het by jaar 1 begin omdat, soos tereg deur Ran en Angus uitgewys is, die Weste nie ’n jaar nul in sy kalender het nie. Angus se verklaring daarvoor is interessant en baie sinvol.

’n Verdere interessantheid is die Juliaanse dag (JD), wat in Astronomie gebruik word om berekenings en dokumentering te vereenvoudig. In die verlede het wetenskaplikes in berekenings waar datums ’n faktor was, dikwels met ’n lastigheid te kampe gehad omdat gewone kalenderdatums wat altyd om middernag oorskakel, tot gevolg het dat ’n aaneenlopende waarnemingsessie van ’n paar uur soms onder twee datums gedokumenteer moes word.

Die kalender wat deur Joseph Scaliger in 1583 voorgestel is om die probleem op te los, is slegs ingedeel in dae en breuke van dae ipv dae, weke maande en jare. Elke dag eindig/begin om 12:00 UT ipv 24:00 UT . ’n Dag op dié kalender staan bekend as Juliaanse Dag (JD). Omdat die Westerse kalender nie vir ’n jaar nul voorsiening maak nie en die kalender vir die JD daarmee moes rekening hou, is die jaar 1 vC ’n skrikkeljaar — dus 366 dae.

Nog ’n interessantheid is dat alhoewel dié Juliaanse-Dag kalender as gevolg van die Westerse Kalender wat in gebruik was, nie ’n jaar nul het nie maar wel ’n ‘dag 0’ en ook ’n ‘uur 0’ (12:00 UT). Volgens die verwerker daar is die eerste dag van die Juliaanse- Dag kalender (1 Jan 4713 v.C. 12:00 UT)= JD 0.0000 en die daaropvolgende dag nl 2 Januarie = JD 1.0000. Sedert JD 0.0000 het daar al 2 455 952 dae verloop.

Angus is vir seker in die kol met sy stelling: “Vir die rasionele Westerling was die getal nul 'n uitkoms.”

Terloops Jan, die volume van ’n sfeer/bal is 4/3πr3 en die oppervlakte = 4πr2. Ek weet dis maar net ’n tikfout en raak nie die wese van jou argument nie!

Groetnis.

Panda

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top