In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

’n Sekere mnr S het in 1981 van ’n mnr R ’n spoghuis in die distrik Potchefstroom gekoop. By die koop was sekere roerende goed, soos al die gordyne, die hoofslaapkamerstel, en die sit- en eetkamerstelle ingesluit. Die koopkontrak het bepaal dat dit die volle ooreenkoms tussen die partye was en dat geen wysiging daarvan geldig sou wees nie, tensy dit skriftelik gedoen en deur albei partye onderteken is.
Voordat mnr S die koopkontrak onderteken het, het hy die huis goed deurgekyk. In die studeerkamer was daar ’n houtkas met twee houtrame weerskante waarin twee losstaande staalkabinette gepas het. Die kas en houtrame was aan die muur vasgeheg en het aangepas by mooi houtpanele teen die muur.
In ’n ander vertrek was daar ’n ingeboude kroegtoonbank wat deel van die gebou gevorm het. Daar was ses kroegstoele wat los voor die toonbank gestaan het. Dit het gelyk of hulle van dieselfde hout as die kroegtoonbank gemaak was, en die patroon van die stoele en die koperbeslag daarop was dieselfde as dié van die toonbank.
Die koopkontrak het nie spesifiek bepaal dat die ses kroegstoele in die onthaalvertrek en die twee staalkabinette in die studeerkamer by die koop ingesluit was nie.
Ná ondertekening van die koopkontrak het mnr R die kabinette en die kroegstoele uit die huis verwyder en saam met ander goed wat aan hom behoort het, in ’n buitekamer gaan toesluit. Nadat mnr S ingetrek het, het hy ontdek dat die kabinette en stoele nie in die huis is nie. Hy het toe eenvoudig die buitekamer se slot gaan oopbreek en die kabinette in hulle rame in die studeerkamer gaan terugplaas. Die stoele is weer voor die kroegtoonbank neergesit, seker sodat mnr S en sy vriende ’n paar knertsies kon maak om die nuwe huis te vier.
Mnr R het daarna in die plaaslike landdroshof ’n aksie teen mnr S ingestel vir die teruglewering van die kabinette en stoele. In sy verweerskrif het mnr S onder meer aangevoer dat die goed deel gevorm het van die onroerende eiendom – dws die huis - wat hy van mnr R gekoop het.
Die landdros het in mnr R se guns beslis. Hy het bevind dat die kabinette en die stoele nie aanhegtings van die onroerende eiendom was nie, en dat mnr S dit aan mnr R moes teruglewer.
Hiermee was mnr S nie tevrede nie, en hy het geappelleer na die hooggeregshof, wat op 22 Februarie 1983 – ook al 30 jaar gelede - uitspraak gelewer het.1
Die kernvraag was watter beginsels toegepas moes word om te bepaal of die roerende goed - die kabinette en stoele - deel van die onroerende eiendom gevorm het. Die hof stel twee beginsels: die roerende goed sal as deel van die verkoopte eiendom beskou word as dit bestem is om die huis van permanente diens te wees en noodsaaklik is vir die doeltreffende gebruik of benutting van die huis. Die ander beginsel is dat as byvoorbeeld meubels as ’n eenheid ontwerp is, en die hoofdeel daarvan vas ingebou is en deel van die huis vorm, dan is die los dele van daardie eenheid ook onroerend.
Op grond van dié twee beginsels beslis die hof dan dat die kroegstoele deel van die ingeboude kroeg was en dat mnr S dit kon hou. Die twee staalkabinette moes hy egter aan mnr R teruglewer.
Ek dink nie één van hulle was met die uitspraak tevrede nie, maar dis die reg – wie’s ons om te stry?
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

