Aan die anderkant van die Japan: ’n Ope brief aan Marthinus Beukes

  • 4

Leti Kleyn skryf in ’n ope brief aan haar voormalige akademiese mentor oor sy selfdood en die lesse wat jy leer oor die brutale verganklikheid in die lewe en die dood.

Liewe M

Een aand sê Jan met sy kurkdroog sin vir humor lomerig vir my nag: "Sien jou aan die anderkant van dié Japan." ’n Sinspeel op ’n gesprek wat ons gehad het oor waarom “die” Soedan maar nie “die” Japan nie. Rym is geen regverdiging nie. Sedertdien het dit ons huishoudelike woord vir die dood geword. Jy is nou aan-die-anderkant-van-die-Japan. Saam met jou Corsa-bakkie wat afgeskryf is. My geliefde argiteksvriend. My boekontwerper. My kollega en vriend waaraan ek verknog en in wie ek geanker was. My kolletjieskat. Pienk-Elmarie van die Tankwa met haar pienk rugsak met die pienk panties daarin. My hardkoppige oupatjie wat so seniel was dat hy vergeet het om hardkoppig te wees. Saam met jóú geliefde akademiese mentor – in ’n huisrooftog afgemaai. En ’n aantal literêre figure wie se dood jou diep sou raak.

***

Jy sou jou kon inleef en uitleef in die debat oor Karel Schoeman se selfdood. Sy kliniese benadering. Bepland. Berekend. Beheersd. Gedokumenteer. In teenstelling met die waansin waarin jy roekeloos afgetuimel het.  Op 14 September – ses jaar gelede – is jy tydens ’n nag van hel op jou eentjie uit hierdie lewe uit. Ons het jou egter eers vier dae later aan die geyser gekry waar jy jouself op, op, al hoër op gehys het.  Jou tydsberekening was swak. Die situasie administratief banaal. Die toneel ’n makabere gemors. En jy nou lank reeds in die vergete in.

***

Op daardie dag het ek op die naat van my rug op die bed gelê nadat ek my knersplaat by die tandarts gaan haal het. Ek was aan die wonder hoe ek met die ding in my mond geslaap sal kry. My tande opmekaar gekap-kap toe my geduldige broer bel. Ek wat grappenderwys mét die plaat oor my tande probeer praat.

“Dude, hulle dink Dinges is dood. Dat hy selfmoord gepleeg het.”

Dit was net ná die dood van ’n klomp Suid-Afrikaners in Nigerië. “TB Joshua?” het ek gevra.

“Nee,” skree my geduldige broer ongeduldig, “Dingeses … Whatshoemecallit!” Nes my ouma wat nie name kon herroep nie. Sy het haar tuinier, Wellington, se naam vergeet en dan by Standerton dorpe begin opnoem tot sy by Wellington sou uitkom.

“Jou mentor.” Sy huurder.

***

Ek het aangeneem daar is drama, dat jy nie die deur wil oopmaak nie. Dat die woedende interne dalk oor die perke van aanvaarbaarheid gebars het. Ek was so seker dat jy saggies deur die deur met my sou praat. Dat jy sou oopmaak as ek met my plathand teen jou voordeur slaan. Vir niemand anders saamgedrom voor jou deur nie, maar vir my waar jy altyd veilige hawe kom kry. So seker was ek, dat ek sommer in my kouse kwartpad in die paadjie van ons kompleks afgestap het. Tot my ouma vanuit die-anderkant-van-die-Japan gewaarsku het dat ek ’n paar skoene moet gaan aantrek. Ek het skielik begin bewe en met elke tree meer en meer besef dat dit dalk net waar kan wees. Nee. Toe ek halfpad in die paadjie af is, was ek al volspoed op pad. Nee. My kop malend aan moontlikhede. Nee. Op teen die trappe, twee-twee. En toe sien ek die vlieë saamgekoek in die vensterbank lê.

***

’n Enorme afvaardiging van polisie het opgedaag maar niemand kon die patetiese ou deur oopgeskop kry nie. Ek is deur my onverbiddelike ongeduld aangedryf om ’n stoel by die bure te leen en die frosted glass van die reuse badkamervenster stukkend te slaan. Maar, my geduldige broer het met ’n crowbar opdaag en geduldig die deur oopgebreek. Toe die forensiese voertuig kom, was daar geen bodybags beskikbaar nie, en die extractor fan het nie gewerk nie. Jy is in jou spierwitte beddegoed toegedraai en al druppend daar uit. In die buig van die trap het jy vasgesit en ’n klein poeletjie van jou het agtergebly. Jy is rukkerig verder na waar drie ander dooies reeds gelê het. Die bak van die voertuig het heel middag gapend oopgestaan  – om ventilasie aan te help – terwyl dit tydsaam op jou wag. Iemand het vroeër die tante met die blou kring om haar nek met ’n kombers toegegooi waar haar blommetjiesrok onbetaamlik hoog teen haar stukkende sykous opgetrek het. Uiteindelik is jy soos ’n wit kokon bo-op die ander dooies neergelê.

***

Ná ure se chaos het ek in doodse stilte gaan kyk wat fout gegaan het. Gesien jou mooi matte is vuil getrap. Geluister hoe die laatnag-trein leeg verby donner in die donker van die donkerste nag in. Gewonder wat jou besiel het om so ’n gewelddadige daad aan jouself en aan ander te pleeg. Die volgende môre was ek lam tot in my murg in en vir maande daarna. Hou kop. Ek moes leer: op, op, op. Hou jou kop so hoog soos die geyser op. Die forensiese span het jou stukkie-vir-stukkie uit die teëls en die linoleum kom haal – al was jy vasberade om aan te bly. Drie weke ná jou dood en tien dae nadat jy reeds veras is, het die ondersoekbeampte kortaf gebel om te blaf dat ons jou nou maar by die lykshuis kan laat haal. Ek het hom vriendelik bedank en aanvaar dat hierdie situasie van die begin af vreemder as ’n Winterbach-roman wóú ontvou.

***

In die lig van jou dramatiese vertrek is daar nie veel meer bewyse van jou lewe oor nie. Daar is nuwe gordyne aan die vensters wat maande lank soos groot leë oë na die wêreld gestaar het. Die familiefoto’s wat op die vloer agtergebly het ná die trek, het ek een vir een uit die gemors en die papiere versamel en toe na jou (familieloos) naaste mense aangestuur. Mense se Dood Verbode-bordjies is al verbleik, maar staan steeds kiertsregop op – ons praat nie oor jou nie. Mens praat nie oor selfdood nie – veral nie oor die hel in die detail nie. Naby jou woonstel het ek later ’n wilde kat gevang wat haar ná maande nou vergun om in die nag in die buig van my bene teen die wêreld te kom skans. Om seker te maak dat ek verstaan wat jy my in die lewe én in die dood wou leer, het ek lank oor selfdood gelees. Twee ervarings wat die interpretasie van ’n postmodernistiese gedig na soduku vir beginners laat lyk. Die kat se wild sal nooit uit haar uit nie, en die raaiselagtigheid van selfdood kán nie wyk nie.

***

Elke jaar, op my verjaardag en jou doodse dag, stap ek oor die altyd winderige plein teen die trappies van die tempel op om vir jou ’n lampie aan te steek. Om jou te onthou. Om my te herinner all is fair in life and death, in love and war. Om te erken jou dood het my lewe vir altyd – ook ten goede – verander. En om jóú te herinner dat jy veilig moet reis daar waar jy nou is. Aan-die-anderkant-van-die-Japan.

Tot volgende jaar.

Leti

  • Leti Kleyn is ’n navorser. Sy woon en werk in Pretoria.
  • 4

Kommentaar

  • Betsie van der Westhuizen

    Leti Kleyn, jou woorde bied troos vir ander wat ook vir Marthinus Beukes mis. Die vriendelike, briljante man, die akademikus in wie se kongresreferaat ek die eerste keer "the text is in the margins" regtig raak gehoor het. 'n Ware heer, 'n gentleman en 'n gentle man.

  • Leti jy het dit so goed verwoord ,veral as mens self deur so ervaring is, met iemand na aan jou. Mense oordeel te maklik
    Baie dankie en sterkte aan jou.

  • Chrisna van Rensburg

    Dankie Leti vir hierdie emosiebelaaide skryfsel oor jou vriend en mentor. Jy skryf eintlik vir ons almal wat iemand so verloor het... en dis universeel.

  • Tania Jacobsz

    Mis ek hom nou. Hy en prof Johann Johl het diep spore in my lewe gelaat op RAU. Ek glo hy rus nou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top