Aan die anderkant van die grens

  • 0

As ouer vra mens: Hoe sal ek die wêreld aan my kinders verduidelik? Hoe sal ek my kinders leer wat dit beteken om mens te wees? ’n Vraag wat opvallend is in Praat verby grense is: Hoe sal ek my ouers opvoed tot ’n helder verstaan van wat dit beteken om ’n beliggaamde, spirituele wese te wees? Hoe sal ek my pa onderrig in die ontdekking van sy eie spiritualiteit? Laurie Gaum skrik nie vir hierdie uitdaging nie en soos dit ’n goeie teoloog betaam, voer hy hierdie gesprek vanuit sy menswees. Dit is egter nie al waaroor die gesprek handel nie.

Dr Frits Gaum meen dat ’n mens die kerk net van binne af kan verander, maar Laurie verwys op sy beurt na Beyers Naudé, wat die kerk van buite af verander het. Albei benaderings het waarde, maar as die kerk ’n lyn getrek het wat jou uitsluit, wat kan jy maak?

In hierdie boek verteenwoordig Laurie nie net gay, lesbiese, swart, bruin en jong mense nie, maar hy verteenwoordig die mense wat hulself aan die anderkant van die grens bevind. Hierdie grens is getrek deur diegene in beheer van die dogma van die NG Kerk. Dit het tot gevolg dat baie mense hulself nou aan die anderkant van die lyn wat die kerk getrek het, bevind. Diegene aan die anderkant van die lyn moet nou tevrede wees om na hulself te verwys as ateïsties, agnosties of spiritueel, maar nie “volwaardige” (NGK-) Christene nie. Dus, Laurie verteenwoordig ook die mense wat hul beliggaamde spiritualiteit koester en vryspreek van dogmatiese inkamping. Hy is dus nie net ’n aktivis vir gay-regte nie, maar ’n aktivis vir die spiritualiteitsaspek van menswees.

Dit blyk duidelik uit die boek dat Laurie Gaum en Frits Gaum hulself in verskillende paradigmas bevind, nie net teologies nie, maar ook sosiaal. Die wêrelde waarin hulle leef en dink en teologies oor besin, is ver verwyderd van mekaar op sekere punte, maar tog deel hulle ’n land en al sy uitdagings. Die wêreld waarin ons ons tans bevind, is net soveel anders as dié van ons ouers (en hul ouers), met die gevolg dat die wysheid van die vorige generasies verlore gaan in die vertaling daarvan. Hier neem Laurie die verantwoordelikheid aan en wend ’n egte poging aan om die paradigma van ons ouers te verstaan. Dit is egter duidelik aan die einde van die boek dat Laurie en Frits nie die gesprek verlaat met ’n gedeelde paradigma nie, maar met ’n belofte om aan te hou luister na die ander se verwoording van sy menswees. Hierdie saak is egter nie so eenvoudig nie.

Laurie verwoord sy teologiese metodiek as “van onder af”, wat beteken Laurie is emosioneel, kontekstueel en persoonlik betrokke in sy teologiese besinning. Frits, aan die anderkant, verwoord sy teologiese metodiek as “van Bo af”, wat impliseer dat hy ’n objektiewe, modernistiese raamwerk volg wat sekere waarhede aanvaar as “Godgegewe”. Beide belig belangrike punte, maar ongelukkig word daar nie in diepte oor hierdie sake geskryf in dié boek nie. Dit is ’n boek gefokus op die emosionele verhouding tussen ’n ouer en ’n kind met verwysing na die teologiese, eksistensiële en politieke aspekte daarvan. Daarom moet hierdie boek nie gelees word as ’n teologiese gesprek nie, maar eerder as die beligting van twee persone wat hulle in ’n kontroversiële situasie bevind.

Praat verby grense sal definitief ’n baie nodige gesprek in die NG Kerk weer laat vlam vat. Hoewel om verskillende redes, is beide Frits en Laurie besorgd oor die NG Kerk en die rol wat dit vervul in die lewens van Suid-Afrikaners. Hulle bespreek ons herkoms, ons erfsonde, ons ouers se wêreld, maar meer as dit verwoord die boek hoop vir ’n toekoms waar die menswees van alle mense erken en gerespekteer word – nie omdat ons moet nie, maar omdat ons nie anders wil nie.

Alhoewel die boek se titel verwys na gesprek, maak Laurie dit duidelik dat gesprek nie genoeg is nie. Daar moet meer gedoen word – ’n afbreek van grense of (ten minste) die bewerkstelliging van vloeibare, buigbare of geperforeerde grense. Die boek is dus nie die finale woord oor die saak nie, maar eerder woorde van herinnering en ontwaking.
Hierdie eerlike gesprek tussen predikante, teoloë, ouer en kind, vriende, kennisse en vreemdelinge sal hopelik iets losmaak in die denke van die leser. Hopelik sal dit duidelik raak dat die spiritualiteit van die mens divers, dinamies en lewend is – altyd groeiend.

Nou, om terug te kom by die oorspronklike vraag: Hoe kom ons tot ’n helder verstaan van wat dit beteken om ’n beliggaamde, spirituele wese te wees? Antwoord: Eerlike, openhartige, weerlose gesprek tussen alle mense verby alle grense.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top