AAJ van Niekerk (1931–1994)

  • 0

 

Sêgoed van AAJ van Niekerk

"Ek beskou myself nie as ’n skrywer nie; eerder as ’n storieverteller met ’n pen in die hand." (Inligtingstuk by NALN)

"My stories handel oor dinge wat ekself beleef het en wat ek uit my kinderdae met my saamdra. Ek gryp uit die lewe uit." (Die Transvaler, 20 Oktober 1979)

"Man, ek's ’n Namakwalander. Ek het die plattelandse lewe geken. Die taal van die Noordweste gepraat. Die stadslewe was vir my vreemd." (Die Transvaler, 20 Oktober 1979)

As mense hom vra wie hy nou eintlik is: "Ek is van Bitterput se mense en ek gee julle al my goeie wense. Bitterbek is my naam, want ek is van Má-ná-kwá-land se faam." (Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989)

"Ek skryf omdat vir my lekker is en omdat ek lus het om te skryf. Dat my boeke graag deur bepaalde lesers gelees word, is vir my ’n bonus." (Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989)

Oor kritiek: "Tot dusver was resensente my nogal goedgesind, alhoewel sommige resensente my uitermate verras het oor die dinge wat hulle in my werk 'ingelees' het wat ek as skrywer beslis nooit daar 'ingeskryf' het nie." (Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989)

"Dit is nie in Afrikaans juis moontlik om ’n bestaan uit skryf te maak nie, omdat die mark so klein is, tensy ’n mens natuurlik ’n Ena Murray of een van die ander gewilde skrywers van ontspanningsleesstof is en dit is beslis nie my forté nie. Ek sou in elk geval nie sulke boeke kon skryf, al sou ek ook wou! Bowendien wil ek soos MER sê dat ek boonop te dom is om ’n roman te skryf, want ek glo vas ek sal my karakters later deurmekaar laat raak. Ek het eerder ’n aanvoeling en voorliefde vir die korter vertelling." (Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989)

"’n Mens moet nie te veel toekomsverwagtinge hê nie, want die lewe maak dikwels onverwagte en onbeplande draaie met jou. Dus bly ek maar skryf en geniet dit, maar kwel my nie te veel oor wat ek môre en oormôre gaan doen nie." (Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989)

Oor blomtyd in Namakwaland: "Daar sal ek deur die lappe goudgeel gansogies stap tot my velskoenpunte geel is van die stuifmeel. Ek sal my op die loute van die middag verlustig in die helder geel botterblomme teen die karro's. Ek sal weer die klein pers viooltjies pluk en daaraan ruik tot ek dronkerig voel van die geur." (Die Burger, 6 Maart 2004)

Gebore en getoë

Abraham (Abie) AJ van Niekerk is op 8 Augustus 1931 op die plaas Koebees in die Voor-Boesmanland gebore. Hy was een van drie seuns van JD van Niekerk en sy vrou Catharina Helena. Sy pa is in 1962 oorlede en sy ma in Oktober 1994, enkele maande na Abie self oorlede is.

Hy het sy skoolopleiding begin aan die plaasskool op sy vader-hulle se buurplaas, Taaibosfontein. Dit was ses kilometer van hulle plaas af en die kinders moes elke dag skool toe stap.

Abie het aan Zirkëa Ellis (Die Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989) vertel dat vandat hy kon onthou, hy ’n skrywer wou word. "Ek kon reeds lees en skryf voor ek skool toe is. My leeslus as kind het geen perke geken nie en toe ek in standerd vyf kom, was daar nie ’n enkele boek in die klasbiblioteek oor wat ek nog nie gelees het nie.

"Hier by standerd sewe of agt rond sien ek eendag toevallig in ’n Engelse koerant ’n inskrywingsvorm vir ’n liriekwedstryd waarin die voortreflikhede van Dandy vloerpolitoer in Engels besing moes word. Net daar besluit ek dis nou my kans om my naam as skrywer te maak en tot my groot verbasing kry ek na ’n maand ’n tjek vir een ghienie in die pos. Vir daardie tyd was dit sommer ’n groot klomp geld."

Nadat hy vir twee jaar by die plaasskooltjie was, het dit gesluit en is hy na die Hoërskool Namakwaland op Springbok, waar hy in ’n seunskoshuis gebly het totdat hy in 1949 gematrikuleer het.

Verdere studie en werk

Ná skool is Abie na die Universiteit Stellenbosch, waar hy in die manskoshuis Dagbreek tuisgegaan het. In 1952 het hy sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en geskiedenis as hoofvakke behaal.

In 1953 het hy begin studeer aan die US vir sy MA-graad terwyl hy ook in die uitgewersafdeling van Nasionale Pers Beperk in Parow begin werk het. Die MA-klasse was in die aand sodat die studente bedags in die argief in Kaapstad navorsing kon doen vir hul skripsies. Aan die einde van 1953 het hy sy MA-graad geslaag, maar sy skripsie was nog nie voltooi nie.

Abie het besluit om onderwys te gaan gee, aangesien hy só tyd sou kry om sy navorsing vir sy skripsie te doen. Hy het ’n tydelike pos aan ’n hoërskool aanvaar, maar moes agterkom dat die vyf uur per dag skoolhou eintlik tien uur per dag is. Hy is vir nog ’n jaar na die skool op Maclear voordat hy besluit het om na die US terug te keer om beide sy MA en die Sekondêre Onderwysdiploma klaar te maak.

Abie se onderwysloopbaan het in 1957 in alle erns begin toe hy aangestel is as onderwyser in geskiedenis aan die Boys' High School op Oudtshoorn. Dit was hier op Oudtshoorn dat een van sy leerlinge ’n Xhosa-verhaaltjie vir Afrikaans-mondeling vertel het. Die storietjie het Abie baie beïndruk en hy het besluit om dit as ’n kinderboekie vir publikasie voor te lê onder die titel Slim Herklaas Haas. Dit het heelwat drukke belewe, het hy aan Zirkëa Ellis vertel, en is later as Slim Hansie Haas heruitgegee en ook in Engels en agt Afrika-tale. Sy eerste boek was egter Tasál van die grasvlakte, wat in 1958 verskyn het.

Abie is aan die einde van 1957 met Marita van Tonder van Barrydale getroud. Hy het haar tydens se tweede termyn op Stellenbosch ontmoet. Twee seuns en ’n dogter is uit die huwelik gebore. Toe Abie verloof wou raak, het hy nie genoeg geld gehad vir ’n verloofring nie. "Nood leer bid," het hy aan Ellis vertel. "Ek skryf toe ’n kinderboek genaamd Snippie wat ek in Kaapstad aan Aat Kaptein voorgelê het vir moontlike publikasie. Tot my verstomming bied Aat my £35 vir die manuskrippie aan, wat meer as genoeg was vir ’n verloofring."

Vier jaar later is hy aangestel as senior geskiedenisonderwyser aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, waar hy ook koshuisvader van Huis AJ van der Merwe, die seunskoshuis, was. Hy het aan NALN vertel: "Die eerste hoofskappie kom op 32-jarige leeftyd (1962) toe ek aangestel word as hoof van die middelbare skool op Kanoneiland, daardie mooi en vrugbare groot eiland in die Oranjerivier ten weste van Upington. Na twee jaar hier kry ek ’n beurs van die British Council vir studie in Brittanje en na ’n jaar van harde werk kom ek terug met ’n Diploma in Secondary Education van die Universiteit van Leeds en ’n Certificate of Proficiency in English van die Universiteit van Cambridge."

Net na sy terugkoms op Kanoneiland is hy benoem as skoolhoof op Noupoort en Calvinia. Abie se keuse het op Calvinia geval en daar het hulle drie baie aangename jare deurgebring. Hy is daarna aangestel as skoolhoof in Durbanville naby Kaapstad. In 1974 het hy die onderwys verlaat en is terug na sy eerste liefde, naamlik die boekewêreld. Hy is aangestel as opvoedkundige adviseur by die destydse Nasionale Boekhandel se groep filiaalmaatskappye. Hy het later inspekteur van onderwys geword.

Terwyl hy op Stellenbosch was, het hy die universiteit se onder 19A-rugbyspan gehaal, maar dit was in gewigoptel dat hy die meeste sukses behaal het. Deur sy vriendskap met die digter Ernst van Heerden en dié se aansporing het Abie daarin geslaag om ’n Suid-Afrikaanse rekord te slaan.

Dit was egter nie net met die skryf van kinderboeke dat Abie van der Merwe bekend geraak het nie, maar veral met sy verhaal- en sketsbundels. Amanda Botha het in Die Transvaler van 20 Oktober 1979 geskryf dat Abie ’n "eiesoortige" storieverteller is. "Sy manier van storievertel is uniek. Die stories is soos ’n outydse leivoor – hul loop hul eie draaie, ook in afdraaipaadjies met kinkels en heel verrassende terugkere na die hoofstroom. In dié vloed is daar volop bewyse van ’n nederigheid, ’n opregtheid van hart, ’n liefde vir die aardse en ’n onvergelyklike humorsin. Hy prikkel die lagspiere, maar raak ook aan die hart."

Terwyl hy by Jan van Riebeeck onderwys gegee het, het hy, wanneer hy moes toesig hou in eksamentyd, verhaaltjies en stories op papiertjies geskryf. Hy het aan Amanda Botha vertel: "Dit was in opsteltyd. Daar kon tog nie van mekaar afgeskryf word nie. Daar was die lang stilte, oorvloed papier en indrukke van my kinderdae in Boesmanland het voor my afgespeel. Die stories het net gevloei. Dit het, soos ’n kollega wat daarvan gelees het, sê, geruik soos dit waaroor ek geskryf het, oor bokmelk en sulke dinge wat ek as plaasseun leer ken het."

Zirkëa Ellis skryf in Die Kaapse Bibliotekaris (Februarie 1989) dat Abie sy vertellings op baie plekke en by baie mense kry. "Hy gebruik ook bestaande karakters en gebeure in sy werk, maar sorg darem altyd dat die mense, plekke en gebeure nie maklik herkenbaar is nie. Hy het ook geen vaste skryfpatroon of plek waar hy skryf nie. Soos die idees by hom posvat, skryf hy hulle daar en dan op die eerste die beste ding neer – dikwels agter op sy sigaretdosie – en pen dan later al die los gedagtes en idees in ’n klein swart boekie neer. Dikwels sit so ’n idee dan maande of selfs jare daar voordat dit op ’n dag as ’n storie of ’n vertelling in sy gedagtes vorm aanneem. Dikwels kry hy net die slot van die vertelling of verhaal in sy kop en begin dan van voor af skryf tot hy weer by die slot uitkom."

Abie het as skrywer nie enige spesifieke groep lesers in gedagte gehad vir wie hy geskryf het nie. Dit word deur die storie self bepaal, maar as hy self sou moes gesê het, is dit meestal ouer mense wat sy verhale lees. Dit het hy toegeskryf aan die feit dat hy die gebeure in sy verhale uit sy kinderdae geneem het en dat die ouer mense hulle daarmee kan vereenselwig.

Van literêre etikettering het Abie nooit gehou nie, maar as hy sy eie werk sou moes beskryf, sou hy moes sê dat dit as streeksliteratuur beskryf kon word, aangesien die vertellings meestal ’n bepaalde streek of kontrei as agtergrond het. Meestal is dit sy grootwordkontrei, naamlik Namakwaland. Sy karakters het hy beskryf as “dwars-in-die-weg”-mense en hulle is sterk en kleurvolle karakters. (Kaapse Bibliotekaris, Februarie 1989.)

Hy was later verantwoordelik vir die reeks "Sketse uit Namakwaland" wat in Vrouerubriek op die Afrikaanse diens van die SAUK uitgesaai is (datum onbekend). Hy het aan die SAUK-tydskrif vertel dat hy as belangstellende in die geskiedenis begin besef het dat van die ou gebruike, tuisnywerhede, kundighede en ook bygelowe besig is om in die slag te bly soos die ouer geslag afsterf. "Daarom het ek nooit sonder my notaboek gegaan as ek jaarliks daar gaan vakansie hou het nie. My eie moeder het gelukkig ’n verbysterende hoeveelheid kennis omtrent huisnywerhede, veldkos, boereresepte, velwerk, kunsnaaldwerk en so meer gehad. Uit hierdie ryke bron kon ek diep put. Daarby het ek drie togte na die onherbergsame en afgeleë Richtersveld onderneem en daar ook weer baie van die Namas geleer.

"Nou word al hierdie stukke in die reeks getitel 'Sketse uit die Namakwaland' opgeneem en ek glo dat ek op dié wyse ’n beskeie diensie aan die Afrikaanse volkskunde kan lewer – deur dit op te teken wat gister nog was; en dit wat vandag nog is, maar môre nie meer sal wees nie."

In 1992 is Abie van Niekerk deur sy alma mater, die Hoërskool Namakwaland op Springbok, vereer. Hy het die Stigtingsmedalje van Carel Oberholzer, voorsitter van die skool se Oudleerlingbond, ontvang. Op hierdie wyse huldig die skool van sy oudleerlinge vir voortreflike diens of buitengewone prestasie.

Min van Abie van Niekerk se boeke het negatiewe resensies ontvang. Oor sy kinderboeke het resensente onder andere geskryf:

  • Bennie gaan jag: "AAJ van Niekerk se kinderverhale het ’n besondere innigheid. Sy pasverskene Bennie gaan jag is so onmiskenbaar ’n produk van Afrika as wat sy pragtige Die wit perd van Calvinia was. Die skrywer is besonder sensitief met die hantering van ’n ervaringswêreld waarin werklikheid en fantasie deurmekaarvloei." (Oggendblad, 29 Julie 1976)
  • Die wit perd van Calvinia: "Die storie van Calvinia se wit perd is een van aksie en beweging. Dit word ook weerspieël in Guenther T Schultz se tekeninge. Kinders in die laerskool – én grootmense – gaan sommer baie van hierdie verhaal hou. (...) Van Niekerk dra die boek op aan die kinders van Calvinia, maar dit is ’n lekker verhaaltjie met ’n eg Afrikaanse grondslag vir alle Afrikaanse kinders, wat wys dat daar nie altyd op vertaalde werke staatgemaak hoef te word as dit storietyd raak nie." (Wium van Zyl, Beeld, 15 September 1975)

Net so was die bevindings van sy volwasse boeke ook meestal aan die positiewe kant. Die wêreld wat hy uitgebeeld het, was die eensame een van die woestyn en hy het hierdie meestal onbekende wêreld – dié een wat die soutryer en die trekboer vroeër jare geken het – met liefde, begrip en nostalgie geskets. (Inligtingstuk van die uitgewer.)

  • Bittergousblom (1974): "In Bittergousblom stel AAJ van Niekerk die leser met insig en begrip van ’n boorling bekend aan sommige van die mense van gister wat die kontrei van die Noordweste bevolk het en aan hulle gewoontes, lewenswyse en eienaardighede. Mense wat Van Niekerk se vroeë werke geniet het, gaan ook hierdie boek beslis geniet en vir ons kontreikuns, waarin die wese van die Afrikaner (verbygegane?) dikwels neerslag vind, is die boek ’n aanwins." (Hannie Schutte, Die Transvaler, 19 Augustus 1974)
  • Boetie van die Boesmanland (1993): "AAJ van Niekerk se bundeltjie oor sy kleinkinderlewe kruip onder jou vel in. Jy word sommer weer saam met hom kind, al was jou jeug dalk nie so belewenisvol, so kleurryk, so geskakeerd soos dié van hierdie Boetie van die Boesmanland nie. Wyslik skryf Van Niekerk in die derde persoon, en al weet ’n mens Boetie is maar hy, steur dit jou nie, want dis mos nie ’n heeltydse ge-ek-ek nie. As sommige verhale nie asemrowend is nie, vergoed taalvaardigheid meer as genoeg daarvoor. Want Van Niekerk herskep die ou landelike bestaan, vang dit vas met die woord: nie as terugskouende grootmens nie, maar sowaar deur die oë van ’n baie gevoelige Boetie." (Albert Crafford, Insig, Maart 1994)
  • Herneuter (1975): "Van Niekerk weet beslis hoe. Hy ken sy wêreld en dié se gebruike. Hy beskryf dit met groot liefde en piëteit. En beslis nie sentimenteel nie. Daarvoor is hy te veel harde Noordwester wat weet dat jy presies terugkry wat jy gee. Sy Afrikaans lees lekker. Hierdie boek is ’n waardevolle toevoeging tot ons streeksliteratuur. En waar ons almal, selfs die Noordweste, so duidelik in die teken van verandering staan, is dit goed dat die ou gewoontes en gebruike op skrif gestel word. Die woord word dan, soos soveel male al tevore, die pekel wat vir die bewaring moet sorg." (Henriette Grové, Hoofstad, 16 Januarie 1976)
  • Kelkiewyn en koggelaar (1969): "This series of sketches, an act of dedication if ever there was one, is executed unassumingly and gives an intimate, most readable picture of a part of our country which is still largely unsophisticated and unblemished by civilization." (Jan Kromhout, Cape Times, 14 Mei 1970)
  • Die klipsweet sit aan my voetsool vas (1981): "Hierdie bundel bevat verhale van wisselende gehalte. Die titel herinner aan een van Van Wyk Louw se 'Klipwerk'-verse: die middag voel na warm as/ die voetpad en die klipsweet/ sit aan jou voetsool vas (Nuwe verse, p 43). Soos Van Wyk Louw se 'Klipwerk'-gedigte die oerwêreld vaslê, beskryf Van Niekerk die áárdse mense in ’n eenvoudige, dog universele, bestel. (...) Die meeste van die verhale in hierdie bundel word vanuit ’n humoristiese perspektief aangebied en weergegee asof die verteller die gebeurlikhede vertel. Tog bly die meeste verhale in die alledaagse vassteek, sonder die noodsaaklike universaliteit wat ’n mens ook by streeksliteratuur verwag. (...) Die slotverhaal, 'Die swart wandelstok' is ’n ware verhaal oor die Joodse wil tot oorlewing tydens die Russiese revolusie. Die storie lewer bewys van Van Niekerk se vakmanskap én raconteurvermoë ... mits hy ’n storie het om te vertel! Die klipsweet sit aan my voetsool vas bevat deugde en ondeugde. In die geheel gesien ís die bundel ’n waardevolle aanvulling tot die Afrikaanse streeksverhaal. Dis net jammer dat die leser soms nie die gevoel kan ontkom dat die skrywer (wat ’n verteller by uitnemendheid is) se stories aan die opdroog is nie." (Joan Hambidge, Hoofstad, 19 Oktober 1981)
  • Die soutryers en ander vertellings (1964): "Van Niekerk gee ’n beeld van die onverbiddelikheid van droogte in hierdie wêreld, en herskep die stilte van ’n Sondagoggend op ’n afgeleë plaas soos baie lesers seker uit hul kinderdae sal onthou. Hy vertel van bokwerk en skaapwerk soos hy dit ervaar het; van die blomtyd in Namakwaland en dan, die mense self. (...) Wat Van Niekerk vertel, is heerlik, dis eg, warm menslike dinge, die klein dingetjies wat die lewe die moeite werk maak – die verhoudings tussen mense, tussen mens en dier en aarde. Maar dit is veral sy styl wat ek so verkwikkend gevind het. So glad en 'gewoon' vertel hy, sonder enige opsmuk of gedwongenheid, eg en suiwer en met oortuiging. Maar die vertellings is ook nie gewoon in die sin van die alledaagse nie. Sy styl dra sy eie besondere kenmerke; dit gee alles weer van die eenvoud en opregtheid en ongekunsteldheid van die Noordweste en sy mense. En sy weergawe van die Noordwesters se manier van praat, is onoortreflik weergegee. Ek het Die soutryers geniet omdat die boek so sonder pretensies geskryf is; omdat inhoud en styl mekaar so mooi gevind het." (Anna van Zyl, Volksblad, 6 Mei 1964)
  • Storie-konsertina: humoristiese verhale: ’n keur (1993): "Die skrywer het sedert sy debuut met Die soutryers in 1964 in boek na boek dit reggekry om alle soorte mense (van gesoute literatore tot suurknolle en gal-lyers) te laat glimlag, grinnik, gryns, skater, bulder en styfskop van lagstuipe. So besing die samesteller Daniel Hugo die lof van dié meer as sestig sketse. (...) Want Storie-konsertina is werklik snaaks, sonder om laf te wees. Dit is soms ’n lag deur die huiltrane heen omdat Van Niekerk die uiterstes van humor ken, én al die skakeringe tussenin. Hy kén die kuns om ’n storie of grap te konsertina (uit te rek?) sonder om jou te verveel of die deuntjie te verloor. (...) Van Niekerk se ware kontrei is die hartland van Afrikaans. Dáár praat die mense reguit. Wat op die oor af na pure vermaak klink, is in der waarheid ook bewaringswerk. Maar die stories in dié boek is alles behalwe museumstukke. Die vreugde en verdriet van dié mense spreek tot elkeen wat uitgelewer is aan die hart en sy streke." (André du Plessis, Beeld, 3 Januarie 1994)
  • Die tierslagyster (1994): "Dis ’n belewenis om die onlangs oorlede AAJ van Niekerk se stories te lees in die vertel-Afrikaans van die Noordwes-Kaap. Die taalgebruik is een van die lekkerkry aspekte van die boek. (...) Die skrywer/verteller van Die tierslagyster se deernis met die relatiewe onskuld van die mense van die Noordweste, en die verlies daarvan, is die hoogtepunt van hierdie bundel stories. (...) Die boek is ongelukkig nie sonder foute nie. Nie al die stories is van dieselfde gehalte nie, en dit sluit ook die titelverhaal in. Al moet ’n mens in ag neem dat hierdie vertellings is, en dus so na as moontlik aan die oorspronklike aangebied moet word, sou die leeservaring nóg lekkerder kon wees ná ’n bietjie skaafwerk. Potensiële lesers moet ook nie afgeskrik word deur die (vreeslike sexy!) 'tierslagyster' op die voorblad nie. Sy verteenwoordig, myns insiens, nie die hart van hierdie bundel vertellings nie. Binne-in die bundel klop die hart van ’n groot verteller. Ons gaan hom mis. Gelukkig lewe sy stories voort." (Izak de Vries, Die Burger, 15 Junie 1994)
  • Verlange is verniet (1981): "Met die lees van hierdie keur uit die sketse/vertellings/kortverhale van AAJ van Niekerk loop ’n mens se gedagtes die ver pad langs – na tye en mense van vanslewe se dae; na gebruike en gebeurtenisse wat op sigself reeds geskiedenis begin word; na ’n nostalgiese era van eenvoudige maar blywende waardes; van humor uit ’n jongtyd en van ’n ongekompliseerde gemeenskap in ’n vrye landskap. Hierdie vertellings en verhale (dit is moeilik om hulle in een genre te probeer vasvat) het iets van die fantasie wat in 'Klipwerk' so magies bewoord word: ek dra die blou steen in die hand/ hy vat my hart na anderland. In hierdie effek van die Van Niekerk-vertellings lê vir my hulle besondere bate. Oor al die goeie hoedanighede van dié kontrei-skrywer (sy afwisseling van onderwerp en styl, die wisselspel tussen humor en erns, die subtiele moralisering, die gevoelige beskrywing van natuurverskynsels, die genuanseerde stemminge wat hy skep en die boeiende en suiwer taalgebruik, insluitend die streektaal van Namakwaland en Boesmanland) word uitvoerig en indringend uitgewei deur AP Grové in sy oorsigtelike inleidende opstel. Trouens, dié opstel kan as ’n werklik goeie studiestuk oor Van Niekerk se werk beskou word. (...) Verlange is verniet is ’n veelseggende titel. Maar hierdie verlange, soos bewoord in die beste werk van AAJ van Niekerk, word tog die blou steen wat die mens dra na die anderland van menslike begrip, en na die anderland van gebondenheid aan hierdie aarde, ’n gebondenheid waarvan ’n baie groot geslag Suid-Afrikaners hulle genadiglik nooit sal kan bevry nie." (Henning Snyman, Die Burger, 11 Junie 1981)
  • Vir ’n oulap en ’n bokstert (1990: "Alhoewel die resep en die styl bekend is, boei hierdie bundel met sy 31 vertellings opnuut. Van Niekerk is steeds 'n onderhoudende storieverteller. Sy stories praat met die taal van die Sandveld, die Richtersveld en Namakwaland – die Noordwesterse omtes. Die dialoog oortuig omdat dit sonder die tierlantyntjies van 'n soort 'uitvoerproduk' van dié geweste aangebied word. Volksvertellinge kom uit die volksmond. En die volksmond is, soos Van Wyk Louw al ten opsigte van sy 'Klipwerk'-gedigte uitgewys het, nie aldag met seepsoda uitgespoel nie. Vir die eerste keer, na my wete, kry 'n mens hier die onbedorwe weergawe van wat daar uit verontwaardigde, moedswillige en onbewaakte monde voortvloei. (...) Van Niekerk erken in sy voorwoord dat baie van hierdie verhale al vantevore vertel is. Daarteen kan 'n mens geen beswaar hê nie. Volkskuns is nou eenmaal optelgoed en daarom allemansgoed. Met sy optekening daarvan gee hy 'definitiewe' en 'outentieke' weergawe van verhale met talle variante. Of die volksvertellers hulle aan hierdie kanonisering gaan steur, moet nog gesien word! Van Niekerk bestendig nietemin ’n deel van ’n orale tradisie wat deesdae al te verskraal geraak het. Dat die skrywer met ’n bietjie meer moeite volwaardige kortverhale uit sy stof sou kon haal, blyk uit vertellings soos 'Dis nou ’n troos', 'Die Luikerskoppers' en 'Your Inspector'. Maar dit was nie die doel van hierdie 'oulappe' en 'boksterte' nie. Hierdie vertellings is soos die ou munte waarna die titel verwys: blinkgeslyt, maar steeds waardevol." (Riana Scheepers, Die Burger, 9 April 1991)

Die aand van 19 April 1994 is Abie van Niekerk onverwags aan hartversaking oorlede. Hy het sy vrou Marita, twee seuns en ’n dogter agtergelaat. JC Kannemeyer het hom in sy literatuurgeskiedenis beskryf as "die produktiefste skrywer van sketse en vertellings uit die Noordweste".

In sy huldeblyk in Die Burger van 23 April 1994 skryf Wium van Zyl dat AAJ van Niekerk ’n skrywer met ’n "beskeie styl sonder aanstellery [was], ’n ramkiespeler wat die subtielste nuanses van sy streek kon laat hoor vir dié wat ore daarvoor het. (...)

"Hoewel sy bundels meesal ’n mengsel bevat van verhale en sketse, het hy gereeld bewys dat hy op sy beste ’n geraffineerde prosaïs is wat ’n kortverhaal uitstekend kon komponeer. En het hy ook die waardering van fynproewers afgedwing. AP Grové skryf byvoorbeeld na aanleiding van sy verhaal 'Die bruidskat': 'Om so te skryf, so indringend en suiwer – dit wil gedoen wees.' (...)

"Min kon soos hy vertel van die alleenmense in ’n onmeetlike landskap. (...) Maar sy werk bied ook landskappe waar ’n glimlag so skielik kan uitvlieg soos ’n swerm kelkiewyne en ’n skaterlag kan losbars soos ’n reënbui met die omsit van die wind. Nog in Oktober 1993 het hy gesorg dat ’n versamelbundel van sy humoristiese verhale, Storie-konsertina, bekend gestel word waar dit hoort – in die vrolikheid van die Springbok-kafee.

"Die rit daarheen oor die Knersvlakte saam met hom, Ronnie Belcher en Fred Mouton behoort nou vir my tot van my kosbaarste herinneringe. Oral onderweg kon hy bakens uit sy stories aanwys, vertel van taaleienaardighede en eiesoortige gebruike.

"Die moontlike AAJ van Niekerk-toer waaroor ons tussendeur sit en praat het, sal nou nooit meer kan plaasvind nie. Die boorling van Koebees in die Voor-Boesmanland, die beskeie baasgeselser, het sy laaste storie vertel."

In sy huldeblyk in Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1995, skryf Daniel Hugo dat hy Abie van Niekerk se verhale begin lees het eers toe Abie hom gevra het om ’n bloemlesing uit sy humoristiese verhale saam te stel. Dit was tóé dat Hugo besef het hoe veelsydig Abie as skrywer was. "Baie veelsydiger as wat die geykte verwagtings toelaat wat ’n mens van ’n sogenaamde kontreiskrywer het. Abie wás nogal ongemaklik oor dié etiket. Maar die probleem lê nie by die benaming 'kontreiskrywer' nie, wel by dit wat daarmee verbind word."

Vir Hugo was AP Grové se stelling in Verlange is verniet se inleiding dat die kontreikuns minder gekompliseerd is, omdat die skrywer net oor een streek skryf en dus oor ’n meer beperkte waarnemingsveld beskik. Hugo gaan voort: "Dit is louter onsin: AAJ van Niekerk se werk sit vol gesofistikeerde ironie en sielkundige kinkels. (...) Maar dit is veral die wye register van Abie van Niekerk se humorsin wat my beïndruk het. (...)

"Samevattend sou ’n mens kon sê daar is plaasstories, winkelstories, skoolstories, diamantstories, eetstories, drinkstories, vrystories, jagstories, motorstories, treinstories, liegstories, oorlogstories, slangstories, swaarkrystories en sommer net lekkerstories. Ek het ’n groot bewondering vir AAJ van Niekerk as skrywer. Wat op die oog en die oor af na pure vermaak klink, is inderwaarheid ook bewaringswerk. Selfs die redelik geïsoleerde en afgeleë Noordweste is besig om vanweë sy toenemende kontak met die moderne 'beskawing', sy unieke karakter te verloor. Van Niekerk het ’n groot deel daarvan in sy skryfwerk verewig. Geen wonder dat die einste televisie hom as ’n gesaghebbende bron gebruik het vir hulle reeks oor Namakwaland nie. Selfs die groot gelykmaker het soms behoefte aan die anderssoortige en ongekunstelde egtheid. In Abie van Niekerk se geval is die woord 'kontreiskrywer' ’n erenaam."

Publikasies:

Publikasie

Tasál van die grasvlaktes

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1979

ISBN

0798603631 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Snippie

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1980

ISBN

0798603798 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Slim Herklaas Haas

Publikasiedatum

  • 1962

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

  • Kinderverhale
  • Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die soutryers en ander vertellinge

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1966
  • 1983
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0907993060 (hb)
  • 0868125970 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kelkiewyn en koggelaar

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1972
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 062400290X
  • 0868126160 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kontreiverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Optelgoed: Diamantsmokkelstories uit die Noordweste

Publikasiedatum

  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Reijger

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Piet Piekelaai

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Kinderpers

Literêre vorm

Kinderrympies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Twee maal elf is twaalf: vier-en-veertig volksrympies. Saamgestel deur AAJ van Niekerk

Publikasiedatum

  • 1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Romanticapers

Literêre vorm

Volksrympies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Bittergousblom

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

  • 0624005259 (hb)
  • 0868125962 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die wit perd van Calvinia

Publikasiedatum

  • 1975

ISBN

0624006883

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Herneuter

Publikasiedatum

  • 1975

ISBN

0624007413 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bennie gaan jag

Publikasiedatum

  • 1976

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Rondom die skoolklok

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1995
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 0624008940 (hb)
  • 0868126217 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Veldvolkverhale

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1982

ISBN

  • 0624008932 (hb)
  • 0624016781 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die langtreeskoene

Publikasiedatum

  • 1978

ISBN

0624010627 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kanoneiland 1928–1978

Publikasiedatum

1978

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kanoneiland: Feeskomitee

Literêre vorm

Herdenkalbum

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

  

Publikasie

Op pad na Port Jollie

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1990
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

  • 0798603682 (hb)
  • 086812589X (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: HAUM
  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Soos twee windswaels

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0798603690 (hb)
  • 0868126225 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: HAUM
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Slim Hansie Haas (oorspronklikuitgegee as Slim Herklaas Haas)

Publikasiedatum

  • 1979

ISBN

079860364X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

  • Kinderverhale
  • Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertaling 1980 Clever Robby Rabbit

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kallie Kraai gaan boer

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

0620045884 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

  • Kinderverhale
  • Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Frikkie Vlooi

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

0620045922 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

In Engels uitgegee

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mmutlanyana ya bohale

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

0798606568 (hb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Kinderverhale (Sesotho)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Senings en sy maats

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

0620045876 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Barrydale 1880–1981

Publikasiedatum

1981

ISBN

(hb)

Uitgewer

Barrydale: Feeskomitee

Literêre vorm

Herdenkalbum

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Namakwaland: Dorsland in die blom

Publikasiedatum

1981

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Don Nelson

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

In Engels uitgegee

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die ring om die maan

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0907993095 (hb)
  • 0868126098 (sb)

Uitgewer

  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kerf ’n stokkie

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

0907993117 (hb)

Uitgewer

  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

As die skoolklok lui

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0907993087 (hb)
  • 0868126209 (sb)

Uitgewer

  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hasie se huisie

Publikasiedatum

  • 1981

ISBN

0907993060 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

  • Kinderverhale
  • Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die klipsweet sit aan my voetsool vas

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1982

ISBN

0907993095 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Slim Japie Jakkals

Publikasiedatum

  • 1981

ISBN

0907993079

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

  • Kinderverhale
  • Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verlange is verniet.Keur saamgestel deur AP Grové

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1984

ISBN

  • 0624014932 (hb)
  • 0624021041 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die vloeksteen

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0907993044 (hb)
  • 0868126179 (sb)

Uitgewer

  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kloutjie by die oor: lekkerleesstories.Uitgesoek uit die skryfwerk van AAJ van Niekerkdeur Eugène Prinsloo

Publikasiedatum

  • 1988

ISBN

0907993249 (sb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vir ’n oulap en ’n bokstert

Publikasiedatum

  • 1990
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

  • 0907993273 (hb)
  • 0868125814 (sb)

Uitgewer

  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Storie-konsertina: humoristiese verhale: ’n keur. Saamgestel deur Daniel Hugo

Publikasiedatum

  • 1993

ISBN

0907993338 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

Kontreikuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boetie van die Boesmanland

Publikasiedatum

  • 1993
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 090799332X (hb)
  • 0868126187 (sb)

Uitgewer

  • Durbanville: Klipbok
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Sketse outobiografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die tierslagyster

Publikasiedatum

  • 1994

ISBN

0907993362 (hb)

Uitgewer

Durbanville: Klipbok

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

AAJ van Niekerk as vertaler:

  • Suttner, Hermione: Die bontborsboesmantjie: die verhaal van Frans Waters. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978 [ISBN 0798108711 (hb)]

Artikels oor en deur AAJ van Niekerk beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top