A Separation
Regisseur: Asghar Farhadi
Rolverdeling: Leila Hatami, Peyman Moaadi, Sareh Bayat

Ek is dankbaar dat ons gewoonlik die Oscar-wenner vir beste buitelandse film te sien kry, want dis feitlik sonder uitsondering die moeite werd. Vanjaar is dit hierdie Iranese film – nie die maklikste kykstof nie, maar dis glashelder waarom dit as wenner aangewys is.
Die storie kan baie kort opgesom word: ’n Egpaar staan op skei weens onoorkombare verskille. Die vrou (Leila Hatami) wil emigreer en het die afgelope agtien maande hemel en aarde beweeg om vir hulle die nodige dokumente te kry. Wanneer hulle vertrek op hande is, weier die man (Peyman Moaadi) om te gaan. Hy wil nie sy pa, wat alzheimersiekte het en by hulle woon, agterlaat nie. Hul twaalfjarige dogter sê sy wil by haar pa bly, en die vrou wil nie haar kind agterlaat nie.
Rondom hierdie gegewe ontwikkel ’n intrige wat vir ’n lang tyd in hierdie stadige film voel asof dit net om en om in sirkels beweeg, maar die einde trek alles saam en laat jou eensklaps verstaan waarmee die regisseur besig was. Daar word feitlik nooit na die politieke of godsdienstige konflik in Iran verwys nie, maar die verhaal word ’n volledige metafoor van die probleme van hierdie gekwelde land. Michael Haneke het dieselfde gedoen met The White Ribbon, hoewel dit veel meer gesofistikeerd geklee is as ’n kunsfilm.
Ernstige fliekkykers sal beloon word deur hierdie een.

